In die uwe se loopbaan in die joernalistiek was daar verskeie traumatiese tydperke in die Suid-Afrikaanse politiek, van 1966 tot 1994, en ek het die voorreg gehad om oor daardie jare oor hierdie gebeure verslag te doen.
Die heel eerste ervaring daarvan was in September 1966, slegs my tweede maand in die beroep. Ek was die teleksversorger (copy boy) by Die Transvaler in Braamfontein, toe die teleksmasjiene op 6 September net na twee-uur die middag begin raas. Ek kry die skok van my lewe. Die eerste minister, Dr. Hendrik Verwoerd, is in sy sitplek in die parlement deur ‘n parlementêre bode met ‘n mes doodgesteek.
Benewens die oorweldigende emosie oor die omstandighede van die dood van dr. Verwoerd, was hy destyds bekend as ‘n beginselvaste leier van die Afrikanervolk wat reeds een aanslag op sy lewe oorleef het, en ‘n simbool van hul oorlewing. Op daardie tydstip het die buitelandse druk erg begin toeneem teen die beleid van apartheid. Een van die sleutelfigure in die regering van destyds was die Minister van Justisie en Polisie, mnr. John Vorster, wat onverbiddellik teen binnelandse anti-apartheidaktiviste opgetree het, en in die proses ‘n ‘sterkman’-reputasie opgebou het.
Weens ‘n gebrek aan ruimte om ‘n meer volledige relaas van daardie tyd te gee, deel ek met lesers van die SC Fever net enkele sleutel-herinneringe oor die gebeure van 6 September 1966 en daarna. Oor 6 September bly die beskrywing van wat gebeur het deur die destydse Minister van Vervoer, mnr. Ben Schoeman, my by: “Ek was reeds in my plek in die raadsaal toe Verwoerd ingekom het, met ‘n vriendelike glimlag gegroet en op sy plek in die bank langs myne gaan sit het. Hy het omgedraai om met die swepe in die bank agter hom te gesels. Ek hoor iets, kyk op en sien dat Verwoerd met sy arm ‘n bode keer wat met ‘n mes na hom steek.
Ek spring op, maar gelyktydig gryp twee ander lede die bode en bring hom grond toe. Die mes word afgeneem en hulle sleep die aanvaller tot in die middel vas die saal. ‘n Geneesheer van die opposisiekant hardloop na Verwoerd. Nog twee geneeskundiges kom by. Hulle gee hom ‘n inspuiting en en dr. Fisher begin kunsmatige asemhaling toepas. Ek staan voor Verwoerd se bank, en kyk na hom. Ek sien meteens hy word spierwit van sy voorkop af ondertoe. Sy mond val oop. Ek weet dis die einde.”
In die week na dr. Verwoerd se dood was daar groot onsekerheid oor sy opvolger, en die organiseerders van verskillende kandidate het aan die werk gespring. Daar was ‘n groot gewoel agter die skerms, maar uiteindelik was daar net twee kandidate, mnr. Vorster, wat slegs 13e op die senioriteitslys in die kabinet was, en mnr. Ben Schoeman, die leier van die NP in Transvaal en hoog-aangeskrewe aan albei kante van die raad. Hy het hom uiteindelik onttrek en mnr. Vorster is onbestrede as die nuwe eerste minister verkies.
Ons joernaliste was bewus daarvan dat mnr. Schoeman nie gelukkig was met die veldtog teen hom nie, maar eers later besef hoe erg dit was toe besonderhede bekend geword het. Mnr. Schoeman het in sy biografie verklaar: “Ek was absoluut gekant teen stemwerwing vir my. Ek wou my nie in ‘n swartsmeerdery begewe nie. Die Maandag na die begrafnis op 10 September het ek van die geskindery teen my gehoor. Tot die feit dat my ouers aan die Apostoliese Geloofsending behoort, is teen my gebruik, alhoewel ekself en my vrou NG Kerk-lidmate was. My vrou is ook nie ontsien nie. Sy sou dan baie lief vir drank wees, terwyl sy nooit haar lippe aan drank gesit het nie. Baie ander smeerstories wil ek nie eers noem nie. Dit het my so gewalg dat ek besluit het om op die koukusvergadering my kandidatuur terug te trek.”
My laaste herinnering handel oor die lot van Dmitri Tsafendas, die bode wat dr. Verwoerd se lewe geneem het. Daar was onmiddellik bespiegelings oos sameswerings met sinistere ondertone oor wie hom ‘gestuur’ het. Mnr. Vorster het later laat blyk dat hy die destydse hoof van die Veiligheidspolisie, generaal Hendrik van der Bergh, onmiddellik ontbied het. Hy het Tsafendas deeglik ondervra, en mnr. Vorster se kommentaar daarna was: “Ek sê vir jou as ‘n man nà 48 uur se ondervraging deur Van der Bergh nie breek nie, dan weet jy hy weet absoluut niks nie.” Van den Bergh se bevinding was dat dit een man se werk was en dat Tsafendas nie vir sy dade verantwoordelik gehou kon word nie.
In sy uitspraak na die daaropvolgende hofsaak het regter Andrew Beyers verklaar Tsafendas was so erg geestelik versteurd dat hy nie verhoor kon word nie, en dat hy alleen opgetree het. Ten spyte hiervan, het lede van die Herstigte Nasionale Party, en hul leier, mnr. Jaap Marais, tot aan die einde van sy lewe volgehou Tsafendas was deel van ‘n internasionale komplot om dr. Verwoerd te vermoor.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
