Wouter se Watergat
Iets wat ek wil vermy, maar nie kan nie, is die skeidsregter se beslissings.
Wat ‘n katastrofe! Verlede week het ons op ‘n euforiese wolk van rugbyplesier rondgesweef. Vandeesweek ploeter ons rond in die moeras van teleurstelling en verwyte.
Ons kon ons oë verlede Saterdag nie glo nie toe die All Blacks in die eerste 20 minute van die tweede toetstwedstryd presies met die Springbokke doen wat ons die vorige weekmet hulle gedoen het. Totaal oorrompel. In die tweede helfte styg ons moed bo ons skoene toe die Springbokke tien minute voor die einde die eerste keer in die wedstryd voorloop. En wat gebeur? Pleks van die bal vashou en besit verseker, skop ons dit in hul hande asof ons wil sê: ‘Vat hom, kyk of julle ‘n drie kan druk’. Wat hulle wel twee keer gedoen het. Het ons die toets in die eerste 20 minute of die laaste tien verloor? Myns insiens laasgenoemde.
Dis nie te sê dat vrae nie gevra moet word nie. Waarom die onervare Joseph Dweba in die beginspan hê as jou haker op die bank in die vorige toets die speler van die wedstryd was? Waarom Duane Vermeulen laat begin in sy eerste wedstryd na maande se herstelproses weens ‘n operasie? Die getalverhouding tussen voor- en agterspelers op die bank kan ook bevraagteken word. As gevolg hiervan was daar na beserings verskeie spelers in die agterlyn in vreemde posisies. So kan ek aangaan. Iets wat ek wil vermy, maar nie kan nie, is die skeidsregter se beslissings. ‘n Goeie voorbeeld is daardie skitterdrie van Lukhanyo Am wat nie toegelaat is nie weens obstruksie. Soos Oom Pottie verklaar het: Obstruksie se g*t, man’. Hy het ook verwys na ‘die olifant in die kleedkamer’. Kwotas. Ek het besluit ek praat nie daaroor nie. Dis ‘n werklikheid waarmee ons moet saamleef.
Ons loopstorie pas by ons gemoedstoestand. ‘n Saggeaarde oom se vrou het hom baie moeite en verdriet sy hele lewe lank gegee, en is oorlede. Grafgrawers het spesiaal plaas toe gekom doer in die Vrystaat by Bethulie, maar die manne het ongelukkig keel natgemaak terwyl hulle gegrawe het. Die ‘levels’ raak alhoe skewer namate hoe natter die kele raak. Die dominee laat die groepie mense om die graf ‘Laat my gaan, laat my gaan, laat my Jesus gadeslaan” sing. Die begrafnis-ondernemer se grafversorgers laat die kis sak. Hy wil nie so lekker sak nie, en haak vas. Die manne trek hom op, en laat hom weer sak. Die kis haak weer vas. Al die verse van die lied is reeds klaar gesing.
Die ou oom kyk die besigheid so. Skielik kry hy lewe. Hy verklaar “jy het my my hele lewe lank moeite gegee, en nou wil jy my vandag weer moeite gee!” Hy trap hard op die kis. Dit skuif af. Hy trap weer en skielik breek alles los en die kis stort na benede. Dit land met ‘n harde plofgeluid op die bodem. Gelukkig nog heel. Die dominee is asvaal geskrik. Hy laat almal sommer weer ‘Laat my gaan, laat my gaan” sing. Die ou oom kyk egter in die verte in en geen geluid kom oor sy lippe nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
