Spanning tussen Taiwan en Sjina – ‘n Derde Wêreldoorlog op hande?
Die mensdom kan net hoop nugtere denke en koelkoppe kry die oorhand. Indien nie, is dit nag.
Met die oorlog wat sedert die Russiese inval in die Oekraïne reeds amper agt maande woed, en President Poetin se dreigement dat hy dalk kernwapens kan gebruik nadat sy magte groot terugslae beleef het, bestaan die vrees wêreldwyd dat die Derde Wêreldoorlog, en Armageddon, dalk op hande is. Veral omdat President Biden, toe hy gevra is of Amerika Taiwan sal verdedig indien Sjina die land aanval, by twee geleenthede sonder om te wyfel geantwoord het: ‘Ja’.
Die Withuis het daarna verduidelik dat Amerika se amptelike beleid oor Taiwan gladnie verander het nie, wat verwarring in die diplomatieke wêreld veroorsaak het omdat Amerika dekades reeds ‘n ‘strategies-dubbelsinnige’ beleid jeëns Taiwan volg. Aan die diplomatieke front steun die VSA die ‘een-Chinabeleid’, waarvolgens net een Chinese regering, in Beijing, erken, en formele diplomatieke bande met China, en nie Taiwan nie, gehandhaaf word. President Biden se reaksie het egter die aanduiding gegee dat Amerika se houding dalk verhard het. Speaker Nancy Pelosi se besoek aan Taiwan vroeër vanjaar het die spanning tot breekpunt gevoer toe Sjina reageer het deur uitdagende militêre oefeninge rondom Taiwan te hou en die besoek as ‘gevaarlik uitdagend’ te bestempel.
Taiwan, ‘n eiland voorheen bekend as Formosa, beskou homself as totaal onafhanklik van Sjina met sy eie demokraties-verkose regering. Daarenteen beskou Sjina die land as ‘n ‘provinsie wat weggebreek het’. Sjina hou jare lank reeds vol dat die hereniging van die twee lande onvermydelik is, voer aan hy wil dit vreedsaam bewerkstellig, maar het ook laat blyk militêre optrede is nie uitgesluit nie. Taiwan word net deur dertien lande ter wêreld, insluitend die Vatikaan, amptelik met diplomatieke betrekkinge erken. Hy was van 1949 tot 1971 ‘n lid van die VN, maar word nou deur die wêreldliggaam as bloot ‘n ‘gebied’ beskou. Ten spyte van sy internasionale diplomatieke isolasie, is Taiwan ‘n handelsvennoot van tientalle lande weens sy sterk en gesonde ekonomie. Hy domineer bv. die wêreldmark vir rekenaar-onderdele.
Die eiland is in die 17e eeu deu die Sjinese Qing-dinastie oorgeneem. In 1895 na die Sino-Japanse oorlog was dit Japan se beurt as die oorwinnaar. Nadat Japan in die Tweede Wêreldoorlog verslaan is, was dit weer onder Sjinese beheer . Intussen het ‘n burgeroorlog op die Sjinese vasteland ontstaan tussen die Kommunistiese Party van Mao ZeDong en die Nasionalistiese regering van Tsjiang Kai-Shek. Die Kommuniste het gewen en in 1949 ‘n regering in Beijing saamgestel. Chiang en sy party, bekend as die Kuomintang, het in hul honderdduisende na Formosa gevlug, en hulle daar gevestig, onafhanklik van die vasteland. China hou vol hierdie geskiedenis bewys Taiwan was oorspronklik ‘n Sjinese provinsie, en President Xi Jinping dring aan op hereniging. Taiwanese gebruik dieselfde geskiedenis vir hul argument dat die eiland nooit deel was van die moderne Sjinese staat wat in 1911 gevestig is of die Kommunistiese moondheid wat in 1949 onder Mao tot stand gekom het nie.
Die ooglopende vraag is of Taiwan homself sal kan verdedig, want hoewel hy ‘n puik weermag het, word dit deur Sjina s’n verdwerg. Daar is nie hier ruimte om getalle te noem nie, maar ‘n goeie aanduiding is die verskil tussen hul staande magte: Sjina net meer as 2-miljoen soldate, en Taiwan 170-duisend. Dit beteken egter nie dat Sjina oor Taiwan gaan loop nie. Indien dit wel moontlik was sonder groot verliese en skade aan die Sjinese vasteland self, sou dit waarskynlik reeds gebeur het. Die uwe het in 1980 en 1988 tydens besoeke aan Taiwan opnuut tot hierdie besef gekom.
In 1988 was ek sewe weke lank op ‘n kursus in strategiese oorlogvoering by die Fu Hsing Kang militêre kollege in Taipei, en was daar diep beïndruk met die Taiwanese se onwrikbare wil om hulself te verdedig. Hul haat in die Kommunisme het hul denke en dade oorheers. As deel van die kursus is ons groep internasionale studente na militêre basisse en -instellings oor die hele land geneem. Die oorwegende indruk was as daar een soldaat op aarde was met wie jy nie moet moeilikheid soek nie, is dit ‘n Taiwanees. Hul eenhede was destyds reeds, feitlik deur die bank, selfs hul vlieëniers en ander lugmaglede, benewens in die gebruik van moderne wapens, deeglik opgelei in individuele vegskunste, onder meer ‘n dodelike soort karate.
Hul fiksheid en ysere dissipline was opmerklik, veral op die eiland Quemoy, oftewel Kinmen, waarvandaan ‘n mens die vasteland kan sien, en waar hulle die eerste aanslag verwag. Hiermee bedoel ek nie dat die vasteland se militêre magte nie goed opgelei is nie. Allermins. Maar ‘n mens kan aanvaar die Taiwanese is deesdae net so paraat, indien nie meer nie, as destyds, en is in staat om verskriklike verwoesting op die vasteland te veroorsaak voordat hulle verslaan word.
President Xi besef dit, ook dat verskeie lande aan Taiwan se kant sal wees, en dat Amerika, in die huidige omstandighede, Taiwan waarskynlik militêr sal steun, met katastrofiese gevolge. Deskundiges op die gebied is dit eens dat die wêreld nou net so na aan ‘n kernoorlog is as met die Kubaanse missielkrisis in 1962. Die oorlog wat in die Oekraïne woed, en President Poetin se kerndreigemente, verhoog verhoog natuurlik die spanning.
Die mensdom kan net hoop nugtere denke en koelkoppe kry die oorhand. Indien nie, is dit nag.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
