Wouter se Watergat
Daar is verskeie jong spelers in sowel die agterlyn as skrum wat nog Springbokke gaan word.
Het ek verlede naweek nou geniet! Nie hier in KZN nie, maar in Johannesburg. Verlede Donderdag het Oom Pottie my omgepraat om saam met hom na die Goudstad toe te ry en die rugbywedstryd tussen die Lions en Ulster te gaan kyk. Ons kon by sy dogter in Ekurhuleni oornag, en Sondag terugkom. Ek het met vroulief gekonsulteer, sy het onderneem om die fort te hou, en die twee van ons is Vrydag-oggend vort in sy 1984-Toyota Cressida, die een met die ses silinders en outomatiese ratkas.
Hierdie motor is beter opgepas as wat die meeste mans hul kosbaarste besittings oppas. Feitlik nooit in die son gestaan nie, die leerbekleedsel ruik nog lekker en is sag van die Dubbin, slegs 125 000 kilometer op die ‘klok’, die rooi verfwerk blink soos nuut, en net waar ons stilhou draai mense se koppe. Elke tweede vreemdeling wil weet wat Oom Pottie vir die motor wil hê. Dit het my naderhand geïrriteer, maar Pottie het elke oomblik daarvan geniet. Seker die enigste rede waarom hy dit kan regverdig om met so ‘n motor, al is dit ‘n pronkstuk, Johannesburg toe en terug te ry en die massiewe brandstof- en tolgeldrekening te betaal. Die totale koste heen en weer was heelwat meer as R4 000, want die outomatiese ratkas en die drie-literkragbron se verouderde tegnologie het daarvoor gesorg.
Nietemin, ons het rustig gery, beurte gemaak om te bestuur, en na Nana Mouskouri en Luciano Pavarotti op die indrukwekkende Harmon Kardon-klankstelsel geluister. By sy dogter aangekom, het ons die aand gebraai, en was reeds teen twaalf-uur Saterdag op Emirates/Ellispark. Wat my onmiddellik opgeval het, was die erge agteruitgang van die omgewing sedert ek jare gelede laas daar was. Nietemin, dis nog steeds ‘n indrukwekkende stadion met ‘n ongelooflike atmosfeer. Redelik baie toeskouers vir ‘n wedstryd soos daardie, minstens 75 persent van hulle geklee in rooi en wit truie, en bankvas agter hulle span. Pottie was in die sewende hemel, en het my aanhoudend vertel hoe hy in die sestigerjare hier vir Simmer & Jack stut gespeel het teen onder meer Diggers en Rand Leases. Ons het yskoue jenewer en tonikum gedrink wat hy in ‘n plastiekbottel gemeng en in ‘n rugsak onder biltong en aartappelskyfies in ‘n klein koelsakkie versteek het, en ekself het gesit en die atmosfeer saam met die jenewer ingedrink. Toe die spanne twee-uur opdraf, was ons rustig maar versigtig optimisties oor die Lions se kanse.
Groot was my verbasing toe die Lions, ten spyte van onnodige foute, die Iere deeglik teenstand gegee het. Daar is verskeie jong spelers in sowel die agterlyn as skrum wat nog Springbokke gaan word. Oom Pottie is net bang sodra dit gebeur, gaan hulle deur die ryker unies of oorsese klubs gekoop word. Ewenwel, Ulster was gelukkig om die wedstryd te wen, want saam met skitter-rugby, het die tuisspan ongelukkig te veel foute gemaak. Bv. drie drieë teen hulle met Henco van Wyk weens ‘n geelkaart van die veld af. Toe Andries Coetzee reg aan die einde ‘n strafskop nie uit nie skop, en ‘n moontlike Lion-lynstaan teen die besoekers se doellyn nie gebeur nie, het Pottie omtrent ‘n hart-aanval gehad.
Nietemin, ‘n aanskoulike wedstryd, waarna ons met die spelers en hul afrigter op die veld gaan kennis maak het. Die aand Pottie se skoonseun se smaaklike biefstuk geniet, vroeg gaan slaap en met dagbreek hierheen teruggery na ‘n lekker wegbreek-naweek met my beste vriend.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
