South Coast Fever

Johan Pretorius: Koningin Elizabeth II – sy sal baie lank onthou word.

Sy was ‘n baie besonderse mens, en die ooglopende vraag is wat gaan nou van die monargie word? Net die tyd sal leer.

Met die dood van Koningin Elizabeth II van Brittanje het ‘n era wat oor sewe dekades gestrek het, tot ‘n einde gekom. Veral die ouer as sewentigs, soos die uwe self, besef dit terdeë, want vandat ons kan onthou, was sy daar. Ek onthou hoe ek as jong kind kennis geneem het van haar kroning, Saterdagmiddae in die bioskoop op die hoek na die fliek opgestaan en uitgeloop het onderwyl ‘God Save The Queen’ in beeld en klank op die doek verskyn het, en hoe nagenoeg die helfte van my seëlversameling vanoor die hele wêreld bestaan het uit seëls met haar beeld daarop.

Sy was toe ook Suid-Afrika se staatshoof. Van die meer konserwatiewe kennisse van my ouers het min ooghare vir haar gehad, en my ouma aan vaderskant, wat die konsentrasiekamp op Norvalspont oorleef het, wou niks van Brittanje, die Statebond of die ‘kwien’ weet nie. ‘Nee, my kind,’ het sy altyd gesê, ‘die enigste goeie Engelsman is ‘n dooie Engelsman’. Uit en gedaan. Dit was so erg dat my oom en tante, by wie sy in Bloemfontein gebly het, moeite gehad het om die vrede te bewaar. Voor ‘n munisipale verkiesing in die sestigerjare was die Nasionale Party se kandidaat in hul wyk iemand met die naam Humphrey Simes, Afrikaanssprekend maar ooglopend met ‘n Engelse bloedlyn. Hulle het hom aan haar voorgestel as Hendrik Siemies, om haar stem te verseker. Kort voor die verkiesing het sy egter gehoor hoe iemand hom aanspreek as mnr. Simes, en sy het net daar besluit sy wil niks meer met hom te doen hê nie.

Die res van ons familie het egter die Koningin aanvaar vir wie en wat sy was, ‘n staatshoof wat oor die jare in status gegroei het tot ‘n instelling op die internasionale toneel van die een groot verandering tot die ander. Sy het die vermoë gehad om altyd met grasie te glimlag het wanneer veral haar persoonlike probleme in die koningshuis gedreig het om die instelling te oorweldig. Sy was ‘n baie besonderse mens, en die ooglopende vraag is wat gaan nou van die monargie word? Net die tyd sal leer.

Een van haar talle positiewe eienskappe was haar skerp verstand en humorsin. Van haar kommentare en gesegdes oor die jare is opgeteken, en oud-SAUK-kollega David van Lill het my die volgende voorbeelde op Facebook gestuur. Tydens ‘n besoek aan die Niagara-waterval in Kanada: ‘Dit lyk baie klam’. Toe anti-monargiebetogers haar groep in Nieu-Seeland met eiers gooi: ‘Persoonlik verkies ek my Nieu-Seelandse eiers vir ontbyt’. Haar reaksie in die sestigerjare toe sy hoor hoe sing die Everley Brothers ‘Cathy’s Clown’: ‘Hulle klink soos twee katte wat verwurg word’. Tydens haar 25e huweliksherdenking in 1972: ‘Ek dink almal sal toegee dat ek op hierdie dag van alle dae, my toespraak kan begin met die woorde ‘My man en ek’. By ‘n foto-sessie op die G7-beraad in 2021: ‘Is ‘n mens regtig veronderstel om te lyk of jy dit geniet?’. Haar verklaring vir haar kleurvolle uitrustings: ‘As ek beige dra, sal niemand weet wie ek is nie’.

Die koningin het eenkeer tydens ’n wandeling saam met haar lyfwag by Balmoral Amerikaanse toeriste raakgeloop, wat wou weet: “Het u al ooit die koningin ontmoet?” Haar antwoord, terwyl sy na die lyfwag wys: “Nee, maar hý het.” In 2007 het die koningin die Withuis besoek, waar president George W Bush gesê het die koningin het Amerikaners in 1776 gehelp om hul tweehonderdjarige bestaan te vier. Hy het dit vinnig reggestel en gesê hy bedoel eintlik 1996. By ‘n formele ete het die koningin die heildronk só begin: “Toe ek laas in 1776 hier was …” Terwyl sy op pad was na die Royal Windsor Horse Show, het ’n wag haar nie herken nie en gesê, “Jammer, liefie, jy kan nie sonder ‘n plakker inkom nie.” Die koningin se antwoord: “O, ek dink as jy ‘n bietjie navraag doen, sal jy agterkom ek mag wel inkom!” In ‘n argument het die koninginmoeder gesê: “Wie dink jy is jy?” Toe antwoord koningin Elizabeth: “Die koningin, mamma, die koningin.”

Tydens ‘n diplomatieke onthaal by Buckingham-paleis het eerste minister Margaret Thatcher weer flou gevoel, nes die vorige jaar, en sy moes vinnig gaan sit. Die koningin sê toe vir ’n gas: “O, kyk! Sy het weer omgekap.” Toe ’n bejaarde vrou by ’n winkel vir haar sê: “Goeie hemel, u lyk net soos die koningin”, was Haar Majesteit se antwoord: “Hoe gerusstellend!” Die Kanadese premier Justin Trudeau het ’n heildronk op die 60ste viering van die koningin se bewind ingestel. Haar reaksie? “Dankie, meneer premier van Kanada, dat jy my so oud laat voel.” Die adjunk-eerste minister van Ierland, Martin McGuinness, het die koningin gegroet deur te vra: “Hallo, gaan dit goed?” en sy antwoord: “Baie goed, dankie. Wel, ek lewe in elk geval nog.”

Die bron van bg. is The Wicked Wit of Queen Elizabeth II. (Michael O’Mara).

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button