Daar kom tye wanneer ’n rubriekskrywer soos die uwe ’n sekere onderwerp lank genoeg vermy het, maar dat dit weens om verwikkelinge so nuuswaardig en prominent word, en dit nie meer vermy kan word nie. Soos die doen en late van president Trump van Amerika, en meer spesifiek die onlangse rol van Afriforum en sy filiale in verhoogde spanning tussen Suid-Afrika en die VSA. Die verkiesing van Donald Trump het reeds soveel verdeeldheid wêreldwyd, in Amerika self en ook hier in Suid-Afrika, veroorsaak dat enige mening hieroor vir seker op ’n konfrontasie uitloop en mens sien dit daagliks op veral die sosiale media hoe die Trump-aanhangers en diegene wat hom nie kan verdra nie, mekaar skel en slegsê, soms in die kruuste taal. Daarom vertrou ek die lesers van die Fever sal hierdie inset van my beskou as ’n eerlike mening wat nie bedoel is om gemoedere op te jaag nie.
Laat ek terstond my belange verklaar. Ek is ’n lid van Afriforum, gee ’n maandelikse bydrae, want ek het groot agting en waardering vir die goeie werk wat Afriforum, tesame met die vakbond Solidariteit en die hulp-organisasie Helpende Hand doen. Wat hierdie mense reeds vermag het om veral Afrikaanssprekendes, maar nie net hulle nie, op verskeie terreine en maniere te help, is geloofwaardig, en moet daarvoor geëer word. Terselfdertyd moet ek verklaar ek hou nie van President Trump nie, nie omdat ek nie met van sy beleidsrigtings saamstem nie, maar oor wat ek beskou as sy totaal onaanvaarbare persona.
President Trump het onlangs gedreig om ernstige sanksies en strafmaatreëls teen Suid-Afrika in te stel weens onder meer die ANC se wetgewing oor grond-onteiening sonder vergoeding, die plaasmoorde in Suid-Afrika. Die rol wat Afriforum in die proses gespeel het is ter sake.
Die uwe bejeën die plaasmoorde in Suid-Afrika met weersin, en is gekant teen die willekeurige onteiening van grond sonder vergoeding. Wat ek ook weet, is dat daar geen bewyse is dat plaasmoorde doelbewus so beplan word as ’n veldtog teen die boere-gemeenskap nie, verskeie navorsingsprojekte het dit bewys, dat die onteieningswet, volgens kenners, voldoen aan die vereistes van die grondwet en nie bedoel is om mense se grond of besittings ‘af te vat’ nie, maar wel om onder meer onbenutte grond te bekom vir projekte soos behuisjng ens. Ek kan nietemin verstaan dat dit groot bekommernis veroorsaak het, veral die woorde ‘sonder vergoeding’, en meen dat die wet in hersiening geneem behoort te word om die land te verseker dat daar nie sinistere bedoelings is nie.
Myns insiens het AfriForum et al, ten spyte van goeie bedoelings, ’n groot oordeelsfout begaan om sy insette in Amerika op so ’n manier te doen dat dit teenproduktief geword het. Dit is onteenseglik waar dat die ANC die enigste oorsaak van die gemors is waarin die land verkeer. Dis reg dat daarteen geprotesteer word. Die insette in Amerika het egter die persepsie laat ontstaan dat AfriForum en sy filiale die deurslag gegee het om president Trump se straf-aksies te aktiveer. Veral die by ANC. Hoe op aarde kan daar verwag word dat die ANC sy rasgedrewe optredes gaan laat vaar wanneer hy dink dis die gevolg van agitasie in die buiteland deur Afrikaners, diè bevolkingsgroep wat primer verantwoordelik was vir apartheid, die beleid wat hulle so haat?
Dit kan beskou word as ’n vorm van sedisie of hoogverraad, en is ’n gerieflike stok om die Afrikaner mee by te kom. Indien president Ramaphosa enige toegewing sou doen in reaksie op president Trump se eise, loop hy mos die gevaar dat hy steun in sy eie party aan die populistiese faksie, maar belangriker, die EFF en MK gaan verloor? Wat hy, en die land nie kan bekostig nie?
Daarom dink ek Afriforum se optrede was ’n strategiese fout, en kry die indruk van sy senior mense besef dit self, veral omdat daar nou afvaardigings Amerika toe gestuur gaan word om die saak te beredder. Veral president Trump se aanbod dat Suid-Afrikaners om vlugtelingstatus kan aansoek doen en hulle in Amerika kan vestig het uiteenlopende menings tot gevolg. Afriforum sê ‘ons bly hier’, maar daar is ander Afrikaners wat dit oorweeg.
Die leier van AfriForum, Kallie Kriel, het aangekondig sy beweging gaan aan die Trump-administrasie skryf en vra dat net ANC-leiers gestraf word, en nie die mense van Suid-Afrika nie. Flip Buys van Solidariteit se reaksie was dat die Solidariteit-vakbond die Trump-administrasie versoek om druk op die ANC se beleidsrigtings te plaas, maar nie gewone Suid-Afrikaners straf deur maatreëls wat groter werkloosheid veroorsaak of die weerloses benadeel nie. Dit wys vir my hulle besef skadebeheer moet nou gedoen word.
Die reeds bestaande verdeeldheid in Afrikanergeledere het egter vererger, soos bewys op die sosiale media waar die twee kante mekaar beledig. Hierdie saak het baie meer elemente, ook tersaaklike oorsake en gevolge as waarvoor hier ruimte vir bespreking is. Ongeag ’n mens se eie mening, kan bloot gehoop word dat koelkoppe sal seëvier. So-nie, sink ons almal saam in dieselfde bootjie. Ongeag van wie die gat in die romp geslaan het.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
