Die oorsprong van die liedjie Sarie Marais – wie was sy?
Opinion piece by Johan Pretorius.
Op Erfenisdag het die uwe toevallig in ‘n tydskrif afgekom op ‘n verwysing na die liedjie Sarie Marais, en die oorsprong daarvan. Daar was bitter min inligting buiten die stelling dat dit onlosmaaklik deel is van die Afrikaanssprekendes se erfenis. Ek het internetbronne geraadpleeg en besef dis nogal ‘n komplekse saak, want daar was inderwaarheid twee Saries, dis uiters moeilik om te bepaal wie die lirieke geskryf het, en wanneer. Daar is verskeie weergawes oor die liedjie se oorsprong, en ek het die baie beskikbare inligting in die min beskikbare ruimte probeer saamvat. Wie was Sarie?
’n Afrikaanse tydskrif spog met haar naam; musiekkunstenaars in Suid-Afrika is in die jare 70 en 80 beloon met ’n Sarie; die melodie is die skoollied van ’n hoërskool in Kobe, Japan; en dis al by geleentheid in die buiteland uit onkunde as Suid-Afrika se volkslied beskou. Josef en Miranda Marais het in die jare 50 en 60 baie gedoen om met hulle eie Engelse weergawe te sorg dat “Sarie Marais” wêreldbekend word. Dis ook al sedert 1953 die amptelike mars van Brittanje se Royal Marine Commandos en word tydens seremoniële geleenthede as die regimentsmars gespeel. Dis ook deel van die repertoire van die Franse Vreemdelegioen wat dit op Frans sing.
Daar is ’n hele paar historiese weergawes oor die herkoms van hierdie gewilde liedjie. Naby Kranskop op die pad tussen Greytown en die see is ’n groot bord wat die plek aandui waar Sarie Marais se graf is. Hierdie Sarie Marais is op 10 Mei 1840 gebore en sy het as 17-jarige in 1857 met Louis Nel getrou. Hulle het op die plaas Welgegund in die distrik Kranskop gewoon en elf kinders is uit die huwelik gebore. Sarie is in 1877 op 37-jarige ouderdom oorlede, twee dae na die geboorte van haar jongste kind, en sy is op die plaas begrawe. Hierdie “Sarie” was volgens hierdie weergawe die aanvanklike inspirasie vir die liedjie wat wêreldbekend geword het as “Sarie Marais.”
Die romantiese weergawe oor die herkoms is soos volg: Kort voor generaal Louis Botha en die Boeremagte se beplande derde inval in Natal in 1902 het Ella de Wet, eggenote van Botha se militêre attaché, Nicolaas Jacobus de Wet, met die toestemming van Lord Kitchener en met Britse begeleiding by die Boeremagte naby Louwsburg gaan besoek aflê. Ella de Wet het die burgers op die plaashuis se klavier vermaak en die enigste beskikbare bladmusiek was “The Cavendish Song Book” en die gewildste liedjie in hierdie bundel was “Ellie Rhee”. Die refrein was baie gewild onder die slawe in die katoenlanderye en plantasies in die Amerikaanse suide. Die Boere was egter ongemaklik met die Engels en het summier hulle eie lirieke geskep.
So het die Amerikaanse “Ellie Rhee” volgens hierdie weergawe spontaan die Afrikaanse “Sarie Marais” geword. Die woorde van “Sarie Marais” het egter duidelik niks met Sarie (Marais) Nel te doen nie, want sy is oorlede “nog voor die oorlog het begin”. “Mooirivier” in Natal kan dalk aan haar gekoppel word maar nie veel meer nie. Eintlik is dit ’n liedjie uit die Boere-oorlog en oor die krygsgevangenes in ballingskap. Na die oorlog, dus na 1902, het Ella de Wet die musiek en lirieke verwerk en dit as “Sarie Marais — ’n Afrikaanse volkslied” gepubliseer.
Die verhaal van die liedjie wat oënskynlik vernoem is na Sarie Marais (Nel) strook nie met die ander en waarskynlik die korrekte en minder romantiese verhaal nie. Die “regte” Sarie was waarskynlik Susara Margaretha Maré, dogter van ’n bekende Pretorianer van die 19e eeu, Jacob Maré, ’n lid van die uitvoerende raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Een van die vroeë taalstryders en ook digter uit die Paarl, Jacobus Petrus Toerien, kortweg genoem JPT, het na Pretoria gekom om die koerant De Republikein tot stand te bring.
In Pretoria het hy die pragtige Sarie Maré (let wel, nie Marais nie) ontmoet en op haar verlief geraak. Hulle is later verloof. Hy was omstreeks 1884 met vakansie in die Paarl en daar het hy glo in groot verlange die woorde vir “Sarie Marais” geskryf. JPT en Sarie is in 1885 getroud en hulle het 16 kinders gehad. Sarie (Maré) Toerien was sowat 12 jaar jonger as haar eggenoot en sy is op 22 Desember 1939 oorlede. Toerien was ’n bekwame digter wat in Nederlands, Afrikaans en Engels gedig het. JP Toerien is as krygsgevangene na Ceylon gestuur en volgens oorlewering het hy op die skip die woorde van “Sarie Marais” neergepen. Omstreeks dieselfde tyd toe Ella de Wet haar inspirasie op ’n klavier in ’n plaashuis naby Louwsburg opgeteken het. Watter weergawe is waar? Het JPT die woorde in 1884 geskryf of was dit toe hy as krygsgevangene op pad na Ceylon was? Of was Ella de Wet tog die verwerker/liriekskrywer?
Volgens die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (SAMRO) is die melodie van “Sarie Marais” ’n verwerking van “Ellie Rhee” deur Septimus Winner (sonder kopiereg) en die woorde deur J P Toerien (sonder kopiereg). Dis ook hoe dit in die FAK-Sangbundel opgeteken staan.
Wie was Sarie Marais dan? Ons sal dalk nooit regtig weet nie.
Like the South Coast Fever’s Facebook page
