Die lief en leed van ons samelewing
Daar is probeer om die gemeentes dood te druk deur teen hulle te diskrimineer.
Ons lewe in ’n samelewing waar mooi stories sirkuleer oor ’n petroljoggie wat ’n vroulike motoris wie se brandstof op is betaal. Daarteenoor is daar ook gruwelike verhale van ’n vrou wat langs haar dogter verkrag word. Dis ’n samelewing waar lief en leed, soet en suur langs mekaar bestaan. Christene is strategies geplaas in sulke tye. God wil ons gebruik om in ons samelewing die kwaad met die goeie te oorwin. Onmiddellik sal daar mense wees wat saamstem met die stelling. Ander weer sal weerstand bied teen die blote idee daarvan. Romeine 12:21 leer dat Christene hulle nie deur die kwaad moet laat oorwin nie, maar die kwaad met die goeie moet oorwin. Hierdie oproep is gerig aan Christene wat onder die bewind van die Romeinse owerhede geleef het tweeduisend jaar gelede. Die openbare mening was sterk teen die bestaan van Christelike gemeentes gekant, anders as wat ons hier in Suid-Afrika beleef. Daar is probeer om die gemeentes dood te druk deur teen hulle te diskrimineer.
Daar was mense wat gemeentelede soveel kwaad aangedoen het, dat hulle gevoel het hier is iets wat vergeld moet word. Paulus noem dat Christene in sulke situasies of kontekste van diskriminasie, die goeie teenoor andere moet uitleef. Dit gaan oor gedrag waardeur die vyand bevoordeel sal word. Dit gaan ook daaroor dat jy nie jou sal laat oorwin deur in die hande van die vyand te speel en self oog vir oog te wil terugbetaal vir wat hulle gedoen het nie. Nee, seën eerder en moet nie vervloek nie. Dis eintlik ’n menslik onmoontlike vereiste, ook in ons land. Daarom is die konteks van die oproep die ontferming van God soos in die lewe en sterwe van Christus Jesus by die kruis en oop graf gesien kan word. Deur Sy dood is daar lewe ook vir God se vyande. Nee, dit beteken nie dat die verkragter nie aan die pen sal ry nie. Dit beteken dat die wraak God toekom. Jou en my taak as Christene is om die petroljoggie waarna verwys word, na te volg deur oases van vrede en goedgesindheid te skep. Wat gaan jou rol hierin wees vandag?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
