Wouter se Watergat
Die tolpadmense maak deesdae waarskynlik baie geld, want wanneer jy vinnig op ‘n plek moet kom, is dit die logiese roete. Ons hoop nietemin dis nie meer lank nie, is baie dankbaar vir die verbetering van die verkeersvloei wat die opgradering gaan meebring.
Weer ‘n redelike stil week, min besoekers van elders, en rustige weeksdae met die ‘regulars’ wat kom en gaan. ‘n Saak wat groot aandag in gesprekke gekry het, was die werk aan Marine-rylaan, wat reeds geruime tyd aan die gang is, en groot geduld by motoriste verg. Daar was heelwat klagtes oor die wagtye waar net een baan motors op ‘n slag deurgelaat word.
Die tolpadmense maak deesdae waarskynlik baie geld, want wanneer jy vinnig op ‘n plek moet kom, is dit die logiese roete. Ons hoop nietemin dis nie meer lank nie, is baie dankbaar vir die verbetering van die verkeersvloei wat die opgradering gaan meebring.
‘m Ander onderwerp van bespreking was die groot aantal nuwe eet- en kuierplekke wat die afgelope jaar of wat hier aan die Suidkus hul deure oopgemaak het. Ek het geen probleem daarmee nie, maar praat uit ondervinding tydens die Watergat se meer as twintigjarige bestaan hier aan die Suidkus: Die ‘koek’ is net so groot. Nuwe eetplekke moet noodwendig klante van bestaande ondernemings afrokkel, en indien dit gebeur, is daar ‘n ander eet/kuierplek wat sy deure moet sluit.
Indien die nuwe onderneming dit nie regkry nie, loop hy dieselfde pad. Die ander realiteit hier is dat ‘n groot persentasie buiteseisoen-klante pensionarisse is, en uiteraard nie groot besteders is nie. Weeksaande is daar soms net drie of vier besette tafels in selfs van die gevestigde eetplekke.
Met watergate soos ons gaan dit baie beter, want die hoofdoel van die meeste besoekers is om alkoholiese verversings te geniet, saam met ‘n ‘pub lunch’, en ons is oop van tien-uur die oggend af tot laataand. Die totale koste is baie minder as bv. by ‘n meer formele restaurant waar die prys van ‘n goeie hoofmaaltyd deesdae om en by R200 is, sonder ‘n bottel of glas wyn, wat self baie rande kos. Tensy jy met ‘n glasie ‘plonk’ tevrede is.
Ons is gevestig met lojale klante, ook in vakansietye, en moet nogtans ons rieme dun sny om ‘n behoorlike wins te maak. Hoe van hierdie nuwe plekke of selfs van die gevestigdes oorleef, weet ek nie.
Ewenwel, ons het lekker Sesnasies-rugby gekyk, en was verheug oor Italië se oorwinning oor die Skotte in Rome in ‘n kykbare, baie goeie wedstryd. En Marcus Smith van Engeland se skepskop op Twickenham toe speeltyd reeds verby was om die Iere terug te bring aarde toe.
Ons loopstorie: ‘n Pa koop ‘n ‘lie-detector’ robot wat jou klap as jy lieg. Daardie aand aan tafel vra hy vir sy seun: “Waar was jy vandag?” “By die skool, pa.” Whap! Klap die robot hom. “Jy lieg,” sê pa.
“Oukei, oukei, ek het ‘n DVD gekyk by die huis.” “Watter DVD?” vra pa. “Toy Story 3,” sê die seun. Whap! Klap die robot hom weer. “Oukei, oukei,” na aan trane, sê die seun dit was pornografie.
Die pa sê toe vir hom: “Toe ek jou ouderdom was het ek nie eers geweet van pornografie nie.” Whap! Klap die robot vir pa. Die ma lag en sê “’n Mens kan sien hy is jou seun.” Whap! Klap die robot die ma!
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
