South Coast Fever

Is die negatiewe gevoel jeëns joernaliste en hul beroep geregverdig?

Fever Local News | Opinion piece by Johan Pretorius.

Iets wat my deesdae opval is hoeveel mense op veral die sosiale media joernaliste en hul beroep kritiseer en slegsê. Laat ek dadelik verklaar die joernalistiek het sy foute en tekortkominge, en daar is joernaliste wat die beroep oneer aandoen. Soos in elke profesie, is daar ongelukkig vrot appels en diegene met oneerlike of duister motiewe motiewe wat kritiek verdien.

Hier in Suid-Afrika is daar bv. die Independent-groep, en die mense in hul topbestuur wat die joernalistiek geen guns doen nie. Dink maar aan die sg. tienling wat ‘n joernalis van die Pretoria News uit sy duim gesuig het, en die ‘spookjoernaliste’ wat gebruik word om sekere politici en hul baas se beeld te poets.

Ongelukkig is daar in hierdie groep ook eerlike en toegewyde joernaliste wat nie elders ‘n heenkome kan kry nie, en vasgevang is in ‘n onbenydenswaardige posisie.

Daar is talle ander voorbeelde, hier en in die buiteland, van joernaliste wat die grense van eerlikheid oorskry en die beroep se beeld skade aangedoen het, maar terselfdertyd diegene wat hul werk met onderskeiding doen, en uitgevreet word omdat hulle politici en ander magtige mense ontmasker.

In Amerika, en selfs hier, vloek en skel bv. die Trump-aanhangers die sg. Hoofstroommedia omdat hulle hom kritiseer en in ‘n swak lig stel. Negatiewe berigte oor hom word dus afgemaak as ‘fake news’.

Die aanhangers van die ‘Make America Great Again’-beweging in die Republikeinse Party van Amerika maak staat op regse nuusbronne soos Fox News, wat volgens eie erkenning nie voorgee om ‘n betroubare nuusbron te wees nie, maar inligting en nuus versprei wat sy ‘kerngehoor’ wil hê.

Die rede hiervoor is Fox probeer keer dat ‘n groot deel van sy gehoor hulle sal wend tot regsgesinde pro-Trump sosiale mediaplatforms soos Breitbart, Newsmax, OAN en verskeie ander.

Dit is nie my eie mening nie, Fox het dit self laat blyk tydens die skadevergoedingsaksies teen hom deur die rekenaarmaatskappy wat betrokke was by die Amerikaanse verkiesing van 2020.

Die maatskappy het Fox weens laster gedagvaar omdat die kanaal destyds verkondig het die verkiesing is ‘gesteel’, en die maatskappy se rekenaarstelsel daarvoor misbruik is.

Fox moes $80-miljoen dollar aan skadevergoeding betaal. Om alles te kroon, is daar van die sosiale mediabronne wat steeds beweer, soos Trump self, dat hy die verkiesing gewen het.

Dit terwyl daar geen, maar absoluut geen, bewyse daarvoor is nie. Niks. En dis onder meer hierdie mense wat die sg. Hoofstroommedia, oftewel die tradisionele tuiste van die joernalistiek as ‘n beroep, afkraak.

Bg. is maar enkele voorbeelde van waarom die joernalistiek, en veral die Hoofstroommedia, met al hul gebreke, noodsaaklik is om leuens en wanvoorstellings te beveg, en bowenal, die demokrasie te beskerm.

Bewyse hiervan is lande waar outokratiese regerings of kwasi-demokratiese regerings aan die bewind is en joernaliste gemuilband of in die tronk gegooi word.

Rusland, China, Noord-Korea, Hongarye, en verskeie ander lande, ook in Afrika en Suid-Amerika, is goeie voorbeelde.

Betroubare ondersoekende joernalistiek hou politici op hul tone en ontbloot ‘n gekonkelry agter die skerms.

Dink maar aan die Watergate- en ons eie Inligting-skandaal in die jare sewentig van die vorige eeu.

As dit nie vir goeie speurwerk deur joernaliste was nie, sou hierdie skandale nooit rugbaar geword het nie.

Nog voorbeelde is die goeie werk wat in Suid-Afrika gedoen is deur onder meer die Daily Maverick en Netwerk/Network 24 om die omvang van staatskaping in Suid-Afrika te ontbloot.

Oor die negatiewe gevoel teen joernaliste skryf ‘n veteraan- en gerespekteerde Suid-Afrikaanse joernalis, Joan van Zyl, op die Facebook-webwerf Nagkantoor navorsing wys joernaliste word daarvan verdink dat hulle bevooroordeeld is, omkoopbaar, mondstukke van groot korporasies, manipulerend, manipuleerbaar deur politici, en dat hulle hul eie roem bo hul plig stel.

Navorsing wys ook dat die meeste mense wat joernaliste skepties betrag, mense is wat ook die nuusmedia as geheel nie vertrou nie.

Maar selfs mense wat die nuusmedia vertrou, is soms wantrouig oor joernaliste. Mense wat nie die nuusmedia vertrou nie, is oorwegend mense wat dit nie gebruik, verstaan of ken nie, oftewel mense wat nie juis in nuus belangstel nie.

Ander het wel media wat hulle vertrou, maar dis nie die tradisionele media nie. Van Zyl skryf dis ook interessant dat dit voorkom asof konserwatiewe mense meer skepties oor die tradisionele media is as liberale mense.

Dis seker nie ‘n verrassing nie – die tradisionele media was veral in baie Westerse lande tradisioneel liberaal, en word ook ‘n bietjie as elitisties beskou.

Die groot probleem is dat die grootste vyande van vertroue in die media en joernaliste vandag buite joernaliste se beheer is. Hierdie vyande is politici en die platforms.

Politici het danksy platforms die vermoë om alle media verdag te maak waarvan hulle nie hou nie.

Gehore wat met die politikus saamstem, vertrou dan ook nie die media wat deur die politikus sleggemaak word nie.

In Amerika was dit een van die faktore wat tot uiterste polarisering van politici en media gelei het. Die gedurige vingerwysings na CNN is ‘n baie goeie voorbeeld, skryf Joan van Zyl.

Bg. inset wys weereens hoe kompleks die saak en hoe moeilik dit te beredder is. Die uwe bly nietemin oortuig daarvan sonder die joernalistieke beroep en betroubare joernaliste, tekortkominge en al, sal die wêreld in ‘n baie groter gemors wees as wat reeds die geval is.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

Back to top button