Na Saterdag se Sesnasie-rugbywedstryde was hier ‘n hewige debat in die Watergat aan die gang oor wie die beste vleuel in die wêreld is. Dit was natuurlik na aanleiding van Duhan van der Merwe se drie drieë vir Skotland teen Engeland op Murrayfield. Ek moet verklaar, hierdie verloopte Pretorianer gee my groot rugbyplesier met die manier waarop hy drieë druk.
Verlede jaar het hy ‘n klassieke drie op Twickenham teen England gedruk toe hy van binne sy eie kwartgebied af teen ‘n verbysterende spoed dwarsdeur die Engelse span gehardloop, geswenk en gestoomroller het vir een van die beste vyfpunters wat en in my lewe gesien het.
Saterdag het hy een regulasiedrie gedruk toe die bal aan hom mgegee is, maar die ander twee was juwele. Van net buite sy kwartgebied reguit langs die kantlyn af met hande wat vergeefs na hom gryp, voordat hy duik en net binne die hoekvlag met een hand druk, en die laaste een toe hy ‘n perfekte vorentoeskop van Finn Russell nonchalant, nadat dit grond gevat het, uit die lug pluk en deurnael tot feitlik agter die pale.
Nee kyk, hy is goed. Baie goed, en dis jammer dat ons hom verloor het. Maar of hy die beste ter wêreld is? Moeilik om te sê. Cheslin Kolbe? Makazole Mapimpi? Canan Moodie? Wat van hulle? En die ander topvleuels oraloor? Hy is myns insiens in die top drie, maar daar moet besluit word of hy sy ander pligte ook nakom. Oom Pottie reken sy verdediging laat hom soms in die steek, en sy posisionele spel is nie altyd na wense nie.
Ek het dit nie agtergekom nie, maar aanvaar die mening van ‘n beter rugbykenner. Al wat ek weet, is hy het ‘n Engelsman Saterdag so behoorlik omgehop dat hy ‘n geelkaart ontvang het. Hoe dit ookal sy, dis lekker om ‘n Van Der Merwe op die internasionale verhoog so te sien speel vir ‘n ander span as die Springbokke.
Wat ek nie geweet het nie, en nie sou kon raai nir weens hul fisiese andersheid, is Duhan ‘n die broer van ‘n ander bekende Springbok en provinsiale speler, Akker van der Merwe, ‘n voormalige staatmaker van die Lions wat vir homself die bynaasm ‘the angry warthog’ verwerf het.
Nie veel anders te rapporteer nie, behalwe die normale politieke praatjies en klagtes, asook verwysings na die ongewone laer temperature wat ons vanjaar ondervind en die ongemak van die opgradering van Marinerylaan.
Ons glimlag van die week kom van Miems Jansen van Clocolan wat hier ingeloer het. ‘n Dominee moet ‘n diens op ‘n verafgeleë plattelandse dorpie lei, ry toe reeds Saterdagmiddag deur en gaan by een van die ouderlinge tuis. Sondagoggend toe die gasvrou hom nooi om te kom aansit vir ontbyt bedank hy daarvoor en sê hy sal liefs nie ontbyt nuttig nie, want hy het ondervind dat
hy nie op ‘n vol maag kan preek nie.
Die gasvrou gaan toe nie kerk toe nie ten einde ‘n goeie middagmaal voor te berei. Toe haar seuntjie uit die kerk kom vra sy hom: ‘Jannie, en hoe het die
dominee toe gepreek?’ ‘Ag Ma,’ sê hy. ‘Hy kon maar net sowel sy brekfis geëet het.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
