Amerika: Bly ons of gly ons? Dis die vraag
Tientalle Afrikaners het by die Amerikaanse ambassade aansoek om vlugtelingstatus gedoen.
Die betrekkinge tussen Suid-Afrike en Amerika was die afgelope maande om verskeie redes in die nuus. Onder meer weens president Ramaphosa se veelbesproke besoek, en die verskillende interpretasies vn die betekenis daarvan. Een van die grootste bron van meningsverskille was die uitnodiging van president Trump aan Afrikaners om hulle in Amerika te vestig en te ontsnap aan die ‘volksmoord’ wat in Suid-Afrika gepleeg word, en waarvan blankes, in die besonder Afrikaners, die slagoffers sou wees.
Tientalle Afrikaners het by die Amerikaanse ambassade aansoek om vlugtelingstatus gedoen. Die eerste groep van 49 het reeds op 11 Mei vertrek, en ‘n tweede, heelwat kleiner groepie het verlede week in Atlanta, Georgia, geland.. Die Amerikaanse ambassade in Pretoria sê talle Afrikaners sal in die nabye toekoms hul weg na Amerika vind. ‘Amerika se arms bly oop vir Afrikanervlugtelinge’, het die woordvoerder verklaar, ‘ons ontvang nog steeds ’n stroom aansoeke en is besig om kwalifiserende individue te identifiseer wat aan spesifieke vereistes moet voldoen. Hulle moet Suid-Afrikaanse burgers en van Afrikaner-etnisiteit wees, en hulle moet voorbeelde kan noem van vervolging, of kan motiveer waarom hulle toekomstige vervolging vrees’.
’n Woordvoerder vir die ‘vlugtelinge’, Katia Beeden van die Amerikaners.com organisasie sê sowat 8-duisend Suid-Afrikaners behoort binne die volgende paar maande in Amerika gevestig te word.. Besonderhede word stil gehou om senssasie te vermy. ’n Derde groep sal binne die volgende paar dae vertrek Dit het my opnuut laat dink of die Pretoriusse, indien hulle baie jonger was, die pad Amerika toe sou gevat het. Ná ‘n volle vyf minute het ek besluit, selfs al was ek vyftig jaar jonger en verseker van ‘n werk, as joernalis, sou ek dit nie gedoen het nie. My redes is vervat in ’n skryfsel van Dana Snyman, daardie wonderlike Afrikaanse woordsmit, waarmee ek heelhartig saamstem, maar nooit so goed sou kon verwoord nie. Die opskrif is ’MY SUID-AFRIKA’:
“Dis nie dat ek iets het teen die mense, Afrikaners, wat nou weg is Amerika toe as politieke vlugtelinge nie. Dis hul keuse. Daar staan hulle op ’n foto in die koerant, 49 van hulle, elkeen met ’n Amerikaanse vlaggie in die hand. Een kêrel met ’n rooi oom Paul-baard se hand rus op ’n seun se skouer. Dit lyk of die kind sy skool se sweetpakbaadjie aan het. Een vrou dra ’n kamoefleerbaadjie, die seuntjie by haar ook. Dit is nie vreemd om ’n gewone iemand in kamoefleerdrag hier by ons in die straat of ’n inkopiesentrum te sien nie. Of iemand met ’n pistool of ’n rewolwer. Drag wat eintlik op ’n slagveld hoort. Is dit omdat ons land stadig besig is om te militariseer? Hoe moet daardie mense op die foto voel. Dalk is daar van hulle se mense vermoor. Dalk is van hulle deur skurke in hul huis oorval en beroof. Tussen hulle is ook kinders. Hoe maak jy ’n kind in hierdie land groot? Wat hou my dan in Suid-Afrika? Moet ek nie ook probeer om in Amerika te gaan woon nie?
Ek weet darem nie. Ek het as joernalis al op meer as een plaaswerf gestaan waar mense aangeval en op ’n gruwelike manier gesterf het. By my huis is al ingebreek terwyl ek lê en slaap het. Ek sien die slaggate in die paaie en lees van al die korrupsie. Tog bly ek verknog aan hierdie land. My Suid-Afrika is meer as net ’n woonplek, ’n stuk aarde. My Suid-Afrika het iets te doen met wie ek is. My Suid-Afrika is gee, gee, gee, o, gee jou hart vir Afrikaans, gee jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate. My Suid-Afrika is gewond, dit is in die poeier waarin die vingerafdrukke teen ’n motor of ’n huis se venster klou. My Suid-Afrika dra swaar aan skuld, van knuppels en gewere en Casspirs en, hei, my tatta, gaan woon op ’n aparte plek, gaan swem in ’n ander see. Maar my Suid-Afrika is ook berou en vergifnis. Ek sien die sinkhutte waarin mense woon en die bedelaars by die verkeersligte en wonder: Sal ek hulle nie op ’n manier in die steek laat as ek die land verlaat nie? Ry ek iewers heen, sien ek oral paaie wat reggemaak word. ’n Man wat ’n rooi vlag staan en waai. Pas op, hier word gewerk. Ek sien nuwe winkelsentrums en fabrieke wat gebou word. Ek sien die geil mielielande en sonneblomme wat blom. Ek sien swart en wit saam op pawiljoene sit en rugby kyk. Ek ervaar die goedheid van mense dag na dag. “Pas op, jou skoenveter is los. Jy gaan val,” sê ’n vrou anderdag in ’n winkel vir my.
Derduisende sulke klein dade van omgee en liefde gebeur elke dag hier tussen mense, oor alle grense heen. Nie een kerk in hierdie land het nie een of ander liefdadigheidsprojek aan die gang nie. My Suid-Afrika dwing my om ’n beter, meer menslike mens te probeer wees, om met genadige oë na almal rondom my te kyk. Ek kyk weer na die foto van daardie vlugtelinge. Die meeste se gesigte is stroef. Dit was ’n lang vlug tot in Amerika, en opeens kom ‘n vae gevoel van hartseer in my los. Dit lyk of hulle op pad na is na ’n begrafnis.”
Weereens, dankie Dana.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
