Wouter se Watergat
Instede van die normale geklets, wil ek ‘n ervaring oordra van ‘n besoeker aan die Watergat, wat my diep getref het. Nols Neethling, ‘n prokureur van Nelspruit wat gereeld hier kom vakansie hou, het my daarvan vertel toe ek hom vra waarom hy so stil is. Hy was onlangs in sy tuisstad langs sy motor.
Instede van die normale geklets, wil ek ‘n ervaring oordra van ‘n besoeker aan die Watergat, wat my diep getref het.
Nols Neethling, ‘n prokureur van Nelspruit wat gereeld hier kom vakansie hou, het my daarvan vertel toe ek hom vra waarom hy so stil is.
Hy was onlangs in sy tuisstad langs sy motor. ‘n Omie met ‘n geplooide gesig, stukkende skoene, haar-slierte in die wind, dowwe blou oë en met ‘n verkreukelde hoed in sy hand vasgeklem het na hom aangeskuifel gekom. ‘Boetie, Boetie’ roep hy. Nols het hom een kyk gegee, sy rug op hom gedraai, die motordeur oopgesluit en ingeklim. Die ou man kom krom na hom toe aangestap nadat hy van die sypaadjie afgestruikel het.
‘Seker van al die drank’, dink Nols, en trek weg. Hy sien die ou man in die truspieëltjie met sy hande omhoog. By die huis vertel hy vir vroulief Santa van die ou man. Sy was onmiddellik kwaad.
‘Hoe kon jy die ou man net so los?’ vra sy en loop weg. Terwyl Nols met ‘n bier in die hand sy hond ‘n stukkie biltong voer, staan Santa skielik in die deur.
‘Ek het vir die man ‘n pakkie kos gepak, en ons vat een van die kinders se komberse vir hom’.
‘Santa,’ antwoord Nols, ‘die man is waarskynlik reeds onkapabel gesuip’.
Santa is onverbiddellik.
‘As jy nie wil ry nie, sal ek’. Toe weet Nols hy het geen keuse nie.
‘Kom saam, dan gee jy dit vir hom.’ By dieselfde plek kry hulle die ou man, sittende op die sypaadjie, kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond.
‘Sien, klaar dronk,’ dink Nols. Santa maak die deur oop, gaan na die man toe, vat sy hande in hare en gee hom die kos. Die omie se lyf ruk, en hy huil dat die trane deur die plooie op sy gesig stroom.
‘Dis nie ek nie, mevrou. Dis die tannie by die huis. Sy het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk twee weke lank reeds nie meer nie. Ek het asma, en kon nie verder nie. Ek het ‘n man probeer stop, maar hy het weggejaag. Al wat ek kon doen was om te bid. En hier het God nou vir my ‘n Engel gestuur.’
Santa en Nols hardloop die omie se huis oorkant die straat binne. Met die ambulans se sirenes nog steeds in hul ore, vertel Nols, ry hulle terug huistoe. Hulle was te laat om die tannie te red.
‘Jy weet Wouter’, dit was drie weke gelede, ‘en ek het nog nie herstel nie. Bring my nog ‘n bier, asseblief’.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
