South Coast Fever

Stiltetyd: Ontstellende gedagtes

Om jou gedagtes te fokus op God se goedheid en dankbaar te wees vir wat jy het, is ook ’n manier om jou gedagtes elders te fokus.

Ontstellende gedagtes is eie aan menswees. Ontstellende gedagtes kan jou nagte laat wakker lê en jou gesondheid ’n knou toedien. Soms is jy angstig oor omstandighede buite jou beheer. Ander kere fokus jy op ’n probleem wat vir jou te grootword om te hanteer. In Psalm 37 vind ons ’n gelowige wat ontsteld is oor die optrede van kwaaddoeners, van skelms en skurke. Dit kwel hom dat hulle skynbaar doen net wat hulle wil en skotvry daarvan afkom. Dit is natuurlik om hieroor te wonder. Skurke en bedrieërs, mense wat bedrog pleeg ry nie altyd aan die pen nie. Dit op sigself skep vrae oor die regverdigheid van die lewe. Daar is baie teenstrydighede in die lewe. Die Psalmis wil aan sy lesers raad gee om sulke skynbare teenstrydighede te hanteer.

Die eerste stukkie raad is om op te hou om jou te ontstel oor ander mense se doen en late. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, veral as jy ingeloop is deur iemand of jy het jou kant na die beste van jou wete gebring, maar word nie daarvoor beloon nie. Daarteenoor lyk dit of skurke en knoeiers skynbaar floreer. Jy word afgunstig op hulle vanweë die skynbare voorspoed wat hulle beleef. Die Psalmis se raad is om nie jou gedagtes met jou op loop te laat gaan nie, maar om eerder stil te word voor die Here en jou lewenspad opnuut aan Hom oor te gee. Dink na oor Sy goedheid in jou lewe. Daarmee saam word die gelowige opgeroep om aan te hou goed doen. Dit werp vrugte af.

Om jou gedagtes te fokus op God se goedheid en dankbaar te wees vir wat jy het, is ook ’n manier om jou gedagtes elders te fokus. Dit keer dat mense en hul geknoei onder jou vel kom en jou gedagtes in beslag geneem word deur hul optrede. Soms moet mens net ’n saak buite jou beheer in die hande van God laat. Dis verbasend wat God soms doen vir die wat hul lewens aan Hom oorgee en op Hom vertrou. Bring dan vandag na God toe elke ontstellende gedagte. Vertrou op Hom. Hy sal tydig optree.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button