BlogsOpinion

Stiltetyd

Die voorreg om kinders van God genoem te word...

Wat is ’n naam, het Shakespeare eenkeer vra. “What’s in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet”.

Die essensie van iemand of iets bly ongeag by watter naam dit genoem word. Mens kan egter jou naam weggooi of jou goeie naam gestand doen.

In Bybelse tye en sekere kulture vandag nog, is ’n naam meer as net ’n naam. Dit het beteken dat jy geassosieer is met iemand, daarom was seuns in Bybelse tye dikwels iets genoem soos Ben-Hadad, seun van Hadad.
Christene het die voorreg om kinders van God genoem te word, sê Johannes in 1 Johannes 3:1. Dis nie sommer maar net ’n naam nie.

Van nature is ons kinders van Adam en deel ons in die sondeval en sy gevolge. Uit genade is ons kinders van God. Deur die Heilige Gees het ons die voorreg om God ons Vader en Jesus ons oudste broer en Verlosser te noem.
En tog, sê Johannes is daar meer. Ons is nou kinders van God, maar wanneer Jesus terugkeer sal ons soos Jesus wees en ons sal Hom sien soos Hy is.

Dis woorde hierdie wat op mens se gemoed ’n indruk laat. Alle mense is na die beeld van God geskep, maar vanweë die sondeval is daardie beeld geskend.

Maar daar sal ’n dag kom met die wederkoms dat God se kinders soos Jesus sal wees en Hom sal sien soos Hy is.
Ja, ons aard na Jesus Christus. Ons word intussen al meer deur die Gees verander om aan die beeld van Jesus gelyk te word, leer 2 Kor. 3:18.

Maar op die groot dag van die Here sal ons soos Hy wees, in liefde, heiligheid, geregtigheid, deernis. Die gelowige se selfbeeld berus op die feit dat God ons só liefhet dat Hy ons sy kinders gemaak het.

Ons is nou reeds sy kinders en hoef nie te wag tot by Jesus se terugkeer nie. Dié oortuiging motiveer ons om te lewe soos Jesus geleef het.

Daar is ‘n spreekwoord wat lui: “Aartjie na sy vaartjie.” Mag ander buite of ook binne die kring van die Christendom jou herken as volgeling van Christus.

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button