Is jy die draer van goeie nuus?
Hoe kan die Here my ooit gebruik in Sy diens? Ek is nie waardig nie. Soms voel mens so oor jouself as kind van die Here. Jy dink jy moet een of ander kursus volg om diensbaar in God se koninkryk te wees. Jy moet dalk ’n posisie in die kerk beklee. Jy dink nie
Hoe kan die Here my ooit gebruik in Sy diens? Ek is nie waardig nie. Soms voel mens so oor jouself as kind van die Here. Jy dink jy moet een of ander kursus volg om diensbaar in God se koninkryk te wees. Jy moet dalk ’n posisie in die kerk beklee. Jy dink nie dat jou lewe enige verskil maak nie.
Miskien sal die verhaal van die skaapwagters aan wie die blye nuus van Jesus se geboorte aangekondig is, jou troos. Die skaapwagters was nie gerekende mense van daardie tyd nie. Daar is deur die godsdienstige leiers op hulle neergesien. God gebruik juis mense wat onwaardig is en beklee hulle met waardigheid. Dalk beleef jy dit dat mens ook op jou neerkyk. Hoe ook al, God besluit volgens Lukas om skaapwagters as van sy eerste getuies te gebruik.
Wonderlik om daaraan te dink dat juis skaapwagters die eerste getuies is van Jesus se geboorte, Hy wat die Lam van God is wat die sondes van die wêreld wegneem. Dis ’n goeie boodskap wat spesifiek aan hulle gebring word en wat vir die hele volk bestem was. (Lukas 2:8-20) en let op, hulle hou nie die goeie nuus vir hulself nie. Hulle vertel dit oor, al was hulle aanvanklik bang. Die goeie nuus verdryf vrees en angs uit hul en ons lewens.
In die stad van Dawid is die Verlosser gebore, Christus die Here. Alle eer aan God en vrede op aarde vir die mense in wie God ’n welbehae het. Die las van sonde, skuld en skaamte val van die skouers af van elkeen wat hierdie goeie nuus hul eie maak. Daardie vrede het Jesus Sy lewe aan die kruis gekos.. Jesus is Verlosser, Gesalfde en Here. Hy kom mense van hul sondes verlos en word soos ons, wel sonder sonde.
Hy is die een wat lank gelede beloof was, Hy is Here. Hy is God. Sulke goeie nuus dat God vrede tussen ons en Hom herstel deur Jesus se geboorte, lewe, sterwe en opstanding, moet oorgedra en geleef word in ons alledaagse kontak en gesprekke met ander, soos die herders van weleer gedoen het. Wees vandag ’n draer van goeie nuus.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
