South Coast Fever

Stiltetyd: Prioriteite

Die Psalmis vertel vir ons hoedat hy saans sy kussing nat gehuil het maar dat daar in die oggend jubelkrete was.

STILTETYD

“Het my lewe enige nut?” Dit is ’n vraag wat mense soms hulself afvra. ’n Mens kan die vraag ook omdraai en vra: “Wat ag ek as waardevol in my lewe?” Ons almal het sekere prioriteite in die lewe, sekere dinge wat ons as belangriker ag as ander. Dinge waarvoor jy dalk bereid sal wees om jou lewe te gee. So hoog ag jy dit. Tog bly die vraag aan mens knaag: “het my lewe enige nut?” Wie sal my mis as ek nie meer daar is nie?

Watter verskil maak dit dat jy langs die Suidkus of waar ookal woon? Watter verskil maak jou gemeente aan die gemeenskap? Sulke vrae hou ook verband met die waarde waarmee ek myself ag. As ek op ’n slegte plek in die lewe is, sal ek waarskynlik dink dat my lewe geen nut het nie, dat ek vir niemand iets beteken nie. Die Psalmis vra in Psalm 30:10 ’n soortgelyke vraag. “Watter nut het dit dat my bloed gestort word, as ek na die grafkuil afgaan? Sal stof u prys? Sal dit u lof verkondig?

Met ander woorde, sal God omgee as ek nie meer hier op aarde is nie? Is my lewe tot voordeel van God? Dit blyk dat die Psalmis in ’n stadium baie siek was. Ons weet almal dat siekte of krisisse ’n manier het om jou te stroop van jou innerlike en uiterlike reserwes. Dis ook in sulke tye wat jy voel of die Here ver is en of Hy vir jou kwaad is. Die Psalmis vertel vir ons hoedat hy saans sy kussing nat gehuil het maar dat daar in die oggend jubelkrete was.

Dit kom uit die besef dat God se toorn vir ’n oomblik is maar dat Sy goedgesindheid vir ewig duur. Herinner jouself aan God se goedheid. Die apostel Paulus herinner ons elders in Romeine 8 daaraan dat God vir ons is wat in Hom want Sy Seun het op Golgota Sy lewe afgelê het vir sondaars. Wanneer jy weer wonder of jou lewe enige nut het, sien op na die kruis. Mag die Here jou rouklag in ’n koordans verander, soos vir Dawid.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button