South Coast Fever

Alle ervare joernalis het foute van die verlede wat by hulle spook

Die korporasie se geloofwaardigheid, wat destyds in elk geval onder verdenking was, het gevolglik op 2 November 1978 ‘n kwaai knou gekry waarvan hy moeilik sou herstel. En ek het steeds ‘n spook op my rug.

Omdat die uwe vandeesweek ernstige rekenaarprobleme gehad het, moes ek op die laaste oomblik ‘n plan maak om ‘n bydrae vir die Fever op te tower. Omdat daar geen tyd was om iets te skryf nadat die rekenaar herstel is nie, het ek besluit om ‘n bydrae van twee jaar gelede af te stof vir diegene wat dit nog nie gelees het nie.

Vyf jaar gelede het die vorige bestuurshoof van die SAUK, Wynand Harmse, my gevra om insette te lewer vir ‘n boek wat hy besig was om oor die geskiedenis van die organisasie te skryf. Ek moes diep dink oor die moeilike tye wat ons SAUK-joernaliste om verskeie redes moes deurmaak, en die foute wat ons gemaak het.

Redaksionele blapse was natuurlik meer traumaties, veral omdat die politieke toneel in die sewentiger- en tagtigerjare so plofbaar en sensitief was. Die besluit oor die grootste redaksionele fout tydens my 26 jaar by die SAUK was baie maklik. Dit was in die hitte van die destydse Inligtingskandaal in die sewentigerjare, en spook nog by my. Weens ‘n gebrek aan ruimte kan die volledige besonderhede nie hier genoem word nie, behalwe dat daar sedert die vroeë 1970’s groot onreëlmatighede aan die gang was in die destydse Department van Inligting met Dr. Eschel Rhoodie as Direkteur-generaal.

Ons SAUK-joernaliste het probeer vasstel wat aan die gang was, maar van die inligting wat ons gehad het, was so onvolledig dat dit nie gebruik kon word nie. Buitendien, die SAUK se posisie as die openbare uitsaaier het ons kwaai aan bande gelê want daar was baie tone waarop ons kon trap. Nietemin, die koerante het soortgelyke probleme gehad, maar twee top-verslaggewers van die Rand Daily Mail en Sunday Express, Chris Day en Mervyn Rees, het nietemin gereeld berigte geskryf oor die wanbesteding van belastingbetalersgeld op propagandaprojekte vir die NP-regering. Een van die bewerings was dat die Regering die Citizenkoerant besit het.

Dit was ontstuimige jare met die politieke opvolgstryd waarby onder meer mnr. John Vorster, dr. Connie Mulder, mnr. Pik Botha en mnr. P.W. Botha betrokke was. Die binnegevegte was intens. Namate inligting uitgelek het oor dr. Rhoodie se departement, wat dr. Mulder se verantwoordelikheid was, was die messe agter die skerms uit. Die Sunday Express het in Oktober 1978 ‘n berig gepubliseer dat die Citizen met staatsgeld gefinansier is, en basies regeringsbesit was. Die spreekwoordelike hel het losgebars, en regter Anton Mostert, wat vroeër in die jaar deur President Nico Diederichs aangestel is om onreëlmatighede ivm valuta-beheermaatreëls te ondersoek, het in sy ondersoek op inligting oor die Citizen-gebeure afgekom. Hy het sleutelfigure ondervra, en besef hy sit op ‘n tydbom.

‘n Vergadering met die Eerste Minister, Mnr. P.W. Botha, het op 2 November gevolg, net meer as 44 jaar gelede, onderwyl die uwe en ander kollegas buite die premierskantoor in die Uniegebou staan en wag het. Regter Mostert het die kantoor skielik met ‘n stroewe gesig verlaat, en ons meegedeel hy sou later ‘n nuuskonferensie in ‘n nabygeleë gebou hou. Ons het ons soontoe gehaas, en die regter het verduidelik hy het besluit om al die getuienis bekend te maak, strydig met die wense van premier Botha, wat onder meer wou hê regter Mostert moes ook getuienis van ander amptenare aanhoor.

Die regter het verklaar die getuienis wat hy reeds gehad het oor korrupsie en die wanbesteding van belastingbetalersgeld was so verdoemend dat hy nie ‘n keuse gehad het as om alles op die lappe te bring nie. Dit was vir myself, en ander, ‘n skokkende ervaring. Al die dokumentasie en getuienis was daar. Ek het self die klein Volkskastjek ten bedrae van 4-miljoen rand met dr. Louis Luyt se handtekening waarmee die Citizen in sy naam gekoop is, in my hande gehad. Ons het almal na ons onderskeie kantore teruggejaag om die inligting te gaan verwerk.

By die kantoor het ons ‘n nood-redaksievergadering gehou, en het die senior bestuur besluit om die inligting nie te gebruik nie. Die rede was omdat die regter sekere gepromulgeerde regulasies oortree het, en die SAUK se handves die openbare uitsaaier verbied het om enige wet te oortree. Regstegnies korrek, maar weens die monumentale omvang van die skandaal sou die SAUK dit wel kon doen, soos die ander nuusmedia, sonder gevolge. Ek was egter te verlig, want dit sou ‘n feitlik-onmoontlike taak gewees het om die volle omvang van die aankondiging alleen binne enkele ure te verwerk. Daardie aand het my gewete begin knaag, want ek het besef indien ek as politieke korrespondent, wat midde in die gebeure was, onwrikbaar daarop aangedring het, sou ek die senior nuusbestuur waarskynlik kon oortuig. En ek het nie. Die SAUK het die gebroke vaas die volgende dag opgetel en probeer aanmekaar plak, maar die skade was gedoen.

Die korporasie se geloofwaardigheid, wat destyds in elk geval onder verdenking was, het gevolglik op 2 November 1978 ‘n kwaai knou gekry waarvan hy moeilik sou herstel. En ek het steeds ‘n spook op my rug.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button