Wouter se Watergat
Ons storie van die week kom van een van die afval-bewonderaars, Lien Steyn van Underberg.
Nou dat die Rugbykampioenskap iets van die verlede is, en ons moeg is vir politieke praatjies, was daar min interessante gesprekke hier in die Watergat. Ek kry die indruk die manne is eintlik bly die toetsrugby is (vir eers) verby, en hulle hoef nie nou te probeer bepaal of hulle of Jacques Nienaber reg is met sy spankeuses nie. Van hulle wat die een week pro Jacques Nienaber, en net die volgende week gemeen hy weet nie wat hy doen nie.
Ewenwel, myns insiens het ons die reeks verloor toe daai skeidsregter in Australië ‘n reël tot op die letter toegepas en Nieu-Seeland by die agterdeur laat inglip het. Sonder daardie Aussie-nederlaag, hul eie skuld, was ons nou die kampioene. Dalk moes ons die wedstryd op Ellispark gewen het? Ewenwel, soos Oom Pottie herhaaldelik aan van ons besoekers gesê het, ‘As’ en ‘Indien’ dit of dat gebeur het, beteken niks. Dis die telbord wat saakmaak.
Die ander besprekingspunt was vroulief se ‘special’ die afgelope week. Sy het haar ouma se skaap-afvalresep die eerste keer in jare probeer. Lang tye voor die stoof in die Watergat-kombuis deurgebring, en selfs ‘n paar skaapkoppe gebruik. Sonder die oë. Bedien met klein aartappeltjies en/of korrelrys. Die reaksie was oorweldigend. Selfs mense wat dit nog nooit vantevore geëet het nie, was mateloos beïndruk. Die ligte kerriegeur van die saggekookte vleis het my dae aaneen laat kwyl. ‘n Wenner teen R80 per porsie, yskoue Namibiese tapbier ingesluit.
Ons storie van die week kom van een van die afval-bewonderaars, Lien Steyn van Underberg. ‘n Onderwyseres gee haar graad vyfs opdrag om hulle ouers te vra om hulle ‘n storie met ‘n les aan die einde daarvan te vertel. Die volgende dag is hulle terug. Vinesh sê: ‘My pa is ‘n hoenderboer en ons het baie broeihenne. Ons het eenkeer die eiers in ‘n mandjie op die kar se voorste sitplek gesit om dit mark toe te vat. My pa rem, die mandjie val om en al die eiers breek in die kar!’ ‘Mooi, Vinesh’, sê die juffrou, ‘wat is die les van die storie?’ ‘Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie!’ sê die trotse seuntjie. ‘Baie goed,’ sê die onderwyseres.
Volgende is dit Sipho se beurt. ‘Ons het verlede week op die berg ‘n muis gesien wat uit sy gaatjie kom. ‘Wat is die les van die storie? ‘ ‘Die berg het ‘n muis gebaar, Juffrou!’ sê Sipho. ‘Dis seker waar,’ sê die onderwyseres. Klein Kosie is volgende. ‘Juffrou, my pappie het my vertel van Antie Susanna wat verlede jaar op hulle plaas aangeval is. Toe sy hoor die alarm by die heiningdraad gaan af, besef sy diewe gaan die duur bottel brandewyn steel wat sy nou net vir oom Koos gekoop het. Sy vat die haelgeweer, patrone en ‘n vleismes, wag hulle by die deur in, stuur vier met die haelgeweer bokveld toe, steek twee met die kombuismes dood, en slaan die laaste een katswink met die vuis!’ Vreeslik!’roep die onderwyseres uit, ‘Watse les kry jou pappie uit so ‘n aaklige storie?’ Kosie antwoord: ‘Bly ver weg van Antie Susanna as sy gesuip is!’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
