Seerkry uit die verlede
Nou is die tyd om alle strydbyle by Golgota te begrawe, ter wille van jouself, ons gemeenskap en Christus wat voorgeloop het.
Is daar onafgehandelde seerkry uit jou verlede wat jy met jou saam dra? In 2 Timoteus 4:11 kry ons ’n verwysing na iemand uit die apostel Paulus se verlede. Hy versoek dat ’n vorige medewerker van hom met die naam Markus opgespoor moet word, want hy kan vir hom wat Paulus is tot groot diens wees. Hierdie opmerking kan mens net verstaan as jy herroep dat daar in Handelinge 13 en 15 meningsverskil was tussen Paulus en een van sy ander kollegas Barnabas oor die optrede van ’n medewerker met die naam Markus. Tussen hierdie drie medegelowiges het daar verwydering ontstaan en is daar brûe verbrand.
Miskien was daar ook ’n soortgelyke insident uit jou verlede. Dis dalk familie met wie jy nou al jare lank nie praat nie. Jy onthou nog hoe jy as kind gespot is en bly weg van elke matriek reünie. Jy is deur ’n kollega sleg behandel en nou vermy julle mekaar. Julle is in dieselfde kerk maar loop wye draaie op mekaar. Dis dalk jou gewese eggenoot wat jou diep seergemaak het. Dis dalk iets wat jy aan iemand anders gedoen het. Jy voel dalk verraai deur die optrede van mense wat jy vertrou het. Mense kruis met mekaar swaarde om baie redes.
Christene kan nie by gister vassteek nie. Ons mag nie toelaat dat seerkry ons onderkry nie. Vandag is die laaste dag van jou lewe. Daarom is die goeie nuus van ons teks dat ons almal ons strydbyle en seerkry kan neerlê by Christus, wie se kruis en opstanding krag, strydbyle in ploeë en snoeiskêre verander. Paulus en Markus het weer medewerkers geword, leer ons uit die teks in Timoteus.
Daar was ’n helingsproses. Dis getuienis van die krag van die opgestane Christus wat deur Sy Gees alles nuut maak. Dis goeie nuus vir ons almal. As ons lees hoe Jesus Christus na Sy opstanding Sy wegloop dissipels wat Hom teleurgestel het, weer in diens neem en vertrou met Sy kerk, kan jy nie berus by gister se stukkende brûe nie. Nou is die tyd om alle strydbyle by Golgota te begrawe, ter wille van jouself, ons gemeenskap en Christus wat voorgeloop het.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
