Waarna sien jy uit en wat is jou verwagting van die toekoms? Daar loop mense rond wat opgegee het met hulself en met die lewe. Hulle het niks om voor te leef nie en niks om voor te sterf nie. My ouma was nogal positief. Sy het altyd gewag dat haar skip moet inkom. Dis so bietjie tong in die kies gestel. Tog is Christene nie mense wat wag op hul skip wat inkom nie. Hulle het ’n lewende verwagting. Hulle verwag Iemand. Hulle verwag die terugkeer van die Here Jesus Christus in die nabye toekoms.
Jesus se terugkeer kom onverwags. Die ou hemel en aarde sal verbrand en tot niet gaan leer die apostel Petrus. ’n Nuwe en volmaakte hemel en aarde sal kom. Miskien het jy nou gemengde gevoelens hieroor. Aan die een kant beleef jy die groot verlange na die erfdeel van ’n perfekte hemel en aarde. Aan die ander kant voel dit weer of jy nooit aan God se eis dat jou lewe vlekkeloos en onberispelik moet wees (2 Petus3:14), sal kan beantwoord nie. Baie mense is om hierdie rede bang vir Jesus se terugkeer.
Nou moet jy jou geloof laat werk! Besef egter altyd: jou vlekkeloosheid en onberispelikheid hang in die eerste plek van Jesus af, wat met sy lewe vir jou sondes betaal het. Elke sonde van jou en my wat glo in Hom, is met sy bloed bedek. Nou ís jy heilig en onberispelik voor God (Ef 5:25–27). Dis die Christen se status voor God. As jy hierdie feit in die geloof aanvaar, sal jy altyd vrede met God beleef.
Uit dankbaarheid vir wat Jesus gedoen het, sit jy egter nie stil nie. Jy begin nou om deur die krag van die Heilige Gees al hoe meer vroom en aan God toegewy te leef en te word wat Jesus jou gemaak het (2 Petrus 3:11). Daar is eenmaal vir Maarten Luther gevra wat hy sou doen as hy hoor dat Jesus môre terugkom. Sy antwoord was dat hy vandag ’n appelboom sou plant. Christene mag nie passief wees nie. Dien die Here deur vandag te doen wat jou hand vind om te doen. Leef met verwagting.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
