South Coast Fever

Ons moet help dat geregtigheid geskied

Almal roep om geregtigheid. Geregtigheid as waarde is die morele beginsel van elke individu wat besluit om te leef deur aan elkeen te gee wat hom toekom. Dat dit nie oral in die samelewing gebeur nie, is duidelik. Ongeregtigheid is dikwels die norm. Om voor te kom en voor te bly in die lewe sal

Almal roep om geregtigheid. Geregtigheid as waarde is die morele beginsel van elke individu wat besluit om te leef deur aan elkeen te gee wat hom toekom. Dat dit nie oral in die samelewing gebeur nie, is duidelik. Ongeregtigheid is dikwels die norm.
Om voor te kom en voor te bly in die lewe sal mense dikwels hul morele beginsels opsy skuif. Ons sien dit in die manier waarop lande mekaar se territoriale integriteit skend. Jy sien dit in die werkplek waar mens soms baantjies vir boeties kry.
Jy sien dit in die land se regering waar die staat nie die mense se reg op veiligheid beskerm nie. Jy sien dit op individuele vlak waar mense mekaar onreg aandoen of vir hulself meer opeis as wat hulle ander gun. Almal roep egter om geregtigheid. Die woorde van Christus in Matteus 5:6 in die Bergrede klink daarom heel aktueel: “Gelukkig is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.”
Die woorde van Jesus aan Sy dissipels herinner ons daaraan dat God die geregtigheid wil. Tussen Hom en ons en tussen mense onderling. God wil nie die ongeregtigheid wat daar in die wêreld is nie.
Daarom het Hy Sy Seun gestuur, nie net om dit te kom aankondig nie, maar ook om die eise van geregtigheid te kom vervul deur aan die kruis op Golgota die onreg van die wêreld op Hom te neem.
Dit is die honger en die dors wat Hy aan die kruis gedra het. Daarom kan Hy aan ons die water bied waarna ons nooit weer dors sal kry nie. Hy waarborg dat ons hunkering en smagting en honger verby sal gaan en dat Sy koninkryk van geregtigheid sal kom. In navolging van die groot Regverdige kan ons as Sy volgelinge nie siender oë blind en horend doof wees vir onreg in ons midde nie.
Ons kan nie ons skouers ophaal en net jammer kry nie. Ons weet daar kom ’n dag dat onreg sal verdwyn en die leeu en die lam sal saam wei. Daarom ril ons by die gedagte aan ongeregtigheid en sit ons skouer aan die wiel om waar ons kan, geregtigheid te laat geskied.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button