South Coast Fever

Wouter se Watergat

Geen glimlag hierdie week nie.

Daar gaan ons toe alweer. Omdat sport feitlik die enigste openbare aktiwiteit in hierdie land is wat ons nog plesier kan gee, bepaal dit in ‘n groot mate ons gemoedstoestand. Ongelukkig is ons weer in die doldrums. Die Blitsbokke, of Blunderboks soos ‘n besoeker na hulle verwys het, het sleg in die hek geduik, en die wereld-kampioene wat ons vroeër in die jaar was, toe hulle alles voor hulle platgevee het, is ons helaas, nie meer nie. Waarheen die Blitsbokke nou op pad is sonder Neil Powell, weet nugter. Die Proteas kon ook nie die mas in die derde toetswedstryd opkom ne, maar hulle het minstens gewys hulle het veggees. Verder niks te rapporteer nie.

Om te pas by ons swartgalligheid, wil ek vaneesweek verwys na ‘n gebeurtenis ‘n waarvan ‘n besoeker genaamd Nols ons geruime tyd gelede vertel het. Ons het ‘n nota daaroor in ‘n laai onder die kroegtoonbank ontdek. ‘n Omie met ‘n geplooide gesig, stukkende skoene, haar-slierte in die wind, dowwe blou oë en met ‘n verkreukelde hoed in sy hand vasgeklem het naby Nols se huis in Mpumalanga aangeskuifel gekom. ‘Boetie, Boetie’ roep hy. Nols het sy rug op hom gedraai. Die ou man kom krom na hom toe aangestap nadat hy van die sypaadjie afgestruikel het. ‘Seker van al die drank’, dink Nols, trek in sy motor weg, en sien die man met sy hande omhoog in die truspieëltjie.

By die huis vertel hy vir vroulief Santa van die ou man. ‘Hoe kon jy die hom net so los?’ vra sy kwaai en loop weg. Terwyl Nols met ‘n bier in die hand sy hond ‘n stukkie biltong voer, staan Santa skielik in die deur. ‘Ek het vir die man ‘n pakkie kos gepak, en ons vat een van die kinders se komberse vir hom’. ‘Santa,’ antwoord Nols, ‘die man is waarskynlik reeds onkapabel gesuip’. Santa is onverbiddellik. ‘Ons ry!’

Hulle kry die ou man, sittende op die sypaadjie, kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond. ‘Sien, klaar dronk,’ dink Nols. Santa maak die deur oop, gaan na die man toe, vat sy hande in hare en gee hom die kos. Die omie se lyf ruk, en hy huil dat die trane deur die plooie op sy gesig stroom. ‘Dis nie ek nie, mevrou. Dis die tannie by die huis. Sy het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk twee weke lank reeds nie meer nie. Ek het asma, en kon nie verder nie. Ek het ‘n man probeer stop, maar hy het weggejaag. Al wat ek kon doen was om te bid. En hier het God nou vir my ‘n Engel gestuur.’ Santa en Nols hardloop die omie se huis oorkant die straat binne. Met die ambulans se sirenes nog steeds in hul ore, het Nols destyds vertel, ry hulle terug huistoe. Hulle was te laat om die tannie te red. ‘Jy weet Wouter’, dit was drie weke gelede, ‘en ek het nog nie herstel nie. Bring my nog ‘n bier, asseblief’.

Geen glimlag hierdie week nie.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button