South Coast Fever

Jake White se kommentaar oor Leinster onvanpas

Hoewel ons die afgelope weke redelik min besoekers gehad het, was daar verlede naweek ’n oplewing met die ekstra vakansiedag. Ons het voordeel getrek uit die slegte weer, want pleks van buite-aktiwiteite het baie van die besoekers kuierplekke soos die Watergat besoek waar dit lekker warm en vroulief se daaglikse ‘specials’ beskikbaar was. Regte egte

Hoewel ons die afgelope weke redelik min besoekers gehad het, was daar verlede naweek ’n oplewing met die ekstra vakansiedag. Ons het voordeel getrek uit die slegte weer, want pleks van buite-aktiwiteite het baie van die besoekers kuierplekke soos die Watergat besoek waar dit lekker warm en vroulief se daaglikse ‘specials’ beskikbaar was. Regte egte dik plaas-groentesop en boerbrood, van dié soort met die donkergebakte ronde broskors en Wollies, soos Oom Pottie die winkel noem, se karringbotter. Die nagereg was dieselfde, varsgebakte brood met heelstuk-appelkooskonfyt. Nogal ’n belewenis teen net R70 per persoon.

Benewens die politieke gebeure in Amerika, waarvoor ons een TV-stel reserveer vir besoekers wat nuus wil kyk, was sport weereens die prioriteit. Daar is nietemin gereeld kommentaar gelewer op die militêre optog in Washington en die betoging van derduisende mense dwarsdeur Amerika teen die optrede van die Trump-regering. Sal sit maar daar laat, want ons het nie hier genoeg ruimte om reg aan al die argumente te laat geskied nie, behalwe om te sê dat Amerika ’n ernstig-verdeelde land en inderwaarheid in ’n soort politieke burgeroorlog gewikkel is. Oom Pottie se kommentaar hierop is eenvoudig: HKGK. Inderdaad. Watch that space.

Wat sport betref, was die Proteas se oorwinning teen Australië in Londen om die toets-wêreldkampioene te word, vir ons ’n groot plesier om te beleef. Heelwat naels is hier afgebyt, maar Aiden Markram, Temba Bavuma en hul spanmaats het die wa deur die drif getrek. Hierdie twee, wat in die verlede om ’n verskeidenheid redes deur leunstoel-kritici verguis en gekritiseer is, het die monde gesnoer met manjifieke vertonings. En Kagiso Rabada wat onlangs nog soms oordrewe kritiek moes verduur oor sy dwelmgebruikstraf, het gewys hy is een van die top-snelboulers ter wêreld, indien nie die beste nie. Suid-Afrika se sportprestasies bring ons mense wat deur die politici verdeel word, telkemale weer bymekaar. Lekker.

Die vals noot was die Bulle se nederlaag teen Leinster. Hulle is eenvoudig platgeloop deur ’n ongelooflik puik en goed-afgerigte span. Was nooit in die spel nie. Wat my nogal teleurgestel het, hoewel ek begrip het vir sy sentimente, was Jake White se kommentaar ná die wedstryd. Onder meer dat hy wens die Bulle het dieselfde gehalte oorsese spelers soos Leinster, en dat die Bulle nie met sulke spelers kan meeding nie.

Dit mag dalk waar wees, maar wat sê hy daarmee aan sy eie spelers? In die openbaar? Nee Jake, noem dit in private gesprekke, ja, en probeer iets daaraan doen. Maar soos jy dit gesê het, klink dit baie na suur druiwe. Het jou eie spelers se spel nie ook baie met die nederlaag te doen nie? En jou afrigting? Wat daarvan? Kyk hoe verskillend het die twee spanne op die veld gedraf. Leinster gemotiveerd en doelgerig. Die lyftaal was perfek. En jou span lusteloos, belangeloos, asof hulle nie eintlik daar wou wees nie. Nee man. Doen selfondersoek.

Ons stout loopstorie, nogal van Ans van Staden van Roodepoort:
’n Blondine doen aansoek by ’n hardewarewinkel en die eienaar vra of sy darem die verskil tussen ’n spyker en ’n paper clip ken.
‘Glad nie,’ antwoord sy, ‘ek is nog nooit gepaperclip nie.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button