South Coast Fever

Beplan Rassie ‘n 8-0 ratio in die ‘bomb squad’?

Die Watergat is die afgelope tyd baie besig met al die binnelanders wat tydens die skoolvakansie hier kuier. Ons het ons goed voorberei vir hierdie seisoen – goeie ‘deals’ met ons drankverskaffers gesluit wat ons in staat stel om klante tydens ons ‘happy hour’ in die middae te lok wanneer hulle van die strande af

Die Watergat is die afgelope tyd baie besig met al die binnelanders wat tydens die skoolvakansie hier kuier. Ons het ons goed voorberei vir hierdie seisoen – goeie ‘deals’ met ons drankverskaffers gesluit wat ons in staat stel om klante tydens ons ‘happy hour’ in die middae te lok wanneer hulle van die strande af kom, en vroulief het met die hulp van ons twee ervare kokke in die kombuis ‘n groot voorraad tradisionele bobotie en boontjiebredie gemaak vir ons spesiale middagete ‘specials’ teen R60 per kop.

Die gesprekke is weereens oorheers deur sport. Die Wimbledonse tennis, Proteakrieket in Zimbabwe, en dan natuurlik, hoe anders, rugby. Springbokrugby. Verlede Saterdag se wedstryd teen die Barbarians was as ‘n wedstryd nie iets om oor huistoe te skryf nie. Die Barbarians het gespeel asof hulle steeds gely het aan hoofpyne na ‘n week se gekuier in Kaapstad, maar dit was ‘n goeie vertoonvenster vir die huidige stand van Springbokrugby. Lood de Jager is terug met mening, Cheslin Kolbe is nog steeds ‘n vlugvoetige towenaar, en Andrê Esterhuizen het getoon hy kan ‘n bielie van ‘n flank wees. Ons was redelik verbaas toe hy laat in die tweede helfte as ‘n lid van die ‘bomb squad’ as kantman in die skrum gesak en hom goed van sy taak gekwyt het. Dit het ons weer laat besef hoe innoverend Rassie Erasmus is. Oom Pottie het daarop gewys hierdie ‘hibriede’ spelers, Kwagga Smith is nog een, kan Rassie dalk in staat stel om met ‘n 8-0 verhouding in sy ‘bomb squad’ toetse tegemoet te gaan. Almal voorspelers, maar met ‘n paar wat ook in die agterlyn kan diens doen. Esterhuizen is groter en vinniger as van ons huidige flanke, en was in sy jonger jare ‘n kantman. Wonder wat wêreldrugby van hierdie Rassie-truuk gaan sê. Ons sien uit na Saterdag se wedstryd teen Italië

In Bulawayo het die Proteas se jongste krieketsensasie, Lhuan-dré ( waar kom hierdie naam vandaan?) Pretorius geskiedenis gemaak deur die jongste Suid-Afrikaner te word ( 19 jaar en 93 dae ) wat ‘n honderdtal ( 147 ) in sy debuuttoets aanteken. Hierdie kêrel is ‘n krieketdiamant wat nog groot hoogtes gaan bereik. Hy sal net sy gewig moet dophou. Dit was ook lekker om goeie vertonings van Wiaan Mulder, ‘n honderdtal en vier paaltjies, en Corbin Bosch, honderdtal, te sien. Mulder het uiteindelik gewys hoe veelsydig hy is. In Amerika het Faf du Plessis in die Major League-krieketkompetisie sy tweede honderdtal in vier wedstryde vir sy span die Texas Super Kings aangeteken. Hy het daarmee die eerste speler in T20-krieket geword wat meer as een hondertal aanteken nadat hy veertig geword het, en spog ook met die meeste honderdtalle ( 3 ), asook die meeste lopies, in die kompetisie vanjaar. Ons het Faf tydens ‘n oefensessie sonder sy hemp gesien, en was verbaas oor sy gespierde, vetlose lyf. Hy is steeds een van die fiksste spelers in wêreldkrieket.

Ons loopstorie is uit Pottie se stoute argief: ‘n Vrou gaan sien ‘n dokter na haar negende baba. ‘Ek weet nie waarom ek so gou swanger word nie. Dit moet iets in die lug wees’. ‘Ja’, kom die antwoord, ‘dis jou bene’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button