South Coast Fever

BLOG: Watter kleuterskool vir jou kind?

Die skrywers herinner ouers daaraan hul kinders gaan huil en sê hulle wil nie skool toe gaan nie. Maak seker of daar werklik ’n probleem is.

Soos die SC Feverlesers weet, stuur Afrikaans.com vir ons gereeld bydraes vir oorweging. Benewens die oorweging van verskeidenheid in hierdie weeklikse rubriek, het die kontroversie rondom die Kleuterzone-groep my laat besluit om hierdie spesifieke inligting met ons lesers te deel. Die likwidasie van die eens welvarende onderneming gestig deur Anthonie Bougas, wat Thailand toe uitgewyk het nadat dit bekend geword het dat daar ernstige finansiële wanpraktyke was, het duisende ouers van kleuters ‘gestrand’ gelaat. Van hulle en die sowat 1 200 beleggers in Kleuterzone se 120 skole oor die land het derduisende rande verloor, en moet nou wag dat die gereg sy loop neem. Nogal ’n fiasko.

Intussen moet die ouers van kleuters steeds besluit na watter skole hulle hul kinders moet stuur. Sowel dié wat reeds in Kleuterzone-skole is as ander elders in die land. Die artikel van Afrikaans.com deur Annelie van Jaarsveldt wat Yolandi van den Heever van Oasis Club Learning met vrae gepeper het, verwys gladnie na die Kleuterzone-groep nie, maar verskaf algemene riglyne vir ouers wanneer hulle kleuterskoolkeuses moet maak. Die artikel is baie volledig, en weens ruimte-beperkings word net die breë riglyne genoem. Die skrywers wys daarop die voorskoolse jare is die heel belangrikste jare in kinders se skoolloopbaan en ’n baie gespesialiseerde veld.

Dit is wanneer hulle perseptuele vaardighede ontwikkel en dit is hierdie vaardighede wat die fondasie vir alle toekomstige formele leer vorm. Nog belangriker, is dat hierdie onderrig op die regte manier gedoen word. Hulle gee besonderhede van verskillende metodes van onderrrig, en vertel ouers waarna hulle moet kyk wanneer hulle op ‘n skool besluit om hul kinders in te skryf. Die ouers moet vra: Is die skool geregistreer? Is die leerprogram nie net vol werkskaarte en papierwerk sonder grootmotoriese ontwikkeling en ander perseptuele vaardighede nie? Voel jy as ouer gemaklik en lekker oor die skool? Laat jou kind toe om jou te lei in jou besluit – want as jou vriendin se kind gelukkig is by ’n spesifieke skool, is dit nie noodwendig die regte skool vir jou kind nie. As jy dus sien dat jou kind se gedrag verander, of hy is ongelukkig, skuif jou kind.

Hoe kan ouers hul kinders se vordering meet? Daar is die nasionale riglyne (die Nasionele kurrikulumraamwerk van geboorte tot vier jaar oud) – en binne hierdie raamwerk is daar die sogenaamde ELDA’s (Early Learning and Development Area) wat ons die minimum standaarde gee. “Dit is nie die alfa en die omega nie, maar slegs die vlak waar ons moet begin. Jou kind se ouderdom moet in berekening gebring word, veral omdat voorskoolse onderrig oor ’n wye spektrum strek – van geboorte tot ses jaar. ’n Groot buiteterrein met baie natuurlike hulpmiddels is van kardinale belang vir ontwikkeling. Moet jou nie blind staar teen nagemaakte gras en ’n magdom plastiek speelgoed nie. Dit lyk dalk baie mooi, maar uiteindelik is kleiner klassies met genoegsame spasie die ideaal.”

Van Jaarsveldt en Van den Heever stel voor ouers maak ‘n lys van die dinge wat onderhandelbaar is en dit wat hulle nie bereid is om prys te gee nie. Is hulle bereid om hul verwagtinge aan te pas of nie? Wat kan hulle bekostig? Ken jou kind, want dit gaan jou lei om die regte soort skool vir jou kind te kies. Is jou kind ’n introvert wat floreer in klein groepies of ’n ekstrovert wat weer op sy beste presteer in ’n besige omgewing omring deur baie maatjies sodat hy kan woel en werskaf?

Ouers moet dus hulle huiswerk behoorlik doen voordat hulle besluit op die geskikte skool. Besluit self, want elke gesin se behoeftes verskil. Wees op die uitkyk vir slaggate. Vertrou op jou eie oordeel. As daar gevaartekens is, tree onmiddellik op. Is die skool vol allerhande foefies, buitemuurse aktiwiteite, hierdie musieklesse en daardie kunsklasse, maar die werklike aandag aan die kinders ontbreek? Onthou: Al die skynbaar ‘belangrike’ goed beteken nie dat daar noodwendig waarde tot jou kind se onderrig en ontwikkeling toegevoeg word nie.

Die skrywers herinner ouers daaraan hul kinders gaan huil en sê hulle wil nie skool toe gaan nie. Maak seker of daar werklik ’n probleem is. Wees betrokke by die skool. Kleuters kan nog nie vir hulleself praat nie. Daarom moet ouers elke dag uitvind hoe dit met hulle kind gaan en ook die onderwyser in kennis stel as iets ongewoon gebeur het. Ook van huismoles. Onderwysers is verpligte aanmelders, en as die onderwyseres probleme by jou kind optel en onraad vermoed, moet sy dit aanmeld.. Maak seker jy kan die skool bekostig. Kleuterskole is privaat en onafhanklik en kan nie afslag gee nie. Vind uit wat is die ratio van kinders per klaskamer? Daar is ’n ideale getal kinders per klaskamer soos in die Kinderwet vervat.

Hoewel die skrywers dit nie noem nie, is dit vanselfsprekend dat ouers hul huiswerk behoorlik moet doen oor die aard en reputasie van die betrokke kleuterskool om ‘n Kleuterzone-herhaling te vermy, veral in die lig van Kleuterzone se finansieringsformule. Daar is genoeg betroubare, goeie kleuterskole in Suid-Afrika. Hulle gee ook wenke aan ouers wat dit nie kan bekostig om kinders by die beste VKO-skole in te skryf nie, en self die onderrig-verantwoordelikheid moet behartig, of hulp kry. Afrikaans.com verskaf volledige besonderhede. Gaan kyk gerus.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button