Johan Pretorius: Het Vladimir Putin sy hande in die Oekraïne erg verbrand?
Daar is nog talle ander realiteite wat op die oomblik ‘n rol in die Oekraïene-oorlog ‘n rol speel.
Hoewel dit nog geen uitgemaakte saak is nie, dui alles in hierdie stadium daarop dat President Vladimir Putin van Rusland seker die grootste oordeelsfout van sy lewe gemaak het toe hy besluit het om die Oekra ïne binne te val. Ná sewe maande, pleks van die drie weke wat hy gemeen het dit sou neem om die land tot oorgawe te dwing, is van sy magte teruggedryf, het duisende Russiese soldate en offisere, talle van hulle generaals, gesneuwel, is nog groter getalle gewond, en is militêre toerusting ter waarde van miljarde roebels verwoes, verloor of agtergelaat.
Die ambassadeur van die Oekraïne in Suid-Afrika, Me. Liubov Abravitova, het enkele dae gelede aan die Daily Maverick besonderhede verskaf van die Russiese verliese. Uit die aard van die saak is dit uit ‘n Oekraïnse belangehoek, maar selfs al is die syfers oordrewe, bestaan daar geen twyfel nie dat Putin met onwelriekende eier op sy gesig sit. Hy kan nie anders nie as om te besef hy het sy hande verbrand en moet nou inderhaas maatreëls afkondig om te red wat daar te redde is. En dit maak hom gevaarliker as ooit.
Me. Abravitova het die volgende syfers genoem ivm. met die Russiese verliese. Die geldwaardes is in Amerikaanse dollar: Tydens die volskaalse oorlog teen die Oekraïne het Rusland 14,506 eenhede toerusting verloor, uitsluitend missiele, ter waarde van biljoene dollar. Tenks – 2,275. Gepantserde troepedraers – 4,832. Artillerie- en vuurpylstelsels – 1,368. Lugafweerstelsels – 171. Vliegtuie en helikopters – 259. Onbemande vliegtuie 966. Kruisermissiele – 241. Oorlogskepe en bote – 15. Voertuie en brandstoftenks – 3,701. Spesiale toerusting – 130.
‘n Maand gelede was die top tien, duurste verliese van die Russiese leër per eenheid: Moskou-kruisermissiele — $750-miljoen. Il-vliegtuie- $486-miljoen. Amfibiese Saratov-aanvalskepe – $75-miljoen. Su-30SM-vliegtuie – $50-miljoen. Su-34-vliegtuie- $40-miljoen. Su-35-vliegtuie $32-miljoen. Il-22PP-vliegtuie- $30-miljoen. Tor-M2-lugverdedigingstelsel – $25-miljoen. Vasyl Beh-vaartuie- $21-miljoen. OTRK-Iskander -$21-miljoen. Me. Abravitova sê die syfers verskaf ‘n aanduiding van hoe ontoereikend en tweederangs die Russiese militêre toerusting inderwaarheid is, en waarom die Russe hul vuurkrag op burgerlikes konsentreer en nie op die Oekraïnse leër nie. Hulle bombardeer stede feitlik gelyk met die grond, gaan dan binne en verklaar ‘n oorwinning. Sy sê die hoeveelhede vernietigde, beskadige en verlate wapentuig is verstommend.
Teen die agtergrond van bg. inligting, maak die benoude kat Putin benoude spronge. Hyhet reeds hernieude dreigemente oor die gebruik van kernwapens geuiter, ‘n groot mobiliseringsveldtog in Rusland aangekondig, asook referendums in vier besette Oekraïnse gebiede. Nie referendums waartydens mense na stembusse gaan en geheime stemme uitbring nie, maar met die hulp van pro-Russiese amptenare en gewapende uniformdraers wat na inwoners se huise toe gaan en hulle beveel om te stem. Ongetwyfeld ten gunste van inlywing by Rusland.
Na die uitslag bekend is, dalk nog voor die publikasie van hierdie berig, sal die gebiede geannekseer word. Feitlik die hele wêreld het hierdie referendums as onwettig en strydig met die Volkereg verdoem, behalwe enkeles, onder meer Kuba, en egt lande gaan waarnemers stuur om die referendums dop te hou, onder meer Venezuela, Sirië, Egipte, Uruguay en natuurlik Suid-Afrika. Die jeugvleuel van die ANC het reeds sy goedkeuring vir die referendums uitgespreek, en die ANC self weierom die inval te veroordeel.
Nuusagentskappe vanoor die hele wêreld verskaf daagliks verslae oor die oorlog indie Oekraïne, en dis duidelik dat Rusland kerndreigemente uiter omdat sy konvensionele militêre optrede jammerlik gefaal het. Dis ook die hoofrede waarom Rusland nou by Iran en Noord-Korea aan vir militêre hommeltuie? Van die internasionale joernaliste merk op Poetin se aanvanklike bravade is deesdae erg getemper. Hulle verwys na sy emosionele en amper woedende toespraak op 24 Februarie toe hy die inval aangekondig het, en sy getemperde woorde op ‘n onlangse internasionale konferensie in Shanghai toe hy gekla het die Oekraïne wil nie met hom onderhandel nie.
Wat tot sy reeds erge probleme bydra is die duisende Russiese jong mans wat uit Rusland vlug om aan konskripsie te ontsnap. In Rusland self het betogings met die skryf van hierdie berig skerp toegeneem en is teentanting teen Putin besig om te verskerp. Hy is geskeduleer om Vrydag, 30 September, die Russiese parlement toe te spreek, die verwagting is dat hy dan die anneksering van die vier gebiede na die referendum gaan aankondig, en dalk die land se grens gaan sluit om te keer dat jong mans wat nie opgeroep wil word vir militêre diens nie, die land verlaat.
Daar is nog talle ander realiteite wat op die oomblik ‘n rol in die Oekraïene-oorlog ‘n rol speel. Te veel om hier op te noem. Bg. beteken ook nie dat die oorlog binnekort kan eindig nie. Inteendeel. Met Vladimir Putin, ‘n man wat, soos ‘n sekere individu in Amerika, haat om te verloor, is verhoogde spanning en grootskaalse verwoesting nog moontlik. Sy opsies raak alhoe minder, veral indien sy eie mense hom in groot talle begin teenstaan. Dis dalk waar die oplossing lê.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
