Die Wêreldbeker-rugbytoernooi – ‘n klug, of nie?
Opinion piece by Johan Pretorius.
Hierdie kontensieuse saak is meer as drie jaar gelede reeds deeglik in die internasionale rugbymedia bespreek en uitgepluis, maar met die Rugby- wêreldbekertoernooi in volle swang, kom dieselfde kritiek na vore namate die kompetisie vorder. Kommentare soos ‘dis ‘n klug’, ‘jammerlike ramp’ of ‘n ‘belediging vir die top-rugbylande’, is algemeen.
Die groot beswaar is natuurlik die loting wat drie jaar gelede gedoen is op grond van die ranglyste van destyds. Dis ‘n algemene waarneming dat die rugby van die afgelope maand eerder vervelig was as briljant. “Die wereld se rugbybase yl indien hulle meen Roemenië se nederlae van 83-8 teen Ierland, 76-0 teen Suid-Afrika en 84-0 teen Skotland, en Italië se loesing van 96-17 teen die All Blacks hou enige voordeel vir die groei van die spel in,” was ‘n top-joernalis se kommentaar. Ditto. Die harde werklikheid is daar is net vier spanne wat, realisties gesproke, die Wêreldbeker kan wen, maar die toernooi word ‘verkoop’ as ‘n kompetisie vir 20 spanne. Dis mos onrealisties.
Die loting vir vanjaar se toernooi is in Desember 2020 gedoen, 13 maande na die toernooi van 2019 in Japan, amper drie jaar voor die huidige toernooi. Covid-19 het wel ‘n groot rol in die proses gespeel, want die WRK-raad het agv. daarvan besluit dat die ranglyste soos op I Januarie 2020 gebruik sou word om die vyf groepe te bepaal. Dit het beteken dat geen toetswedstryde na die kompetisie van 2019 gebruik sou word as basis in die samestelling van die groepe nie. Dit maak mos geen sin nie. Die ranglys wat toe wel gebruik is, het meegebring dat Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Engeland en Wallis in die eerste poelgroep was. Engeland en Wallis het intussen uit die groep geval, met Engeland wat sesde en Wallis wat nou tiende op die lys is. Dit beteken dat slegs twee van Ierland, Frankryk, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Skotland, die halfeindrondes kan haal. Twaalf van die 20 spanne het outomaties gekwalifiseer weens ‘n top-drie plasing in hul onderskeie 2019-groepe.
Die groepe soos op 1 Januarie 2020: 1: Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Engeland, Wallis. 2: Ierland, Australië, Frankryk, Japan. 3: Skotland, Argentinië, Fidji, Italië. 4: Oseanië, Europa 1, Amerikas 1, Asië/Stille Oseaan 1. 5: Afrika 1, Europa 2, Amerikas 2, Wenner van die Kwalifiseringsfinaal.
Indien die trekking aan die begin van vanjaar gedoen is, sou die top drie groepe so daar uitgesien het: 1: Ierland, Frankryk, Nieu Seeland, Suid-Afrika. 2: Engeland, Australië, Skotland, Argentinië. 3: Wallis, Japan, Italië, Fidji.
Die anomalie kan duidelik gesien word wanneer die lande in die vier groepe se huidige rangordesyfers van vroeër vanjaar in ag geneem word, wat nie veel van die huidige verskil nie: A. Nieu-Seeland (3), Frankryk (2), Italië (14), Uruguay (17), Namibië (21). B Suid-Afrika (4) Ierland (1), Skotland (5), Tonga (15), Roemenië (20). C. Wallis (9), Australië (7), Fidji (13), Georgië (12), Portugal (16). D. Engeland (6), Japan (10), Argentinië (8), Chili (22).
Dit beteken dat slegs twee van Ierland, Frankryk, Nieu-Seeland, Suid-Afrika of Skotland die half-eindrondes kan bereik. Wêreldrugby het reeds aangekondig dat groot veranderings gemaak sal word aan die poeltrekking voor 2027 na samesprekings en onderhandelings met die gasheerland. Die gasheerland, Frankryk, is in Groep A saam met Nieu-Seeland, terwyl Suid-Afrika en Ierland albei in Groep B is.
In die kwarteindrondes kom die wenners van Groep A te staan teen die naaswenners van Groep B, en omgekeer, wat beteken dat ‘n maksimum van twee van die vyf beste spanne die halfeindrondes kan bereik. Kritici is dit eens dat drie van die wêreld se vyf beste spanne nie in dieselfde poelgroep moet wees nie. Die realiteit is dat óf Skotland, óf Ierland óf Suid-Afrika die kollaterale skade sal wees.
Die uwe kon ook nie anders nie as om te dink aan die manier waarop Suid-Afrika in 2017 ‘beroof’ is toe Frankryk in uiters verdagte omstandighede aangewys is as die gasheer van vanjaar se toernooi. Suid-Afrika se bos, wat allerweë as deeglik voorverei en waterdig beskou is, is deur die onafhanklike tegniese komitee van Wêreldrugby, na ‘n deeglike ondersoek, as die wenner aanbeveel. Binne 24 uur het Wêreldrugby se destydse vise-president en leier van die Franse bod, Bernard Laporte, ‘n verwoede aanval op
Wêreldrugby geloods, en lang vergaderings agter geslote deure gehou om die uiteindelike besluit, wat die volgende dag geneem sou word, in Frankryk se guns te manipuleer. Verskeie lande se organisasies, onder meer Rugby Afrika, het van plan verander en ten gunste van Frankryk gestem, en teen die aanbeveling van Wêreldrugby. Die skok en ongeloof was groot, want iets het ooglopend agter die skerms gebeur. Toe Laporte en die gewese hoofbestuurder van Wêreldrugby, Claude Aitcher, in Desember verlede jaar op aanklagte aan korrupsie skuldig bevind is ivm. ‘n ander saak, het talle hooggeplaaste rugbymense verklaar: “Ons het julle mos gesê”.
Dit het egter niks verander nie, en die kanse dat Suid-Afrika in die nabye toekoms weer ‘n toernooi sal aanbied, is weens talle veranderde omstandighede, feitlik nul.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
