Wouter se Watergat
Maar kom ons laat dit daar. Weg met die swartgalligheid. Sowel die Bokke as die Proteas gaan die komende naweek hul wedstryde wen. Dan praat ons weer.
Ek wil nou nie ons lesers irriteer deur op een snaar te tokkel nie, maar dit kan nie anders nie. Die swartgalligheid wat ons verlede naweek van voor af beetgepak het, het net oor die afgelope paar dae vererger. Die Bokke se patetiese vertoning in Australië het ons sportmal-land geskud. Voeg hierby die loesing wat die Proteas in die tweede toets teen Engeland op die lyf geloop het, en die Blitsbokke se geploeter in Los Angeles, en die treurmare is voltooi.
Hier in die Watergat is dit dubbel, nee driekeer so erg, want elkeen wat hier inkom om sy of haar depressie te ‘behandel’, spreek negatiewe en swartgallige menings uit, wat Oom Pottie en ek tot vervelens toe moet aanhoor. Ons het die stadium bereik waar ons op die punt is om vir ons besoekers te sê ‘julle is welkom, mits julle oor enigiets anders praat as ons mislukkings op die sportveld’.
Wat ek gladnie kan kleinkry nie, hoewel ek die frustrasies begryp en verstaan, is die gal wat gebraak word deur mense, veral op die sosiale media, wat die rassesnaar tokkel wanneer ons verloor, maak nie saak watter sportsoort dit is nie. Ja, transformasie speel ‘n rol, maar ons moet dit aanvaar en klaarkry. Dis ‘n werklikheid wat ons sportmense moet bestuur, of ons nou wil of nie. Kom ons wees positief in ons kritiek, en staak die ad hominem beledigings. Nadat ek dit gesê het, kry ek self swaar om nie te begin twyfel aan bv. Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se oordeel en spelervoorkeure nie. Maar kom ons laat dit daar. Weg met die swartgalligheid. Sowel die Bokke as die Proteas gaan die komende naweek hul wedstryde wen. Dan praat ons weer.
Ons ligpuntjie van die week: Bababeer gaan by die trappe af en sit in sy klein stoeltjie by die tafel, en hy kyk na sy klein papbordjie.. “Wie’t my pappies geëet?”, vra hy in ‘n huilerige stemmetjie. Pappabeer kom by die tafel aan en sit in sy groot stoel. Hy kyk na sy groot papbord, en ook die is leeg. “Wie de duiwel het my pap geëet vra hy in ‘n bulderende stem.
Mammabeer se kop verskyn in die luik tussen die kombuis en die eetkamer. Haar gesig lyk soos ‘n hoëveldse donderstorm. “Genugtig, hoeveel keer moet ek met julle idiote deur hierdie proses gaan?” “Dit was Mammabeer wat eerste opgestaan het. Dit was Mammabeer wat almal in die huis wakker gemaak het.
Dit was Mammabeer wat die koffie gemaak het. Dit was Mammabeer wat die skottelgoedwasser na gisteraand skoongemaak en alles weggepak het. Dit was Mammabeer wat in die koue uitgegaan het om die koerant te gaan haal. Dit was Mammabeer wat die tafel gedek het. Dit was Mammabeer wat die blerrie kat laat uitgaan en sy sandboks skoongemaak het.
Dit was Mammabeer wat die kat en die pappegaai kos gegee en versorg het. En dit was Mammabeer wat die sitkamer aan die kant moes maak na julle TV-kykery gisteraand.” “En nou dat julle uiteindelik besluit het om julle flenter-beergatte ondertoe te sleep en Mammabeer se kombuis met julle befoeterde teenwoordigheid te kom vereer, moet julle nou mooi luister en goed luister, want ek gaan dit nie weer sê nie:
“Ek het nog nie die f *%@$n pap gemaak nie!”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
