South Coast Fever

Die Sharks se treurmare versprei na ander spanne

Die Sharks se treurmare versprei na ander spanne

’n Redelik stillerige tydperk het op ons neergedaal, die weer is heel aangenaam, maar ons maak ons gereed vir die winderigheid en reën wat waarskynlik nie ver in die toekoms in is nie. Ek gaan vandeesweek maar weer op die sportgeselsies konsentreer, en weereens die swaarmoedigheid ignoreer oor dit wat in ons land en in die buiteland, veral Amerika, aan die gang is. Ook die klagtes wat weer hier geopper is oor die swak diens van die Ugu-munisipaliteit ivm. watervoorsiening, veral in die Leisure Bay- en Port Edward-omgewing. Hier was mense wat lafenis kom soek het want hulle het 14 dae laas water gehad, en geen tenkwaens nie. Is dit hoe ons gaan voortploeter? Hoe lank doen ons dit nie reeds nie?

Toe hierdie rubriek geskryf is, was die tweede T20-krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië nog aan die gang, met die nederlaag Sondag nog steeds in die geheue. ’n Wedstryd wat ons netsowel kon gewen het, maar myns insiens deur ’n gebrek aan ervaring by sleutelspelers laat glip is. Die 19-jarige Pretorius-kêrel met die fênsie naam is ’n krieket-diamant met ’n wonderlike toekoms voor hom, maar hy sal baie vinnig moet leer om in die boonste liga meer oordeel met sy houe aan die dag te lê. Wanneer jy ’n bal doelbewus luglangs dryf, moet jy hom so hard as jy kan foeter om hom oor die grens te kry. So nie, staan ’n veldwerker vir hom en wag. Soos in die tweede wedstryd weer gebeur het. Gelukkig is hy misgevang. Tristan Stubbs en Dewald Brevis is die ander twee jong diamante wat nog groot oomblikke gaan beleef, maar meer selektief met hul houe moet wees. Ewenwel, hulle het teen ’n baie goeie span gespeel, en in hierdie formaat kan enigiets eintlik gebeur, afhangend van wie ’n bietjie ekstra geluk aan hul kant het.

Ivm. met die rugbywedstryde het hier iets redelik uniek gebeur. Die meerderheid van ons besoekers tydens wedstryde is uiteraard Sharks-ondersteuners, maar daar is altyd ’n klompie Bulle-, WP/Stormers- en Lions-aanhangers. Wat gebeur toe die naweek? Saterdag verloor die eerste drie groepe se spanne, en Sondag die Lions teen die ander vier ‘mindere’ unies in die Curriebekerreeks. En watter geween en gekners van tande was dit nie. Ons Sharks het reeds die beker afgeskryf, dieselfde met die WP-mense, maar die Bulle en Lions-manne was voor die naweek oortuig daarvan die eindstryd sou tussen hul spanne wees. Ek ook. En nou? Daai ander vier speel kookwater-rugby. Interessante vooruitsigte. Ons sien uit na Saterdag se wedstryd teen die Australiërs op Ellispark.
Ná hul indrukwekkende vertonings teen die Britse Leeus kan ons nie oorgerus wees nie. Hoop Rassie weet steeds wat hy doen met Siya Kolisi op agtsteman. Van die gesprekke oor die wedstryd was ivm. Rassie se klaarblyklike onwilligheid om Evan Roos as agsteman te kies. Ook Manie Libbok op losskakel is druk bespreek. Kom ons kyk wat gebeur Saterdag.

Ons loopstorie kom uit Pottie se argief: ’n Blommeverkoopster vra ’n man of hy nie blomme wil koop vir die vrou vir wie hy lief is nie. ‘Dit sal nie reg wees nie, nee dankie,’ antwoord hy. ‘Maar waarom nie?’ ‘Omdat ek ’n getroude man is’.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button