Wouter se Watergat
"‘n Groot besprekingspunt hier in die Watergat was die tragiese inploffing van Elton Jantjies se loopbaan."
Dit was reeds laat Saterdagaand, maar die vreugde hier in die Watergat was groot toe die eindfluitjie net na elf-uur blaas. Die klompie bittereinders wat hier was het gejuig oor die beslissende oorwinning van die Bokke oor die Poemas, veral nadat ons begin naels kou het toe die Argentyne na rustyd met ‘n verbete terugvegpoging vorendag gekom het. Met die telling op 22-20 nadat die Pumas vinnig twee verdoelde drieë gedruk het, het ek voorspooksels gesien dat die Bokke ‘n nederlaag uit die kake van ‘n oorwinning sou gryp.
Gelukkig het die manne kopgehou en kort daarna self met twee verdoelde drieë teruggeslaan. Malcolm Marx het die kersie op die koek geplaas met ‘n juweel wat die bonuspunt verseker en ons gelyk met Nieu-Seeland op die punteleer laat trek het. Wat die manne nou moet vermag is nog ‘n klinkende oorwinning met ‘n bonuspunt Saterdag in Durban, en hoop die Aussies kan doen wat hulle Saterdag deur hul vingers laat glip het, en die All Blacks afransel. Of indien hulle verloor, die manne in swart ‘n bonuspunt ontsê.
‘n Groot besprekingspunt hier in die Watergat was die tragiese inploffing van Elton Jantjies se loopbaan. Hy was nooit almal se gunsteling as Springbok-losskakel nie, maar hy is ‘n baie talentvolle speler wat floreer wanneer hardlooprugby gespeel word. Oom Pottie het hom enkele kere tydens sy besoeke aan Ellis/Emiratespark teëgekom, en was baie beïndruk met hom as mens, sy werksetiek en sy toewyding as spanmens. “Verskeie van sy jonger spanlede het my vertel hoe Elton hulle gehelp het om hul spelpeil te verhoog en te motiveer. Iewers het iets verkeerd geloop. Ek dink die afdraende pad het begin toe sy pa oorlede is.”
Ons gesprek was na aanleiding van koerantberigte dat Elton en die span se dieëtkundige in Mbombela ‘n nag in verdagte omstandighede in ‘n gastehuis deurgebring, duisende rande, onder meer op sjampanje, geblaas en ‘n oorlas van hulself gemaak het. Dit nadat hy enkele weke gelede groot dronkmoles op ‘n vliegtuig gemaak en skadevergoeding betaal het. Hy het emosioneel om verskoning gevra, die dieëtkundige het verklaar dit was nie sy nie, en Elton se vrou in Japan was briesend. Sy span in Japan het ook verklaar sy kontrak gaan opgeskort word. ‘n Totale gemors. En dis nog nie verby nie. Nuwe inligting is glo op pad. Ai, Elton. Wat het jou besiel.
Die storie van die week kom van Sanet van Oslo Beach: ‘n Man bel sy vrou uit die ongevalle-afdeling van die Port Shepstone-hospitaal: “Liefie, ek’s omgery nadat ek my kantoor verlaat het. Santie het my hospitaal toe gebring. Hulle het ‘n hele paar toetse gedoen en X-Strale geneem. Die trauma aan my kop is pynlik, my een oog is toegeswel en potblou, ek het drie gekraakte ribbes, ‘n oop fraktuur aan my linkerbeen, dalk gaan hulle my regtervoet amputeer, die dokter sê dis ‘touch and go’, en ek moet ‘n groot rehabilitasieproses ondergaan. Ek was amper dood, liefie.”Nà ‘n rukkie se stilte, antwoord sy vrou: ‘Wie de f*% is Santie?’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
