Iemand het eendag gesê: “Alles verander in die lewe. ’n Mens kan van niks seker wees nie, behalwe die dood.” Wanneer ’n mens na die wêreld om jou kyk, na ekonomieë wat wankel, huwelike wat verbrokkel, globale konflik, dan voel jy om saam te stem dat ons meermale ons lewens op onsekerhede bou. Vir die gelowige bestaan daar volgens Johannes egter ’n ander werklikheid. ’n Kind van die Here kan seker wees van die belangrikste dinge in sy lewe-dinge wat nooit sal verander nie omdat God nie verander nie.
Johannes 5:12 leer wie die Seun het, het die lewe. Wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dis hierdie tema van sekerheid wat dwarsdeur Johannes se brief loop. Johannes gebruik die woord weet 39 keer in die Johannes-briewe. Dis asof Johannes sy brief wil afsluit deur die gelowiges weereens daaraan te herinner dat hulle sekere dinge vir seker kan weet.
Die gelowige kan seker wees dat hy/sy die ewige lewe het. Die Jode het ’n mooi beskrywing vir die ewige lewe gehad: die lewe van die toekomstige eeu. Daarmee het hulle verwys na die kwaliteit van lewe wat ons sal hê wanneer ons eendag by God in Sy koninkryk is. En dis hierdie soort lewe waarvan Johannes kom sê: Julle kan seker wees dat julle hierdie lewe nou het. Die ewige lewe is m.a.w. iets wat God reeds in die verlede aan ons gegee het.
Dis ’n genadegawe van God (Joh. 3:16). Die doel van sy hele brief, sê Johannes, is om gelowiges te verseker dat hulle die ewige lewe het. In Jesus Christus. Wie sy lewe deur geloof in die hande van Jesus toevertrou, het die ewige lewe hier en nou. Vir hom word die lewe van die toekomstige eeu reeds hier op aarde ’n werklikheid. So beloof God self. Wat ’n troosvolle woord vir die gelowige wat lewe in ’n tyd waarin alles wissel. Elkeen wat in die Seun glo het die ewige lewe, jy ook. Dis natuurlik meer as net ’n saak van die verstand. Dis ’n diepe geloofsverhouding waarin en waaruit die gelowige lewe. Staan dan vas, al wissel als om jou.
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
