Kerkhumor – ‘n baie spesiale plek in Afrikaanssprekendes se harte
Die eerste storie het hom op ‘n Sondagoggend afgespeel. Die tweede het hom ook op ‘n Vrystaatse plattelandse dorp afgespeel, op ‘n baie warm dag.
Van die Feverlesers wat die uwe se skryfsels die afgelope paar weke gelees het, het my laat weet hulle het dit interessant gevind, maar vra waarom soveel swaarmoedige en ernstige onderwerpe?” Dit het my laat dink, en ek het dit een aand in ’n gesprek met vriende genoem. Gedagtes is gewissel, en een van hulle met ‘n dominee-familielid wat hou van kerkhumor, het onderneem ommet hom te konsulteer en terug te kom na my toe.
Twee dae gelede stuur sy my drie afsonderlike stories waarby kleuters betrokke is, die eerste twee het blykbaar werklik iewers in die verre verlede in Vrystaatse kerke gebeur, chaos veroorsaak, en die laaste, langer bydrae is deur ‘n onbekende pa geskryf. Dis van haar dominee-neef se gunstelinge met die opskrif ‘kleuterwaarhede in die kerk’.
Die eerste storie het hom op ‘n Sondagoggend afgespeel. Pa is in die diakenbank, en ma sit met die vyfjarige Santie op die kerkbanke. Die kind is woelig, en ma het ‘n pakkie ‘jelly babies’ saamgebring om haar besig te hou. Die gemeentelede is egter baie bewus van haar en mamma is erg op haar senuwees. Die kleuter speel met die lekkertjies, en eet so nou en dan een. Skielik lig sy ‘n swart ‘jelly baby’ op tot voor haar ma se gesig, en praat kliphard: ‘Sê hallo vir die miesies! Chaos in die kerk.
Die tweede het hom ook op ‘n Vrystaatse plattelandse dorp afgespeel, op ‘n baie warm dag. Die gemeentelede is ongemaklik weens die hitte en die dominee se stem dreun voort. ‘n Rustelose seuntjie, so ses jaaroud, sit langs sy ouers. ‘n By verskyn skielik uit die niet, beland op die seuntjie se kop en steek hom. Hy wip op, klap homself teen die kop en verklaar luidkeels: ‘Hiert, hoe pik so ‘n f***en mot my!’ Weens die gevolglike geproes en lagbuie, ook van die dominee, het hy die diens vinnig beëindig.
Die derde storie: “Ons wasmasjien is al meer as ? week stukkend en die man by Gerber se winkel wat hom moet regmaak, verstaan waarskynlik nie wasmasjiene nie. Sodat almal verstaan, daar was nog nie papierdoeke soos nou nie. Op ? slegte dag kan jy tot vyf poefdoeke kry in die tyd wat dit neem om een met die hand te was. Die spanning loop hoog en Mamma sê as sy die man by Gerber in die hande kry, klap sy hom wakker!
Dit is nagmaal en ons waag dit kerk toe. Die agterste rye is reeds vol en ons kry plek in die middelblok. Klein Chris krap aan Mamma se rok: ‘Mamma, Mamma hier sit die oom van Gerber wat Ma wil wakker klap’. “Is Mamma is!” val een van die ander ook in. Soos by Sodom kyk al die voorste banke om en dié wat links sit, kyk regs en dié regs kyk links. Mamma en die man van Gerber sit soos soutpilare. Ek bid dat Lot se walvis my moet insluk. Of was dit nou Jona?
Ou Dominee tik op sy mikrofoon en maak keel skoon. Alles bedaar. Hy preek oor liefde en vergifnis. Vir die eerste keer in maande slaap al vier ons Filistynkinders op een slag. Tot die brood kom. Ek dink klein Chris kan kos in sy slaap ruik. Met die broodbordjie in my een hand en die ander een om klein Chris se gewrig, forseer ek sy handvol broodjies terug in die bord. “Maar Pappa ek is honger,” kerm hy terwyl Mamma angstig ? koekie uit haar handsak opdiep. Ek voel hoe die walvis my voor Ou Dominee en die gemeente uitspoeg. Mamma sit soutpilaar en kyk stip voor haar. Net haar mondhoek aan Chris se kant beweeg en ek verbeel my ek hoor iets soos “doodslaan by die huis’.
Ou Dominee maak harder keel skoon. Chris kou tevrede aan sy koekie, tot die wyn bedien word. “Wat is daai, Pa?” Ek probeer so sag moontlik verduidelik dat dit wyn is. “Issie Pappa jok! Dis brannewyn.” Die bank agter ons begin ruk. Ek verbeel my ek voel sproei teen my nek. Wyn sluk en lag inhou op een slag is nie maklik nie en toe Chris vra: “Gaan Pa hom skoon vat?” toe val die mure van Jerigo op my. Ou Dominee kyk na ons. Hy het al als gesien en hy verstaan ons verleentheid. “Toemaar broer en suster. Ons is almal deur die toets van kinders grootmaak. Ek weet julle is nou in die versoeking om die sewende gebod te oortreë, maar jy mag nie doodslaan nie. “Die gemeente lag en sommige knik hulle koppe. “Net soos wat hierdie brood en wyn ? teken van volkome vergifnis is, net so moet ons ook aan mekaar doen.”
Ek sien hoe Mamma haar hand op die man van Gerber se skouer sit en hy met ? glimlag omkyk en sê: “Jou wasmasjien se onderdele het gekom. Ek bring hom môre vir jou.” Ek voel hoe die man wat my gesproei het, sy hand op my skouer sit en ek kyk na Ou Dominee en die mense om my en ? vrede spoel oor my wat ek nie kan beskryf nie…”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
