South Coast Fever

Stiltetyd

Elke mens smag na rus

In ’n snelveranderende en gejaagde wêreld smag elke mens na rus, waters van rus. Tog is rus, sielerus as jy wil, iets wat baie mense ontbeer en altyd na bly smag. Ook die Psalmis van Psalm 131 smag daarna as hy bid: “Here, my hart is nie hoogmoedig nie en my oë is nie verwaand nie.

Ek hou my nie besig met groot dade of wat te wonderbaar is vir my nie. Maar ek het my siel tot kalmte en bedaring gebring, soos ’n kindjie by sy moeder, soos ’n kindjie is my siel in my.”

Die digter praat van verwaande oë. Mens se oë is die uitstalvenster van jou siel of die gesindheid van jou hart. Sy totale lewe reflekteer nie ‘n gesindheid van hoogmoed en selfverheffing nie. Die digter beklemtoon dat hy homself nie verhef nie: sy hart is nie hoog nie. Die hart is die setel van die lewenshouding. Selfverheffing is die neiging om te veel van jouself te dink. Dis om te groot dunk van jouself en jou vermoëns te hê.

Dit lei nie net daartoe dat jy dink jy is beter as ander mense nie. Selfverheffing lei ook daartoe dat jy die plek van die Here in jou lewe ontken. Dit kan lei tot ‘n totale miskenning van God in jou lewe. Dit op sigself lei tot onrus en onvrede.

Ons mag oor baie dinge verskil. Maar as daar een ding is waaroor ons almal seker sal saamstem, dan is dit dat ons almal rus en kalmte verlang. Die lewe is deesdae so gejaagd. Daar is soveel aansprake op ons lewens. Soveel stemme wat kompeteer om ons harte. Daar gebeur so baie dinge wat ons onrustig maak.

Ons raak al meer gespanne. Angs en depressie het kenmerkend van ons tyd geword. Hoe verlang ons nie dat alles net rustig en kalm sal verloop nie. Is dit nie een van die redes dat ons telkens uitsien na ‘n vakansie wanneer ons net weer tot stilstand kan kom nie? Sal jy dan nie vandag hierdie kort Psalm bid nie? “Here, bring my tot kalmte en bedaring, soos ’n kindjie by sy of haar moeder, is my siel in my.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Check Also
Close
Back to top button