Johan Pretorius: Waarom is Suid-Afrikaners sulke galbrakers en bitterbekke op die sosiale media?
Wat my dwars in die krop steek, is die talle snedige en onsmaaklike aanmerkings op die Suid-Afrikaanse sosiale media oor die Britse Koningshuis en die Koningin self ná haar dood.
Terwyl ek hierdie rubriek skryf, is daar beelde van die ontslape Koningin Elizabeth die Tweede op die televisiestel. Wat ‘n merkwaardige vrou. Of ’n mens nou van die Britse monargie hou of nie, die instelling gee aan Brittanje ‘n glans wat sonder hulle nie teenwoordig sou wees nie. Sonder die paleise en die daaglikse koninklike bedrywighede in en om Londen sou die Britse hoofstad baie minder interessant vir toeriste gewees het. Sonder die koningshuis sou die media wat hulle met skinder besig hou, baie minder gehad het om oor te skryf. Ja, dit kos die Britte geld. Maar myns insiens geregverdig want die voordele weeg baie swaarder as die nadele.
Wat my dwars in die krop steek, is die talle snedige en onsmaaklike aanmerkings op die Suid-Afrikaanse sosiale media oor die Britse Koningshuis en die Koningin self ná haar dood. Die konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog word ingesleep, snedige en lasterlike ad hominem aanmerkings word oor lede van die koningshuis gemaak, Generaal Jan Smuts word beledig omdat hy ‘n vriend van die koningshuis was, op ‘n manier word die ANC se swak bestuur van ons land by die hare ingesleep, en swart Suid-Afrikaners meen sy is verantwoordelik vir kolonialsme en het ons diamante gesteel. Talle Suid-Afrikaners ‘n klomp bitter- en skinderbekke is wanneer hulle die geringste kans kry. Nogal totaal oningelig. arrogant beledigend. Ook teenoor mekaar wanneer gesprekke gevoer word. Daar word oor alles en nog wat geskinder, en sommiges se diep-gewortelde haat van die media en joernaliste kom na vore. Veral dié wat nie hul eie sienswyses steun nie.
‘n Suid-Afrikaanse joernaliskollega vir wie ek ‘n groot bewondering het weens sy skerp waarnemingsvermoë en wonderlike skryftalent, Dana Snyman, stel dit in ‘n onlangse rubriek so: “Mens, het jy gehoor? Die tweetjies in nommer 14 gaan skei. En hulle was altyd so lovey-dovey met mekaar. Ja, ’n ander een se boeke is vir ’n mens duister. Hy het glo iemand anders, vir ses maande al. Daar het jy dit nou. Ek het nog altyd gedink sy ogies sit te naby aan mekaar. Iets is nie lekker daar nie. Daarom het ek vir my ou man gesê het ek sal hom tot in sy graf in ry as hy dit met my doen. Shame, ek wonder wat gaan van die vroutjie word. Ek dink nie sy gaan vir lank stilsit nie – nie met daai lyfie nie. Het jy daai rokkie gesien waarin sy vanoggend hier uit is? ’n Mens hoop net nie hier kom ’n toeloop van mans nie. Ek weet nie hoeveel keer moet ek nog op ons WhatsApp-groep vir die mense sê: slegs een parkeerplek vir besoekers per eenheid. Dit staan tog duidelik in ons kompleksreëls. Hier slaap glads te veel vreemdes oor in die laaste ruk. Hulle vat al die parkeerplekke, dan moet ons gaste buite parkeer.
Ons kan nie ons standaarde hier laat val nie. Kyk hoe gaan dit klaar in die land. Hulle breek net af en verwoes. Lyk my die twee in nommer 17 is darem weer stil. Ek is nie een wat my neus in ander se sake druk nie maar, mens, jy moes nou die oggend al daai drankbottels in hulle asdrom gesien het. En madam drink glo lekker saam. Die arme kindertjies. Gepraat van kindertjies, het jy die oulike foto’s gesien van prinses Charlene en prins Albert van Monaco en hulle tweetjies? Daai seuntjie lyk darem op ’n druppel water nes sy ma. Shame, Charlene het darem bietjie gewig opgetel. Maar sy bly maar maer, nè? Ek kan maar net nie vat kry aan daai Albert nie. Regte pierewaaier. Het mos ’n kind by ’n ander vroutjie ook. Ek was mal oor sy ma: Prinses Grace. Such a lady. Sy was ook maar nie gelukkig nie, nè? Shame. So het elkeen maar sy eie sorge.
Ek weet nie hoekom speel my ou man deesdae so baie gholf nie, maar ten minste weet ek waar hy is. Hy sê ek steur my te veel aan die koninklikes, maar het jy gesien die Queen het al weer verjaar? Is al 96. Die stomme ou mens kan nou regtig maar die troon oorgee vir Charles. Lyk of Camilla regtig lief is vir hom. Oor prins Harry en daai klein merrie van hom sê ek liewer niks nie. Dink arme Diana draai in haar graf om. Ag, daai mense is seker maar nes ons. Ek weet minstens my ou man is nie een vir rondloop nie. Ja, en nou is ou Steve en Rian ook aanmekaar. Steve is al een wat nog iets vir ons mense doen, maar ek hou niks van daai Rian nie. Jy weet seker hy is… anders, nè? Maar God slaap nie. Wat my betref, kan hulle maak wat hulle wil. Ek steur my in elk geval nie aan wat in die media staan nie. Joernaliste is ’n klomp adders. Hulle soek net sensasie.”
Sug. Dankie Dana.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
