South Coast Fever

“Portuurgroepe bepaal jou kind se gedrag, nie jou opvoeding nie”

Opinion piece by Johan Pretorius.

‘n Interessante insetsel op my Facebookblad vandeesweek het my oog gevang. Die inhoud daarvan is nogal kontroversieël, en omdat die doel is om weekliks ‘n verskeidenheid interessante en wetenswaardige onderwerpe met Feverlesers te deel, noem ek dit hier.

Soos my Facebookvriend Charl Adams uitwys, het ons as Sielkunde-studente op universiteit kennis geneem van die groot name soos Freud, Jung, Erikson, Kant en ander vaders van die sielkunde wie se sienswyses ‘n groot invloed gehad het op die grootmaak van kinders. Hy wys daarop veral Erikson het swaar geleun op Freud se sienings en het met sy aandag aan die psigo-sosiale ontwikkeling van die kind, die standaard teksboek geskep. Dit word reeds deur generasies van skrywers, beraders, psigoloë maar veral ouers gebruik as verwysing oor hoe om kinders groot te maak. Letterlik duisende boeke, joernale en artikels is geskryf oor dieselfde onderwerp en sommige van hulle, soos die geestelike Tim La Haye in sy boek, ‘The Act of Marriage’, kombineer Erikson se ontwikkelings-sielkunde met die Bybel. Die algemene uitgangspunt was dat die ouerpaar, pa en ma, die katalisator is vir ‘n welopgevoede en gebalanseerde kind. Hulle lê dus die fondasie vir persoonlikheids-ontwikkeling en volwassewording.

In 1998 skryf Judith Harris, ‘n Amerikaanse sielkundige, die boek : The Nurture Assumption: Why Children Turn Out the Way They Do. Sy was ‘n Harvard-student wat deur die Dekaan, George A Millar, uit die Sielkunde-fakulteit geskop is sonder haar PhD weens ‘onbevredigende werk’. Jare later sou die American Psychology Association (APA) haar die hoogste erkenning gee, ‘n prys in die naam van dieselfde man , George A Millar, wat haar by Harvard afgedank het.

Die uwe het op die Internet leeswerk oor haar gedoen, en vasgestel haar grondliggende uitgangspunt was dat mense se persoonlikhede nie hoofsaaklik bepaal word deur die manier waarop hulle deur hul ouers opgevoed word nie. Hoewel sy die boek reeds in 1998 geskryf het, is haar bevindings steeds groot besprekingspunte in die sielkunde. Sy het onder meer bevind indien ouers bv. aggressiewe kinders het, is dit nie noodwendig die gevolg van die voorbeeld van die ouers nie. Hoofsaaklik omdat die aggressiwiteit ‘n genetiese oorerwing is. Netsoos talle aangenome kinders wie se persoonlikhede baie min ooreenstem met dié van hul aangenome ouers. Eerder met dié van hul biologiese ouers, wat niks te doen gehad het met hul opvoeding nie. Harris meen dis ‘n fout om die ouerlike opvoedingsproses as ‘n sinomiem te gebruik vir ‘omgewing’, ‘n begrip wat baie wyer strek.

Sy sê, strydig met Freud en Erikson et al. se bevindings, die rol van die ouers is minimaal in die sosialliseringsproses en die ontwikkeling van die kind se persoonlikheid. Die grootste invloed in die vorming en sosialisering van ‘n kind is deur sy portuurgroep, en die genetika bepaal tot 60% van wat van die kind word. Die opvoedingsinvloed van veral die ma is dus nie bepalend in die ontwikkeling van die kind se persoonlikheid nie. Een van Harris se bevindings wat veral in vandag se tydsgewrig { met die verskillende eksterne invloede soos die sosiale media ) ter sake is, is dat ander kinders in die kind se portuurgroep grootliks bydra to wat die uiteindelike persoonlikheid/menslike gedrag van die kind sal wees. Soos verwag kon word was daar destyds onmiddellik ‘n teenreaksie vanuit veral die gevestigde sielkunde, maar blykbaar kon niemand haar nog verkeerd bewys nie. Haar bevinding dat dit ‘n mite is dat twee ouers van teenoorgestelde geslag onontbeerlik is vir die ‘gesonde’ opvoeding van ‘n kind, het in akademia en in kerkgroepe konsternasie veroorsaak.

Harris het ook daarop gewys dat baie studies onder tweelinge nie daarin kon slaag om ‘n sterk konneksie te bepaal tussen die tuis-omgewing en hul persoonlikhede nie. Identiese tweelinge verskil eweveel, of hulle nou saam of apart grootgemaak word. Harris se hoofargument is dus dat die genetika ‘n dominanrte invloed speel in die persoonlikheid/psige en uiteindelike gedrag van kinders, tesame met die portuurgroep waarin hulle hulle bevind, eerder as die gesinsopset. Ter stawing wys sy daarop die kinders van immigrante leer die taal van hul nuwe land baie vinniger en met die korrekte aksent aanleer as hul ouers. Kinders identifiseer met klasmaats en speelmaats, eerder as hul ouers, en verander hul gedrag om aan te pas by die portuurgroep, wat dan grootliks bydra tot karaktervorming by die individu.

Die uwe is uiteraard nie ‘n kenner van sielkunde nie, maar indien Harris se bevindings net naastenby geldig is, het hedendaagse ouers baie stof tot nadenke. Aan die genetika kan ons niks doen nie, maar wanneer dit en portuurgroepe, en by implikasie die kind se omgewing en alles wat op hom of haar in hierdie digitale era inwerk, ‘n groter vormingsrol speel as die opvoeding by die huis, is daar ‘n probleem – ‘n ernstige probleem waarvan hedendaagse ouers virseker reeds kennis geneem het. Die vraag is: Wat is die oplossing? Indien daar wel een is?

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button