BlogsOpinion

Die Sharks is eenvoudig te goed om die hele seisoen te misluk

Omdat dit redelik stil was, is daar nie veel te rapporteer oor die onderwerp van gesprekke nie, behalwe dat daar gereelde verwysings was na die vertonings van ons Sharks-rugbyspan.

Dit was maar ‘n redelike stil week hier in die Watergat. Tipies van die laaste twee weke in Januarie wanneer die Kersfees-uitgawes hul negatiewe invloed laat geld. Dis duidelik wanneer ‘n gereelde besoeker skielik van whisky of brandewyn oorslaan na bier, en pleks van ‘n Watergat-burger vra vir ‘n bord aartappel-skyfies, sout en asyn. Nietemin, Februarie is nie ver nie, en na Januarie se betaaldag gaan dinge gewoonlik baie beter. Vanjaar behoort nie ‘n uitsondering te wees nie.

Omdat dit redelik stil was, is daar nie veel te rapporteer oor die onderwerp van gesprekke nie, behalwe dat daar gereelde verwysings was na die vertonings van ons Sharks-rugbyspan. Die blydskap was groot oor verlede naweek se oorwinning oor Cardiff in die Verenigde Rugbykampioenskap na die vorige week se reuse-neerlaag teen Bordeaux. Presies wat John Plumtree na die groot nederlaag gesê het, is bewaarheid. Naamlik dat nederlae soos 66-12 gebeur wanneer spelers die hele jaar moet speel, en beserings hul tol eis. ‘Ons kan nie geldig beoordeel word nie wanneer 18 van ons spelers nie vir ‘n wedstryd beskikbaar is nie’, was sy kommentaar. ‘Maar ons sal terugkom wanneer meer spelers beskikbaar is.’ Wat presies toe in verlede naweek se wedstryd gebeur het. Dis belangrik om te besef die Sharks was verlede jaar in ‘n soortgelyke situasie. Hulle was onder aan die VRK-punteleer, en het die verleentheid ervaar om te verloor teen Zebre, wat geeneen van hul 28 voorafgaande wedstryde kon wen nie. Toe die Sharks se spelers in die Springbokspan egter terugkeer en die lys van beserings verklein het, het hulle die Uitdaag- en die Curriebeker gewen. Ek stem saam met Plumtree. Die Sharks het net te veel talent om nie baie beter te doen soos die kompetisies vorder nie.

Die Stormers en die Lions het weer laagtepunte beleef, en dis veral die Lions wat teleurgestel het. Die Lions het te veel foute gemaak, maar het die Bulle goed in toom gehou tot so 15 minute voor die einde, toe die Pretorianers se voorspelers beheer oorgeneem het. Ek wonder of daar nie dalk probleme met die Lions se afrigting is nie. Vra maar net.

Ons loopstorie kom van Jan de Necker van Hibberdene: ‘n Kunstenaar vra ‘n galery-eienaar of daar enige belangstelling was in enige van sy skilderye wat uitgestal word. ‘Daar was, en ek het sowel goeie as slegte nuus vir jou’, antwoord die eienaar. ‘Wat is die goeie nuus?’, vra die kunstenaar. ‘Iemand het navraag gedoen oor die gehalte van jou werk en wou weet of die skilderye na jou dood in waarde sal toeneem’, sê die eienaar. ‘Regtig?’ ‘Ja, en toe ek vir hom sê dit sal beslis gebeur, het hy al dertig van hulle gekoop’. ‘Sjoe, dis fantastiese nuus’, verklaar die kunstenaar. ‘Wat is dan die slegte nuus?’ ‘Die beller is jou dokter’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button