BlogsOpinion

Suid-Afrika se lugmag nou net lug

Die onlangse gebeure in die Demokratiese Republiek van die Kongo het die kollig laat val op die totale ontoereikende en swak-toegeruste Suid-Afrikaanse weermag.

Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners besef teen hierdie tyd die ANC-regering het Suid-Afrika die afgelope amper 31 jaar in die grond in regeer. Dis nie meer nuus nie, die party besef dit self, en probeer herstel na ‘n verwoestende verkiesings-uitslag verlede jaar. Ons besef net nie altyd hoe erg dit is nie, en word periodiek daaraan herinner wanneer nuwe inligting bekom word of die een of ander gebeurtenis plaasvind.

Die onlangse gebeure in die Demokratiese Republiek van die Kongo het die kollig laat val op die totale ontoereikende en swak-toegeruste Suid-Afrikaanse weermag. Die uwe, en vir seker duisende ander Suid-Afrikaners, was egter geskok toe syfers vandeesweek bekend geraak het oor die toestand van ons lugmag, en verwante verdedigingsake. Media 24 se Sikonathi Mantshantsha se berig bevat verstommende inligting. Slegs ses van die 330 lugmagvliegtuie is in ‘n werkende toestand. Die Suid-Afrikaanse Lugmag het slegs twee vegvliegtuie, een helikopter en drie opleidings-vegvliegtuie wat lugwaardig is.

Meer as 330 vegvliegtuie, helikopters en vliegtuie wat onder meer gebruik is om gewonde soldate te vervoer, staan jare lank al en wag op onderdele en herstelwerk. Dit beteken soldate op gevegsendings het geen lugsteun nie, en die land se lugruim kan nie verdedig word nie. Thando Modise, die destydse minister van verdediging, het onlangs in die parlement op ’n vraag van die DA se Kobus Marais erken 330 vliegtuie nie kan vlieg nie weens ’n gebrek aan geld vir versiening en onderdele. In daardie stadium het die Lugmag 388 vliegtuie gehad, insluitend vier sakestralers wat gereserveer was vir ‘baie belangrike mense’. Vandag is die lugmag gereduseer tot ‘n militêr-betekenislose organisasie wat bloot die president en ander regerings-amptenare met die sakestralers vervoer. Daar is geen gevegsvermoë meer nie.

Die huidige operasionele militêre komponent bestaan uit ’n enkele Oryx-helikopter wat aan die einde van Februarie weer diensbaar was, twee Gripen-vegvliegtuie en drie Hawk-opleidingsvegvliegtuie. News 24 berig voorts die Gripens is die laaste oorlewendes van die 26 wat gekoop is ingevolge die omstrede wapen-transaksie van 1999. Die res is reeds tien jaar lank nie meer lugwaardig nie. Die drie Hawk-opleidingsvliegtuie is ook die laaste oorblywendes van die 24 wat deel was van die 1999-transaksie. Vier-en-twintig Augusta Westland-helikopters is ook destyds aangekoop.

Almal is reeds langer as 10 jaar buite werking. Die Westlands is aangekoop as steun vir die Suid-Afrikaanse Vloot met reddingswerk en seepatrollies. Media 24 het navraag gedoen by die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weermag, Siphiwe Dlamini, wat verklaar het fynere besonderhede kan nie verskaf word nie weens veiligheidsredes, maar, het hy gesê, dis algemeen bekend dat die Lugmag ‘talle uitdagings’ ervaar ivm. die instandhouding van sy vliegtuie. Hy het bygevoeg alles wat moontlik is, word gedoen om die vliegtuie geleidelik weer diensbaar te maak,

Die BBP-eskader het soortgelyke probleme. In November het die Burgerlugvaart-organisasie die presidensiële straler Inkwazi verbied om te vlieg weens onvoltooide ‘papierwerk’ ivm. met die kooptransaksie in 2002. Kort nadat die vliegtuig vroeg in Februarie weer begin vlieg het, is die toestemming nogeens teruggetrek. Dit het meegebring president Ramaphosa moes met ’n kommersiële vlug reis, en het ’n kabinetsvergadering op die oggend van die geskeduleerde begrotingsrede misgeloop.

Die DA se gewese skaduminister van verdediging, mnr. Kobus Marais, het aan Media 24 gesê die weermag kan die land nie meer verdedig nie. Die toerusting het totaal ten gronde gegaan. Daar is effektief geen Lugmag en Vloot meer nie. Betroubare bronne het ook laat blyk tydens die gevegte in Sake en Goma in die DRK, toe 14 Suid-Afrikaanse soldate gesneuwel het, was daar geen lugsteun nie. Die weermag moes staatmaak op die Kongolese lugmag.

Nog relevante inligting is dat twee Rooivalk-aanvalshelikopters twee jaar lank onbruikbaar op die lughawe van Goma was, en in Desember met ’n buiitelandse huurvlug na Waterkloof teruggebring is. Al hierdie inligting weerspreek die huidige minister van verdediging, Angie Motsheka, se versekering dat daar voldoende lugsteun in die DRK was. Die Oryx en die Rooivalk-helikopters was sedert Suid-Afrika in 2003 in die DRK betrokke geraak het, die ruggraat van die Suid-Afrikaanse betrokkenheid by die vredesending in die DRK. Geeneen van hulle was egter die afgelope twee jaar diensbaar nie.

Die verdedigingskenner, Helmoed-Römer Heitman, wys daarop die M23-rebelle het gesofistikeerde wapens uit Rwanda bekom, onder meer lugafweer-missiele en anti-radartoestelle, wat bv. deur die Rooivalk-helikopters met hul geleide Mokopa-missiel, wat ‘n trefwydte van 12 kilometer het, verwoes kon word. ‘Al is jou soldate hoe goed, sonder lugsteun is jy ’n maklike teiken.’ Volgens Heitman is Suid-Afrika militêr, polities en op diplomatieke gebied verslaan. Nog ’n kenner het daarop gewys ná ’n veldslag word die gewondes so gou moontlik afgevoer. In die DRK moes die gewondes drie weke by die basis in Goma wag, omring deur die vyand, en die gesneuweldes se oorskot het eers twee weke later in Pretoria aangekom.

Daar is nog verskeie ander relevante inligting in die berig wat daarop dui dat Suid-Afrika feitlik geen militêre vermoë hoegenaamd meer het nie. Boonop geen teken dat die situasie hoegenaamd in die nabye toekoms gaan verander nie.

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button