Op straat, vol blaas, ver van openbare toilet: Wat nou?
Opinion piece by Johan Pretorius.
Die uwe het ‘n paar jaar gelede oor hierdie saak geskryf, maar ‘n nuwe ervaring gehad wat dit weer op die voorgrond geplaas het. Ek het middagete saam met ‘n vriend geniet, geen rede gehad om te dink ek moet eers toilet toe gaan nie, en huis toe gery. Na vyf minute het ek besef dit was ‘n fout want my blaas het begin noodseine stuur. Sag, maar die boodskap was duidelik.
Ek het begin rondkyk vir ‘n motorhawe, maar soos die noodlot dit in hierdie sake bepaal, was daar niks in sig nie. Net klein sake-ondernemings soos vir wegneemetes, motor-onderdele en dies meer. Soos my rit gevorder het, het ek geweet ek moet ‘n plan maak. Skielik het ek besef ‘n entjie vorentoe, indien ek by ‘n aansluiting regs draai, is daar ‘n kuierplek ( pub ) wat ek goed ken. Daar aangekom, het ek ingestap, langs die een muur af, sonder dat enigiemand my opgemerk het, tot by die manstoilet, my nood verlig, en uit dankbaarheid by die toonbank gaan sit en en ‘n bier bestel.
Daar het ek die saak bepeins, en ‘n voorval onthou van enkele jare gelede in Durban. ‘n Man en sy vrou was op ‘n wandeling, en het by ‘n restaurant ingegaan om die toilette te gebruik. Toe hulle weer buitentoe gaan, het die restaurant-eienaar hulle teruggeroep en aan hulle ‘n rekening vir R20 elk oorhandig vir die gebruik van die toilette. Hoe meer hulle geprotesteer het, hoe beslisser was die eienaar. Hy het hulle aandag gevestig op die kennisgewing voor sy restaurant, met die woorde: ‘Toilets are for restaurant customers only. Buying just drinks will not qualify you to use these toilets. Therefore it is unlawful/dishonest/ theft/ haraam to use this facility without permission. Service charge of R20 per person payable at the counter. This is not a public toilet’.
Die man en sy vrou het teësinnig betaal, maar onmiddellik daarna ‘n debat op die sosiale media begin en die restaurant-eienaar uitgekryt vir alles wat sleg is. Kommentare het heen en weer gevlieg: talle mense het met die man saamgestem, maar netsoveel was aan die kant van die restaurant-eienaar. Sy standpunt was dat sy restaurant private eiendom is, en die toilette is tot die beskikking van die eienaars en hul gaste, en die personeel. Daarom het hy die kennisgewing daar geplaas. Hy gee nie om indien mense wat nie besoekers aan sy restaurant is nie, die toilette gebruik nie, maar dan moet hulle betaal.
Die geld word gebruik om die koste van skoonmakers, water en elektrisiteit te dek. Daar is openbare toilette in die omgewing, het hy gesê, en mense kan dit gebruik. Daarbenewens, het die eienaar gesê, het die man en vrou vroeër in ‘n ander restaurant geëet, en kon daardie toilette gebruik het. ‘Mense kom hier in, koop ‘n bottel water teen R10 en dan wil vier van hulle toilet toe gaan. Dis mos belaglik.’ Die twee besoekers was egter erg verontwaardig, en het die restaurant-eienaar erg verguis. Hy het hom egter nie daaraan gesteur nie.
Restaurante, hier aan die Suidkus, het almal met die Durbanse sakeman saamgestem. Hulle weier dat mense sommer net instap en hul toilette gebruik, want sodra dit toegelaat word, is daar ‘n toestroming wat moeilik gekeer word. Die restaurant voor op Margate se strandfront het ‘n besonderse probleem, want dit gebeur gereeld dat die munisipale toilette buite werking of oorvol is, met die gevolg dat die mense op die vol strande sommer daar instap en die toilette gebruik. Hulle handhaaf ‘n streng beleid daarteen, wat heeltemal te verstane is. Die publiek is egter nie altyd so begrypend nie.
Die uwe weet ook van gevalle waar mense by sake-ondernemings soos drankwinkels instap en vra of hulle die toilette kan gebruik. Die meeste van die eienaars hanteer die gevalle op meriete, maar die oorgrote meerderheid laat dit eenvoudig nie toe nie. Van die mense vra nie eers nie. Hulle loop eenvoudig na die toilet toe en gaan in. Soos met my gebeur het toe ek jare gelede ‘n drankwinkel hier aan die kus bedryf het. En wanneer hulle aangespreek word, is hulle kwaad.
Hoe moet hierdie netelige saak gehanteer word? Bv. wat gebeur indien iemand, dalk ‘n kind, ‘n skielike nood kry en dringend toilet toe moet gaan? Myns insiens is die Durbanse restauranteienaar van destyds se plan, wanneer ‘n restaurant ter sprake is, om ‘n kennisgewing aan te bring dat ‘n sekere bedrag betaal moet word, die aangewese ding. Kansvatters word dan uitgeskakel, mense in nood word gehelp, en die restaurateur voel nie misbruik nie. Ondernemings wat nie in die gasvryheidbedryf is nie, en baie minder hiermee te doen kry, moet myns insiens sake bloot volgens meriete hanteer.
Ter afsluiting: Wat my nogal interesseer, is waarheen gaan mense wat deel is van die skares van derduisende betogers oor die een of ander saak in sommige oorsese lande, en wat skielik ‘n nood ontwikkel? Ek het ‘n spesmaas die antwoord is: Nêrens.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
