Die ‘grootste skool op aarde’ is weer hier
Die opgewondenheid en entoesiasme van die hengelaars op die rotse wat die een sardienhonger-roofvis na die ander uitgetrek het, was iets om te aanskou.
Van kindsdae af was die uwe gefassineer deur die miljoene klein vissies wat destyds in Mei en Junie hier aan die Suidkus in nette strand toe getrek is. As ’n Transvaler van destyds was ek bevoorreg om een laat sardiensbesoek tydens ’n Julie-skoolvakansie te ervaar. Dit was op die strand van Margate, en ek onthou nog die absolute opwinding en plesier wat onder die mense op die strand geheers het. Destyds was die vangste nie naastenby so ge-organiseerd en beplan soos deesdae nie, en groot nette was maar skaars. Elkeen van ons op die strand het met houers van verskillende soorte die branders ingevaar en die vissies opgeskep. Hulle was daar vir almal om hulle deel te vat. Groot plesier.
Die opgewondenheid en entoesiasme van die hengelaars op die rotse wat die een sardienhonger-roofvis na die ander uitgetrek het, was iets om te aanskou. Ek onthou nog hoe die kattebak van ’n 1948-Ford vol vis gelyk het. Die betrokke inwoner van Ramsgate het wel gesorg dat daar ’n dik laag koerantpapier onder die vis was, maar my pa en ek was doodseker daardie Ford het minstens twee weke daarna nog na vis geruik.
Dit was eers baie jare daarna, so sewe, agt jaar gelede dat ek weer eerstehands met die sardiens kennis gemaak het. Teen daardie tyd was ek lank reeds ’n inwoner van Shelly Beach, en dar het ’n hele paar jaar verbygegaan sonder dat die sardiens opgedaag het. Ongelukkig was die ervaring op die strand by Ramsgate baie negatief. My ervaring was nie so genotvol soos destyds nie. Die manier waarop die beroepsvissermanne lede van die publiek wat van die vissies wou bekom, soms ongeskik en selfs met dreigende houdings weggekeer het, was vir my teleurstellend, soos dit was vir veral die kinders wat by die vissies wou uitkom. Hul pret is totaal bederf deur die vissermanne wat soveel as moontlik van die sardiens vir hulself wou hê. Die vissies is tog moeder natuur se geskenk aan almal, veral aan kinders. Ek het nie vanjaar die voorreg gehad om op ’n strand by die vangste te wees nie, maar hoop die publiek het nie deesdae soortgelyke ervarings nie.
KZN se haairaad het vanjaar, soos gebruiklik wanneer daar sardiens is, nette en veiligheidstoerusting verwyder. Die hoofrede waarom die raad die nette moet verwyder wanneer die sardiens opdaag, is om te verhoed dat die haaie wat die klein vissies jaag daarin verstrengel raak. Die verwydering van die nette is uiters noodsaaklik, soos die volgende syfers toon: Tussen 1978 en 1987 is gemiddeld 356 haaie per jaar in die nette suid van Durban vasgevang.
In die dekade 1988-1997 het hierdie getal gedaal tot ’n gemiddeld van 228, en in die volgende tien jaar tot 50. Die nadeel is egter dat daar nie beskerming vir die baaiers is nie, en sommige strande verbied dan enigiemand om die see binne te gaan. Van die strande volg egter ’n beleid van ‘diskresionêre baaiery’, en rig kennisgewings op wat aandui dat die haainette verwyder is, maar dat mense self kan besluit of hulle die risiko wil loop.
Ewenwel, wanneer ’n mens daarin slaag om wel ’n emmer vissies bymekaar te maak, is dit nogal ’n ervaring. Die groot probleem is egter, indien jy nie ’n hengelaar ken wat hulle as aas kan gebruik nie, wat doen jy dan met hulle? As ’n kind het ek en my ouers verskeie kere met ’n klomp sardiens gesit, en dan probeer om hulle gaar te maak. Nodeloos om te verklaar, dit was ’n ramp, want die vissies is glad nie lekker indien jy nie weet wat jy doen en sekere stappe volg nie. Gelukkig het ’n Indiërvrou tydens my restaurantjare ’n resep gegee wat sy gereeld gevolg het en wat die vissies in ’n smaaklike dis omskep het.
Hier is hy, indien iemand belangstel:
Drie medium knoffelhuisies, fyn gemaal, sowat een dessertlepel.
’n Kwart koppie baie goeie olyfolie, en ’n kwart koppie vars sap van twee suurlemoene.
Een teelepel gerookte of Spaanse paprika, ’n halwe teelepel vol vars gemaalde swart peper, een ontpitte groen ‘chili’, of meer na smaak, dalk ’n rooie, twee kg vars sardiens, hulle moet vars wees, skoongemaak, sonder binnegoed met die skubbe afgeskraap, verkieslik fyn seesout, twee dessertlepels vars-gekapte pietersielie en suurlemoenskyfies vir opdiening.
Kombineer die knoffel, olyfolie, suurlemoensap, ‘chili’ en swart peper in ’n klein skottel en meng goed.
Pak die sardiens in ’n enkelllaag in ’n vlak bakskottel en giet die marinade oor die vis.
Draai die vissies om om te verseker dat hulle eweredig bedek word, en maak seker die marinade bereik ook die maagholte van elke vissie.
Marineer vir 30 tot 60 minute.
Berei ’n goeie houtskoolvuur voor, en wanneer die kole wit is, maak seker die rooster is goed warm.
’n Weber -braai met direkte hitte is ideaal hiervoor.
Smeer die rooster met olyfolie.
Plaas die vissies op die baie warm rooster sodat hulle goed en vinnig braai, vir twee tot drie minute.
Draai die vissies om en braai ook tot krakerrig op die ander kant, en behoorlik gaar, vir nog sowat twee minute.
Verplaas die sardiens na ’n groot bord en gooi sout en die pietersielie oor.
Bedien met die suurlemoenskyfies. Die geheim is ’n warm vuur sodat die vissies se vel bros gebraai word.
Bon appetit!
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page


