South Coast Fever

Die BELA-wetsontwerp – die einde van Afrikaanse skole?

Opinion piece by Johan Pretorius.

In die Afrikaanse gemeenskap- en onderwysgeledere is daar groot bekommernis oor wat die uitwerking van die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as Bela) op Afrikaanse skole gaan wees. Tot nou toe het skoolbeheerrade self hul toelatings- en taalbeleid kon bepaal, maar ingevolge die wetgewing word hulle verplig om dit vir goedkeuring aan provinsiale onderwysowerhede voor te lê.

Die Afrikaanse gemeenskap is al herhaaldelik deur ANC-lede van die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys, provinsiale onderwyshoofde, die adjunk-minister en die Minister van Basiese Onderwys daaraan herinner dat die regerende party teen die bestaan van enkelmedium-Afrikaanse skole gekant is. Dit gebeur ten spyte van dié skole se prestasie, die departement se verklaarde waardering vir moedertaalonderrig en vele nasionale en internasionale bewyse daarvoor dat dubbel- en parallelmedium-onderwysinrigtings mettertyd enkelmedium-instellings in die sterkste taal word. Dat die gemeenskap dus vrees dat hierdie wetgewing die einde van Afrikaanse skoolonderrig sal beteken, is nie sonder rede nie.

Stappe om die wetgewing deur te voer kom reeds van 2017 af, is deur verskeie stadiums geneem, en die laaste openbare insette is die afgelope maande gelewer. Die regering beplan om die wetgewing nog voor die verkiesing deur President Ramaphosa te laat onderteken. Verlede Maandagaand het die vakbond Solidariteit ‘n ‘Belaberaad’ aanlyn en by die hoofkwartier in Pretoria gehou waatydens die impak daarvan op kinders, ouers en skole bespreek is.

Die hoof van Solidariteit se onderwysnetwerk, dr. Johan Botha, het verklaar daar is ernstige kommer dat die wetgewing ernstige bedreigings inhou vir spesifiek Afrikaanse skole, en in die besonder vir moedertaalonderrig. Die skole kan die reg om hul eie taalbeleid te bepaal, verloor, gevolg deur ‘n drastiese verandering aan die skool se taalbeleid. Volgens hom is die wetgewing ‘n poging van die regering, om met die hulp van die EFF, openbare skole deur wetgewing te kaap.Solidariteit het onderneem om die wetgewing in die hof te beveg sodra die president dit goedkeur. Die uiteinde van die Belaberaad was nog nie bekend toe hierdie rubriek geskryf is nie.

Kritici van die wetgewing noem ook die volgende argumente: Bela het ook weinig inhoud wat dissiplineprobleme en die veiligheid van almal op skoolgronde in die toekoms gaan beskerm. Waar geweld en boeliegedrag by skole deur verskeie onlangse studies uitgewys is as een van die grootste probleme in die onderwysstelsel, is dit ’n groot teleurstelling. Verder is die uitbreiding van verpligte skoolbywoning om gr. R in te sluit, lofwaardig, maar prakties en finansieel onuitvoerbaar. Dis dus duidelik uit bg. argumente daar lê nog ‘n hewige stryd voor voordat hierdie wetgewing toegepas kan word.

Intussen is Februarie Moedertaalmaand en 21 Februarie was Internasionale Moedertaaldag, ‘n dag wat Unesco, die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, ingestel het om op die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld, en die impak wat dit het op kultuur, te fokus. Die webwerf Afrikaans.com verwys in ‘n artikel geskryf deur Annelie van Jaarsveldt na die belangrikheid van moedertaal-onderrig, veral met die Bela-wetgewing op die horison. Sy wys daarop talle kinders sukkel reeds akademies en sosiaal om die mas op te kom omdat hulle noodgedwonge in hulle tweede of selfs derde taal moet skoolgaan.

Die impak strek nog verder, want met ’n akademiese agterstand is dit moeilik om in te haal op tersiêre vlak, uiteindelik die arbeidsmark te betree en ’n volhoubare ekonomiese bydrae te lewer. Dit lei weer tot grootskaalse werkloosheid en natuurlik negatiewe sosio-ekonomiese gevolge. In die artikel word ook verwys na die invloed van moedertaal-onderrig op sosiale en emosionele vlak, die vermoë om met begrip te kan lees, en ook die talle ander voordele van moedertaal-onderrig Wêreldwye navorsing het getoon dat kinders wat tot ten minste graad 4, maar verkieslik langer, moedertaalonderrig ontvang, akademies beter in al hulle vakke presteer as kinders wat nie moedertaalonderrig ontvang het nie. Laasgenoemde onderpresteer dan ook dikwels.

Van Jaarsveldt se slotsom is vir ons kinders om ’n gelyke kans op akademiese prestasie te hê, moet hulle tot ten minste graad 4 die voorreg gegun word om in hulle moedertaal (hul eerste en sterkste taal) skool te gaan, en dit sluit al elf amptelike tale in. Kinders sal verstaan wat hulle leer, hulle taal- en syferbegrip sal soveel beter wees en hulle sal skool net soveel meer geniet. En uiteindelik sal Suid-Afrika die vrugte hiervan dra, want ons kinders sal kan spog met goeie matriekuitslae en oor die algemeen net beter toegerus wees vir die toekoms.

Sy verwys ook na verskeie ander interessante en tersaaklike aspekte van moedertaal-onderrig wat relevant tot hierdie debat is. Vir die volledige artikel en meer besonderhede, gaan na Afrikaans.com.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button