BlogsOpinion

Is alle joernaliste ‘sleaze bags’?

oernaliste wat bv. politieke kommentaar lewer word dikwels uitgekryt vir alles wat sleg is.

Een van die beroepe in die wêreld wat sedert lank gelede in omstredenheid gehul is, is die joernalistiek. Waarskynlik omdat joernaliste wat hul werk doen, op die tone trap van onder meer mense en organisasies wat geraamtes in die kas het, hul eie agendas najaag, of duistere politieke doelstellings het. Ongelukkig is dit ook waar dat sekere joernaliste die beroep oneer aandoen met agendas van hul eie, maar in my 60 jaar in die beroep, kan ek onomwonde verklaar hulle is by verre in die minderheid. Dis belangrik om te weet dat daar twee nie-produksiekategorieë is: Joernaliste wat verslag doen voor TV-kameras, met radio-mikrofone of in die verskillende geskrewe media. In die ander kategorie is die (gewoonlik meer ervare) joernaliste wat rubrieke skryf, kommentaar lewer op gebeure of redaksionele kommentaar behartig, nav. betrokke medium se redaksionele beleid.

Joernaliste wat bv. politieke kommentaar lewer word dikwels uitgekryt vir alles wat sleg is. Bloot omdat hulle menings uitspreek waarmee die lesers/kykers/luisteraars nie saamstem nie. Die mediums waarvoor hierdie joernaliste werk, word dan summier beledigend afgeskryf. Met die groei van die sg. sosiale media in die moderne digitale era, het talle inligtingsbronne oral in die wêreld ontstaan met hul eie teikenmarkte, politieke en ander oogmerke. Hierdie bronne verskil drasties van die sg. Hoofstroommedia (HSM) in dié sin dat daar by feitlik geeneen van hulle redaksionele reëls bestaan oor bv. die verifiëring van die egtheid van die inligting wat hulle versprei nie.
Van hierdie sosiale mediabronne versprei blatante leuens en onwaarhede om hul agendas te pas. Op dié manier lok hulle mense wat ontevrede is met die sg. HSM, gewoonlik omdat hulle daar nie kry wat hulle wil hoor, lees of sien nie. Hierdie sosiale media het groot gehore, en demoniseer die HSM. Die sosiale media-aanhangers sê gereeld aan die HSM-joernaliste dinge soos ‘julle kan nie meer vir ons vertel wat ons moet glo nie, ons het nou meer betroubare en onmiddellike bronne wat nie deur liberaliste, die een of ander geldmag of politieke mag besit word nie’.

Ongelukkig is dit waar dat daar onder die HSM, mediums is wat joernalistieke beginsels oneer aandoen. Bv. die destydse berigte in Pretoria oor ’n tienling wat nooit gevind is en ooglopend nie gebore is nie. Daar is nog ander voorbeelde, veral onder die sg. poniekoerante in Brittanje, van bedenklike praktyke. Dit beteken egter nie dat die Hoofstroommedia nie steeds die betroubaarste bronne van nuus ter wêreld is nie. Hulle het hul onderskeie redaksionele beleidsbeginsels. Natuurlik sal hulle in kommentare oor belangrike sake verskil. Die belangrikste toets is egter hoe hulle ‘harde nuus’ hanteer.

Die bekende HSM het almal joernalistieke beheermaatreëls wat sorg dat blatante onwaarhede nie verkondig word nie, soos bv. die goue reël dat daar minstens drie betroubare bronne vir kontensieuse inligting moet wees. Soos Bob Woodward en Carl Bernstein destyds met hul onthullings ivm. die Watergate-skandaal toegepas het. Daarom moet joernaliste streef na die ‘beste weergawe van die waarheid’. Oor die objektiwiteit van joernaliste het Woodward en ander bekendes- nuusmense verklaar geen joernalis kan totaal objektief wees nie, weens elkeen se persoonlike ervarings en omstandighede. Die goue reël is dus om jou eie subjektiwiteit eerlik te identifiseer, en dan regverdig en billik verslag te doen.

Die oogmerk van joernaliste is om inligting so akkuraat, deeglik en vinnig as moontlik te versprei sodat hul teikengehore weldeurdagte besluite kan neem oor sake wat hul lewens raak. Dit is ook hul plig om vergrype van verskillende aard in die samelewing te ontbloot en veral politici verantwoordelik te hou vir hul dade, optrede en uitlatings. Dit is presies wat Jeffrey Goldberg, ’n ervare, gerespekteerde joernalis van die tydskrif The Atlantic, wat sedert 1857 bestaan, ’n week gelede gedoen het. Hy het tydens president Trump se vorige ampstermyn onthul dat Trump ’n besoek aan Amerikaanse oorlogsgrafte in Frankryk afgestel het ‘because it is filled with losers’. Trump en van sy senior amptenare het herhaaldelik heftig ontken dat hy dit gesê het. Trump se destydse militêre stafhoof, generaal John Kelly, wat die betrokke dag in Trump se geselskap was, het later in’n TV-onderhoud bevestig dat Trump dit wel gesê het.

Verlede week het Goldberg berig oor ’n ernstige lekkasie van geklassifiseerde operasionele militêre inligting. Hy is per abuis ingesluit in ‘n gesprekgroep op die Signal-kommunikasie-‘app’, en was deel van die groep met verskeie senior regerings-amptenare. Goldberg het nà die militêre operasie, sonder om besonderhede te gee, ’n berig in The Atlantic oor die lekking van geklassifiseerde inligting gepubliseer. Bsies omdat dit groot nuus was, en in die openbare belang.

Daar was onmiddellike ontkennings, onder meer deur die minister van verdediging, Pete Hegseth, wat Goldberg en sy publikasie sleggesê het. President Trump het Goldberg ’n ‘sleaze bag’ genoem. Goldberg het vervolgens meer besonderhede gepubliseer, wat bewys het daar was wel ‘n ernstige lekkasie. Van die amptenare het hieroor voor ‘n ondersoekkomitee meineed gepleeg. Behalwe om te erken dat Goldberg per abuis die inligting gekry het, het Trump en sy amptenare verklaar niemand sal afgedank word nie.

’n Klassieke voorbeeld van ’n ervare joernalis van ’n gerespekteerde publikasie wat bloot sy werk op ’n etiese manier in die openbare belang gedoen het. Daarvoor is hy deur die skuldige partye beledig en uitgekryt is asof hy die een of ander misdaad gepleeg het. Alle joernaliste is nie ‘sleaze bags’ nie. Die ‘sleaze bags’ is dikwels die beledigers self.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button