Wouter se Watergat
Dit maak ‘n mens skaam wanneer jy sien hoe toegewyd die Jode, Moslems en die Hindoes hul gelooffeeste vier. Wonder wat dink hulle van ons wat onsself Christene noem?
Hier is ons alweer in Oktobermaand. Kersfees-uitstallings wag vir ons oral in die winkels hier teen 20 Oktober, met die irriterende Amerikaanse Kersfeesliedjies oral in die agtergrond. Wat my die meeste irriteer, trouens woedend maak, is die doelbewuste en openlike pogings om die Kersgety te verander in ‘n ‘Happy Holiday’ -oefening. Ooglopend om nie die ander gelowe aanstoot te gee en sodoende verkope te verloor nie. In een van ons gesprekke in die Watergat vandeesweek, waaraan heelwat vakansiegangers deelgeneem het, (hier is reeds heelwat van hulle), het ‘n besoeker uit Pretoria gewonder of mense wat hulself Christene noem, hoegenaamd ‘n probleem daarmee het. Hy reken die oorgrote meerderheid sg.Christene het self lankal die ware betekenis van Kersfees vergeet, en dit skeel hulle nie juis nie. Dit maak ‘n mens skaam wanneer jy sien hoe toegewyd die Jode, Moslems en die Hindoes hul gelooffeeste vier. Wonder wat dink hulle van ons wat onsself Christene noem?
Nietemin, dis nie ‘n onderwerp wat in ‘n rubriek soos hierdie uitgepluis kan word nie. Die res van ons diskoerse was oor aktuele sake, en daar was groot blydskap oor die klaarblyklike sukses van die Oekraïnse magte. Hoop hulle gee daardie megalomaniak in die Kremlin bloedneus. Oor die res van die wêreld was daar maar ‘n algemene swartgalligheid hier in die Watergat: Die toestand van die Britse ekonomie, die arrogante vet mannetjie van Noord-Korea wat hom aan niks of niemand steur nie, die onvoorspelbaarheid van Iran, en die aanslag op die demokrasie in Amerika deur ‘n sekere Donald. Voeg hierby die verwoesting wat in verskeie lande gesaai is weens die fenomeen van globale verwarming, en ‘n mens besef daar is baie waaroor ons onsself moet bekommer. Van die manne het na ‘n klompie skuimkoppe warm onder die kraag geraak, veral diegene wat dink aardverwarming is ‘n groot komplot, Poetin is nie so ‘n slegte ou nie, Trump is die redder van die mensdom uit die kloue van die nuwe wêreldorde, en president Ramaphosa is net so korrup soos sy kollegas. Om net die belangrikste sake te noem. Oom Pottie en ek bly uit hierdie debatte uit, maar luister aandagtig. Ons oorwoë indruk is talle mense is totaal oningelig oor hierdie sake, want hulle maak staat op tweede en derderangse inligting op die sosiale media.
Ewenwel, ons gesels aanstaande week weer oor sportgebeure, en ons loopstorie kom van Jan Scholtz van Roodepoort: Vrou: ‘As ek eendag sterf, sal jy weer trou my man?’ Man: ‘Nee!’ Vrou: ‘Jy kan maar eerlik wees; ek sal nie kwaad word nie.’ Man: ‘Ja, miskien…seker.’ Vrou: ‘Sal jy toelaat dat sy met my kar ry?’ Man: ‘Ja, as sy wil. Dit is nog nuut.’ Vrou: ‘Gaan julle aanbly in ons huis?’ Man: ‘Ja, seker. Dit is klaar betaal en in goeie kondisie. Hoekom nie?’ Vrou: ‘Gaan sy my juwele dra?’ Man: ‘Nee, ek sal maar ander koop. Ek glo nie sy sal dit wil dra nie.’ Vrou: ‘Gaan jul in ons bed slaap?’ Man: ‘As hy reg is, hoekom nie!’ Vrou: ‘Gaan sy my skoene dra? Man: ‘Nee, glad nie. Jy dra ‘n vyf en sy dra ‘n sewe!..
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
