Wouter se Watergat
Hierdie week het stillerig begin, maar van Dinsdag af het ons besoekersgetalle dramaties toegeneem, en ons hoop die Paasnaweek gaan vir sowel ons as die ander bly- , kuier- en eetplekke hier aan die kus ‘n groot sukses wees.
Hierdie week het stillerig begin, maar van Dinsdag af het ons besoekersgetalle dramaties toegeneem, en ons hoop die Paasnaweek gaan vir sowel ons as die ander bly- , kuier- en eetplekke hier aan die kus ‘n groot sukses wees. Daarmee bedoel ek dat mense wat gereeld hierdie tyd van die jaar Suidkus toe kom, tesame met hulle wat die Noordkus probeer en uitgevind het hoewel dit ‘n lekker vakansieplek is, betaal jy baie vir verblyf en kos.
Ek het nie juis geweet waaroor om hierdie week te skryf indien ek sport wil vermy nie, totdat Oom Pottie met ‘n besoeker uit Pretoria aan die gesels geraak het. Die besoeker, André Rossouw, ‘n prokureur, het hom vertel van die manewales van ene Louis Liebenberg, die man wat aan Jacob Zuma beeste geskenk en van sy regskoste betaal het. Na die gesprek het Pottie, erg verbaas, ons meegedeel wat aan hom vertel is. Albei van ons het reeds van hierdie omstrede karakter gehoor, maar het op die internet gaan snuffel en Facebookkonneksies gevolg wat Rossouw aan hom gegee het.
Ons was verstom nadat ons op videos afgekom het wat deur sy vrou opgeneem is, waar hy op die toilet sit en mense slegsê in die kruuste moontlike taal. En diegene wat op die een of ander manier van hom verskil, vloek, vroue onder hul onderklere uitskel, en na toilet-liggaamsfunksies verwys. Een van sy uitlatings was dat Jesus nie die Seun van God is nie, maar hyself. Daar is talle ander verstommende waarnemings, onder meer hoe hy met sy personeel praat, hofsake waarby hy betrokke is, aanklagte dat hy ‘n Ponzi-skema bedryf, en derduisende rande wat hy bestee aan reis- en onthaalkoste vir bekende, en berugte mense.
Die rugbyspeler Derek Hougaard met sy gesondheids- en ander probleme het ‘n ruk by hom gebly, en hy is die baas van ‘n mediagroep Die Waarheid, radiostasie en al, wat uit Kempton Park bedryf word. Die vreemdste van alles is, oud-SAUK-mense Niekie van den Bergh en Martin Jansen werk vir hom. Daar is nog baie ander inligting, maar hier is nie plek daarvoor nie. Verstommend. Gaan kyk self.
Sport, en veral rugby, kan ek nie heeltemal vermy nie, maar gaan bloot sê hoe bly ons is dat die Sharks lyk of hulle uiteindelik begin speel soos hulle moet. Geluk ook aan die ander SA-spanne met hul oorwinnings, veral die Lions, wat Leinster met 14 man soos kitsgras opgerol het. Ek kan ook net noem dat ons weer lekker kyk na die Indiese Professionele-Ligakrieket. Nie heeltemal regte-egte krieket nie, maar lekker om na te kyk.
Mag al ons lesers en besoekers ‘n geseënde Paasnaweek ervaar.
Ons loopstorie kon uit Pottie se argief: Kosie teken ’n hond wat besig is om hondebeskuitjies te vreet. Skaars het sy onderwyser hom die opdrag gegee, of Kosie sit tevrede agteroor en verkondig: ”So ja, ek is klaar.” Die onnie kom kyk wat hy geteken het. ”Kosie,” begin hy, ”maar ek sien dan geen hondebeskuitjies nie…” Kosie: ”Dis omdat die hond hulle so gou opgevreet het, meneer’. Onnie: ”En waar is die hond dan?” Kosie: ”Hy’t weggehardloop toe hier niks meer kos vir hom was nie.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
