Die Watergat is 23 jaar oud, ‘still going strong’
Toe Oom Pottie, vroulief en ek om middernag op 31 Desember, by ons blyplek, rustig ’n heildronk op die 2025 drink, merk Oom Pottie op dat die Watergat reeds 23 jaar bestaan.

Welkom aan al die Watergatters in die nuwe jaar van 2025. Die Kersseisoen is verby, wat, terloops baie besig was, mense het lekker hier gekuier, en my bankbestuurder, indien daar nog sulke mense bestaan, sal beslis gelukkig wees met wat hy op ons jongste state sien. Toe Oom Pottie, vroulief en ek om middernag op 31 Desember, by ons blyplek, rustig ’n heildronk op die 2025 drink, merk Oom Pottie op dat die Watergat reeds 23 jaar bestaan.
Ons het destyds nooit gedink ons sou so lank kon uithou nie, maar danksy vasbyt, ons personeel se toewyding (vier van die oorspronklike ses is nog met ons) en die getroue ondersteuning van ons mense daarbuite, gaan ons die toekoms in, deeglik bewus van talle onsekerhede, maar vol moed dat wat ookal gebeur, ons, en die land, die wa deur die drif sal trek. ‘Ek het ’n sommetjie gemaak, Woutie, wat jou sal verbaas. Besef jy hy het sedert die ontstaan van jou Watergat, het jy meer as 1 100 rubrieke geskryf?’
Ek moet sê, ek het dit nooit heeltemal besef nie, maar toe Pottie dit noem, en ek dink terug oor die jare, het ek besef dit kan nie anders nie as om waar te wees. Met groot dankbaarheid aan die South Coast Fever wat dit steeds moontlik maak. Ons drink toe terstond ook ’n heildronk op die Watergat en die Fever. Die gesprek het daarna verskuif na ons gunsteling-onderwerp, sport, omdat dit so ’n integrale deel van kuierplekke soos ons is met die groot televisiestelle waar besoekers veral oor naweke vergader.
Talle Suidkussers kom hierheen pleks van om by die huis te kyk omdat dit so lekker gesellig is en daar deurtentyd menings gewissel kan word, die tweede beste opsie naas teenwoordigheid in lewende lywe op die betrokke veld. Dalk omdat vroulief nie erg in sport belangstel nie en op jou eie kyk nie lekker is nie? Ewenwel, ons en ons besoekers sien uit na die Springbokke en Rassie Erasmus se wel en weë in 2025, Pottie en ek hoop die Sharks speel volgens hul volle potensiaal, en die Proteas bou voort op hul onlangs skitterende toetsvertonings.
Die negatiewe aspek is steeds die gebrekkige dienslewering van die Ray Nkonyeni en Ugu-munisipaliteite. Ook die swak toestand van sekere paaie en die gevolge van die staking van munisipale werkers van Ugu. Benewens die klaarblyklik ontwrigtende invloed wat Zuma se MK-party veral op die plaaslike politiek het. Nietemin, die hoop beskaam nie. Dankie tog vir Tidy Towns.
Ons gebruiklike loopstorie kom van Pietman Brink, ’n besoeker uit Johannesburg.
Juffrou vra die kinders om die volgende dag met hul kleredrag ’n dorp voor te stel.
Hulle maak so, en dis klere van alle kleure en geure, behalwe Jannie. Hy is poedelnakend.
Juffrou is erg ongemaklik maar byt vas. Sannie het Jakarandabloeisels op haar kop, en verklaar sy is Pretoria.
Pietie het lemoenbloeisels op sy hemp as Zebediela, en Gertjie het ’n swart streep oor sy rug want hy stel Swartruggens voor.
Juffrou verseg egter om Jannie te vra. Pietie stamp aan Jannie: “Ek het jou mos gesê, Juffrou gaan nie die marble in jou hall raak sien nie.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page