Kommandant Gideon Scheepers – Boere-held of oorlogsmisdadiger?
Opinion piece by Johan Pretorius.
Vandeesweek weer ’n blik op ’n gebeurtenis in die verre verlede om die onderneming gestand te doen dat onderwerpe oor ’n wye spektrum in hierdie weeklikse rubriek behandel word.
Die uwe het oor die Paasnaweek weer deur boeke geblaai en internetskrywes gelees oor een van my gunsteling-geskiedkundige gebeure – die Tweede Vryheids-, oftewel die Anglo-Boereoorlog.
Ek het afgekom op ’n uiteensetting van die laaste jaar van die lewe van Kommandant Gideon Scheepers deur die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese vereniging. Die redes waarom ek besluit het om vandeesweek daaroor te skryf, is omdat hy vandag (4 April) 146 jaar gelede gebore is, en hy dalk nie die onskuldige held was wat deur die Britte tereggestel is nie. In my jeugjare is ek gereeld vertel hy was onskuldig aan die aanklagte teen hom, en is hy as ‘n martelaarsfiguur beskou.
Gideon Scheepers het die Kaapkolonie as ’n lid van Kommandant P.H. Kritzinger se kommando op 16 Desember 1900 binnegegaan, en sy eerste aanval op 30 Desember op ’n trein op Sherborne uitgevoer. ’n Britse soldaat het gesterf. Hierna was hy gereeld betrokke by aanvalle op Britse kolonnes, verwoesting van geboue, die toediening van lyfstraf aan plaaslike verkenners vir die Britte, en ander optredes waarin talle mense hul lewens verloor het, te veel om hier op te noem.
Wat wel van groot belang is, is dat hy in Oktober 1900 ernstig siek geword het, nie meer kon perdry nie, en ’n wa as vervoermiddel moes gebruik. Laat in Oktober is hy op Ladismith betrokke by ’n skermutseling met koloniale soldate waarin een gesneuwel het. Sy wa raak verlore, en hy en sy manne word op Ruggerskraal aangeval, Britse soldate verdryf hom uit Wolwefontein, hy bereik Koppieskraal en weens sy siekte moes sy kommando hom agterlaat en vlug. Hy gee homself op 11 Oktober daar oor aan Kaptein E.R.A Shearman van die 10e Hussars-regiment, word Matjesfontein toe geneem, en daarvandaan na die militêre hospitaal op Noupoort. Hy word gediagnoseer met blindederm-ontsteking en ’n verstopping van sy dermkanaal, en word daarvoor behandel.
Op 9 Desember is hy na Graaff-Reinet vervoer, en op 17 Desember begin sy verhoor. Hy staan tereg op 30 aanklagte, onder meer van moord, brandstigting, en die mishandeling van krygsgevangenes. Sy gesondheid was egter nog nie na wense nie, en die verhoor word uitgestel tot 27 Desember. Onder die aanklagte waaraan hy skuldig bevind is, was dié van moord op twee Britse verkenners.
Bykomende aanklagte het betrekking gehad op die moord op ’n swart polisieman naby Willowmore, die dood van ’n plaaslike inwoner van Jansenville, wat deur ’n lid van Scheepers se kommando doodgeskiet is, die moord op ’n swart inwoner van Steytlerville, die teregstelling van John Kennedy van de Fontein omdat hy as ’n spioen beskou is, en die doodskiet van Jacobus Hermanus op Kruisrivier. Hy is op twee ander aanklagte van moord onskuldig bevind.
Die agste tot die 14e aanklagte het betrekking gehad op die verwoesting van ’n trein by die Maraisstasie, poging tot moord op Britse burgers, die res met die toediening van lewensgevaarlike lyfstraf aan mense wat beskou is as pro-Brits of spioene vir die Britse magte, en 16 gevalle van brandstigting.
Scheepers het skuld erken op die meeste van die brandstigting-aanklagte, maar onskuldig gepleit op al die ander. Hy het verklaar hy is ’n Vrystaatse burger, nie ’n Kaapse rebel nie, en het die Kaapkolonie binnegegaan onder die bevel van general Christiaan de Wet. Hy het betoog ’n krygsraad het Generaal Kitchener per brief gewaarsku dat eiendomme van pro-Britse mense geteiken sou word indien die verwoesting van boereplase deur die Britte nie gestaak word nie, en hy het bloot bevele gehoorsaam. In verband met sy optrede tov. vyandiges, het hy getuig hy het meer as 1 300 mense gevange geneem, en met die grootste respek behandel, waarvoor hy deur die Britte geloof is.
Scheepers is egter skuldig bevind op die meerderheid van die aanklagte, en sy doodvonnis is op 17 Januarie 1902 op die stadsplein van Graaff-Reinet aangekondig. Die volgende dag is hy per ambulans na ’n plek anderkant die Sondagsrivier geneem, geblinddoek en in ’n stoel vasgemaak. Hy is om drie-uur die middag gefusilleer, en sy liggaam in ’n graf, wat reeds gegrawe is, is met grond toegegooi. Later dieselfde aand is die lyk opgegrawe en elders begrawe, niemand weet presies waar nie. Die vermoede is dat dit iewers onder die water van die huidige Van Rynevelddam is.
Bogenoemde is ’n beknopte weergawe van Gideon Scheepers se geskiedenis en veral sy bedrywighede in die Kaapkolonie oor net meer as 12 maande. Daar is nog baie tersaaklike en interessante besonderhede waarvoor daar hier nie ruimte is nie, en wat weereens bewys dat daar in emosionele geskiedkundige gebeurtenisse soos hierdie feitlik altyd twee kante is, en die waarheid iewers in die middel lê.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page

