Johan Pretorius: Vaskul êre Dementia – is dit voorkombaar?
Hoeveel van ons gaan ons hierby hou?
Die afgelope tyd is die siektetoestand Dementia by verskeie kennisse van die Pretoriusse gediagnoseer, en gegewe die stadium van ons lewens waarin ons is, is daar meer as die normale belangstelling. Daarom is my nuuskierigheid geprikkel toe ek afkom op ‘n berig oor Vaskulêre Dementia op die Daily Maverick se internet-platform.
Om dit beter te kon verstaan, het ek op die internet gaan kyk hoeveel soorte Dementia daar is dit is nie ‘n siekte nie, maar ‘n sindroom veroorsaak deur verskillende siektes of faktore soos ongelukbeserings. Die volgende siektes veroorsaak Dementia: Alzheimer se siekte, Vaskulêre Dementia, sg. DLB-dementia, Parkinson se siekte, Gemengde Dementia, Voor-temporale Dementia, Huntington se siekte, en die Creutzfeldt-Jakob-siekte.
Alzheimer se siekte is die mees algemene oorsaak van Dementia, sowat 60% van Dementia-gevalle in Brittanje is hieraan te wyte. Alzheimer’s word veroorsaak deur die abnormale opbou van proteïne binne en rondom breinselle. Sowat 17% van Dementia-gevalle is van die Vaskulêre soort, wat ons van nader gaan beskou, en die res deur die ander siektes, insluitend Parkinson se siekte, wat ontstaan weens die degenerasie van senuselle wat die belangrike chemiese stof in die brein, dopamien, produseer. Wanneer hierdie neurone doodgaan of ‘gestremd’ raak, veroorsaak dit die bewegingsprobleme wat met Parkinson’s gepaard gaan. Bg. ter agtergrond, en ons bepaal ons net by Vaskulêre Dementia.
In sy verslag vir die Daily Maverick skryf Malibongwe Tyilo Vaskul êre Dementia is nie net die gevolg van groot traumas soos beroerte nie. Kleiner bloedvate kan oor ‘n lang tydperk beskadig word sonder dat ‘n mens dit besef. Die Wêreld-gesondheidsorganisasie wys daarop Vaskulêre Dementia benadeel ‘n mens se geheue, denkpatrone, oriëntasie, begripsvermoë, leerkapasiteit, taalgebruik en algemene oordeel. Hierdie siekte is naas Alzheimer’s, die tweede grootste oorsaak van Dementia, en gewoonlik die gevolg van ‘n onderbreking van die bloedtoevoer na die brein, soos bv. weens ‘n beroerte. Mense ervaar dit op verskillende maniere, gewoonlik met geheue-probleme, gebrekkige denkpatrone, swak belanning, organisasie en besluitneming. Die brein het bloed, suurstof en voedingstowwe nodig om te kan oorleef, en die DM-artikel verwys na Professor John Joska. ‘n neuro- psigiater wat verduidelik dat die bloedvate die brein deur die nek en ruggraat bereik, groter aan die begin en alhoe kleiner word namate hulle dieper die brein ingaan. Weens verskeie redes, kan hierdie bloedvate geblokkeer raak of selfs bloei. Wanneer daar ‘n groot blokkasie of bloeding is, is die gevolg normaalweg ‘n beroerte. Dit beteken dat die individu breinvesel in die omgewing van die betrokke bloedvaat, verloor. Die breinskade, of Dementia, wat deur so ‘n beroerte veroorsaak word, sal deur sowel die pasiënt as die geneesheer waargeneem kan word.
Vaskulêre Dementia word nie net deur ernstige ge beure soos ‘n beroerte veroorsaak nie. Kleiner bloedvate kan oor die langtermyn beskadig word, en die pasiënt eers bewus word daarvan wanneer ‘n gevorderde ouderdom bereik word. Verskeie faktore kan hiervoor verantwoordelik wees, insluitend oorerflikhede soos hoë cholestrolvlakke, en lewensstyl-kenmerke soos ‘n swak dieët, die rookgewoonte, onbehandelde hoë cholestrolvlakke, suikersiekte of hoë bloeddruk. Professor Joska sê selfs wanneer die pasiënt nie ‘n beroerte kry nie, is die bloedvloei stadig, dalk kalkagtig en vol kalsium, en die bloedlvoei na die brein gebrekkig. Die breinfunksie en geheue en die kognitiewe funksies word aangetas. Gedragsafwykings en taalbegripprobleme kan voorkom. Omdat hulle nie ‘n beroerte gehad en breinskanderings ondergaan het nie, neem dit soms lank voordat iemand agterkom iewers is iets verkeerd.
Tot op hede is daar nog geen genesing vir Dementia of maniere om breinskade te herstel nie, daarom is die hooffokus op behandeling met toepaslike medikasie. Tesame met lewensstyl- en dieëtveranderings. Professor Joska wys daarop die risiko van Vaskulêre Dementia kan betekenisvol verminder word deur die regte lewensstylkeuses te maak, soos bv.om jou bloeddruk en bloed-vetvlakke gereeld te laat toets, nie te rook nie, matiger alkoholgebruik, kleiner inname van sout en versadige vette, en gereelde oefening. Hy sê veral mense in die ouderdomsgroep tussen 40 en 50 jaar moet gereeld mediese ondersoeke laat doen.
In die DM-artikel word daar ook verwys na ‘n verslag van die Lancet-kommissie in 2020 oor die voorkoming en behandeling van Dementia, waarin daar op al die variante van die sindroom gefokus word. Die kommissie verklaar meer as ‘n derde van al die Dementia-gevalle wêreldwyd kan voorkom word, en noem 12 risikofaktore wat op die een of ander manier gemodifiseer kan word om 40% van alle dementias te voorkom of vertraag. Hulle is: Lae opvoedingsvlakke, gehoorverlies, traumatiese breinbeserings, hipertensie, uitermatige alkoholgebruik, vetsug, die rookgewoonte, depressie, maatskaplike isolasie, fisiese onaktiwiteit, suikersiekte en lugbesoedeling. Gegrond hierop het die kommissie sy aanbevelings opgesom: prioritiseer inligtingaksies vir kinders en jong mense, gesondheids-inisiatiewe oor die vermyding van kopbeserings en die beperking van alkohol-innames, bloeddruk-beheermaatreëls vir middeljariges, vermindering of uitskakeling van die rookgewoonte, selfs op ‘n gevordere leeftyd, en die gehalte-verbetering van lug wat mense inasem. ‘n Belangrike aanbeveling is dat mense ‘n aktiewe lewe moet lei.
Alles voorspelbaar. Hoeveel van ons gaan ons hierby hou?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page