South Coast Fever

Johan Pretorius: ‘n Wêreld sonder honde is ‘n wêreld sonder onvoorwaardelike liefde

Wat sal mense sonder ‘n hond of honde in hul lewens doen?

Honde was die afgelope tyd redelik op die voorgrond in ons familie. My suster en swaer op Uvongo se Chow is dood, en die verdriet in hul huis was erg. Nuwe hondjies het in die lewens gekom van ons skoondogter se familie in Bloemfontein, en vroulief en die uwe het nie-amptelik twee hondekinders bygekry.

Ons woon die afdelope drie jaar in dieselfde huis as ons seun, skoondogter en hulle kinders, maar redelik eenkant, taamlik afgesonder en geïsoleer van hulle en hul vier honde. Daarom was dit moontlik dat ons ons bejaarde en rustige Duitse Herdershond met kreatiewe beplanning tov. sy toiletbehoeftes, by ons kon hou en versorg totdat hy ook dood is. Die hartseer was weereens erg, en weens ons ouderdom en verblyf-omstandighede is daar besluit: nie weer nie. Ons bly buitendien te lekker saam met ons drie kleinkinders en hul ouers – ‘n voorreg wat min oues van dae beskore is — en wou nie die rustigheid versteur met nog ‘n klein hondjie nie.

Aan die begin van die jaar het die jonger Pretorius-gesin sonder ons twee oues amper twee weke in die Krugerwildtuin deurgebring, en oupa en ouma het die hondjies versorg. Tydens die vakansie is die bedjies na ons kamer op die boonste verdieping aan die ander kant van die huis gebring, en hulle het aanvanklik daar geslaap. Twee van hulle, Maltesers, ‘n reuntjie en ‘n tefie, albei so agt jaar oud, was vroeër die eiendom van bejaardes tot dié se oorlye, waarna hulle deur die junior Pretoriusse aangeneem is. Die hondjies het bed toe gemik. Ons oues was beslis: Nie op die bed nie.

In die tweede week het hulle stilletjies in die aande op ons bed gespring, en stadig maar seker verseker dat dit vir ons moeiliker sou word om hulle te keer. Nadat die wildtuinvakansie verby is, het die twee aanvanklik in die junior Pretoriusse se kamer geslaap, maar toenemend weggeglip na ons toe. Hul bedjies het teruggekom na ons kamer toe, en die res is geskiedenis. Die hondjies, Liefie en Fluffy, slaap nou elke and by hul Oupa en Ouma op die bed. Bedags is hulle permanent by ons, behalwe wanneer hulle buitentoe gaan om die bure te gaan irriteer met hul geblaf of om te ‘wiepels en te poefels’ soos vroulief dit noem. Hul onderwyser-menspa en prokureur-mensma is bedags in elk geval te besig om kwaliteit-aandag aan hulle te gee, en hulle het die gaping gevat. Die derde, ‘n Yorkshire-terrier, het nie saam getrek nie. Ons seun, skoondogter en hul kinders het vrede daarmee gemaak, en hulle verlies is ons wins.

Twee sielietjies, soos ‘n oorlede oud-kollega sulke hondjies genoem het, wat help om ons dae op te kikker. Die onvoorwaardelike liefde wat 24 uur lank jeëns ons uit hulle straal, is iets om te ervaar.
Wat sal mense sonder ‘n hond of honde in hul lewens doen? Ek besef daar is heelwat mense wat nie in honde belangstel nie, of hulle bloot in die tuin aanhou, nooit in die huis toelaat nie, hulle kos en water gee en verwag hulle moet die eiendom oppas. Arme diere wat nooit liefde en menslike aandag of dissipline ontvang of geleer word nie, en gewoonlik die skuldiges is wanneer volwassenes of kinders aangeval en ernstig beseer, of selfs gedood word.

Die hondjies het bed toe gemik.

Nou dat ek ons storie vertel het, is daar nog ruimte beskikbaar vir twee brokkies bykomende honde-inligting. Nommer een is ‘n faktor wat van die uiterste belang is wanneer mense honde as troeteldiere aanskaf. Dis verbasend hoeveel gesinne oorweldig word deur die mooi gesiggie, blou ogies of watookal van die kleintjies van sekere honderasse, en op grond daarvan ‘n kleintjie aanskaf. Net om later uit te vind die DNA van die ras of dit waarvoor hy geteel is, maak die hondjie heeltemal ongeskik vir hul lewensomstandighede. Hierdie honde word dan probleemhonde, beland uiteindelik by organisasies soos die SPCA, totaal verworpe en verlore. Brokkie nommer twee is lankal reeds bekend, maar ter wille van diegene wat dit nie weet nie: die volgende honderasse word beskou as die intelligenste tov. werkvermoë en die maklikste opleibaar is. Dit beteken nie dat honde wat nie in die top tien is nie, ‘dom’of gladnie opleibaar is nie. Dit neem hulle net langer, afhangend van die spefisieke ras.

Die navorsing is gedoen deur dr. Stanley Coren, ‘n gerespekteerde honde-sielkundige van die Universiteit van Brits-Columbië, en dit word geruime tyd reeds wêreldwyd aanvaar as die algemene norm. Baie interessant: bv. die belangrikste kriterium is hoe vinnig en met hoe min repetisies ‘n hond leer om ‘n taak te verrig. Sy boek se naam is “The Intelligence of Dogs”, en meer besonderhede oor sy navorsing is geredelik op Google beskikbaar, vir diegene wat meer wil weet. Sy lys van die “Top Tien” honderasse is, en ek hou by die Engelse benamings in sekere gevalle om verwarring te voorkom: 1. Border Collie 2. Franse Poedel 3. Duitse Herdershond 4. Golden Retriever 5. Doberman Pinscher 6. Shetland-skaaphond 7. Labrador 8. Franse Papillon 9. Rotweiler 10. Australiese Beeshond (cattle dog).

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button