Wouter se Watergat
Ons het die tyd verwyl deur die Watergat ‘n ‘spring clean’ te gee.

Die afgelope week was maar stil, en besoekers baie minder omdat die skole heropen het. Ons het die tyd verwyl deur die Watergat ‘n ‘spring clean’ te gee. Bietjie sport gekyk, nie veel anders nie. Ons week is gemaak toe ‘n middeljarige Amerikaner van Boston en sy vrou op ‘n gholftoer, hier ingeloer het. Ons het oor die lewe gesels en hy het ons vertel van ‘n ervaring net na hy afgestudeer het. Lank gelede. Hy het die plaaslike vissermanne in ‘n klein Mexikaanse vissersdorpie gekomplimenteer oor die gehalte van hulle vis, en gevra hoe lank dit neem om die vis te vang.
‘Nie lank nie’, was die antwoord. ‘Waarom bly julle nie langer uit nie en vang meer vis nie?’ Een van die manne verduidelik die klein vangste was heel genoeg om aan hul behoeftes te voldoen. ‘Wat doen julle met die res van jul tyd?’, vra hy. ‘Ons slaap laat, ons speel met ons kinders, neem siestas met ons vrouens, gaan in die aande dorp toe om met ons vriende te gesels, drink ‘n paar doppe, speel die kitaar, sing……ons het ‘n baie vol lewe’.
Die Amerikaner val die Mexikaan in die rede, sonder dat hy behoorlik geluister het. ‘Ek het ‘n MBA by Harvard verwerf, en ek kan jou help. Jy moet begin om elke dag langer vis te vang. Die ekstra vis wat jy vang kan jy verkoop. Met die ekstra geld, kan jy nog ‘n boot koop.’ ‘En dan?’ vra die Mexikaan. ‘Dan koop jy nog ‘n boot en nog een totdat jy ‘n hele vloot het. Pleks daarvan dat jy jou vis aan ‘n middelman verkoop, kan jy dan regstreeks onderhandel met die visfabrieke, en uiteindelik dalk jou eie fabriek open. Jy kan dan padgee uit hierdie klein dorpie en verhuis na die Stad Mexiko, Los Angeles of selfs New York!
Jy kan jou groot onderneming daarvandaan bestuur.’ Dan raak dinge interessant. Jy kan aandele koop en verkoop. Uiteindelik is jy baie welgesteld en kan jy jou lewe geniet. Jy tree af, gaan bly op ‘n kusdorpie, vang ‘n paar vis, slaap laat, kuier met jou vriende en jou vrou en speel met jou kleinkinders. ‘En hoe lank gaan dit neem?’, kom die vraag. ‘So 25 jaar.’
Die Mexikaan kyk hom meewarig aan. ‘Met alle respek, meneer, jy het my blykbaar nie verstaan nie. Of nie geluister nie. Dis dan presies wat ons nou doen? Om watter denkbare rede moet ons 25 jaar in die proses mors? Is jy gek?’ Die Amerikaner, sy naam is Nelson, sê hy het besef die les in hierdie episode is eenvoudig. Jy weet waarskynlik waarheen jy gaan in die lewe. Maar jy is dalk reeds daar. Geld is nie alles nie, en jy moet jou lewe leef voordat daar niks oor is om meer te lewe nie. Ek het amper dertig jaar van my lewe so vermors.’ Dit het ons toehoorders diep laat dink. Hoe anders kon ons eie lewens nie gewees het nie? Sug.
Iets om die mismoedigheid te verlig: ‘Sjoe!! Dit reën al vir 3 dae by ons…. Al wat my skoonma doen is deur die venster staar…. As dit so aangaan, sal ek haar seker moet laat inkom!’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
