South Coast Fever

Van groef tot graf?

Jesus stel hierdie man vry, soos Hy alle mense wat in die greep is van iets wat sterker as hulle is vrymaak.

Ons is almal vertroud met die gesegde dat die verskil tussen ’n groef en die graf net die verskil in diepte is. Jy is in ’n groef in jou denke as jy nie meer oop is vir oortuiging en om dinge vanuit ’n vars perspektief te sien nie. Jy is in ‘n groef in jou verhouding as julle nie meer hartsake deel nie, maar vassteek in gesprekke oor die wind en die weer. Jy is in ’n groef as jy nie meer verwag dat God deur jou nog dinge kan doen wat lewens kan verander nie.

Ja, en uiteindelik is jy in ’n groef as jy nie meer groei in jou verhouding met die Here nie, maar net glo in jou eie oortuigings. Dit was min of meer die probleem in Matteus 9:32-34. Jesus genees ’n stom man wat in die mag van bose geeste was. Stomheid is ’n fisiese gebrek. In hierdie geval in ons teks was die stomheid deur bose geeste veroorsaak.

Jesus stel hierdie man vry, soos Hy alle mense wat in die greep is van iets wat sterker as hulle is vrymaak. Dit lei daartoe dat die gewone man op straat met verwondering gevul is oor God se ontferming. Die kerkleiers van Jesus se dag reken egter dit was omdat Jesus in diens van die duiwel self was.

Wat gaan hier aan? Die kerkleiers was nie oop vir oortuiging nie. Hulle het hulself in die groef van hul eie gemaksone bevind. Hulle was vasgeketting aan die verlede. God het net op een manier gewerk en dit was op hul manier. Alles wat nuut was of aanpassing gevra het, was ‘n bedreiging vir hulle, daarom ook Jesus se bediening. Hulle was nie bereid om te erken dat hulle verkeerd was nie.

Is u oop om God om u en in u eie lewe aan die werk te sien en daarvoor te vertrou? Wees dan bereid om u vooropgestelde idees aan toetsing te onderwerp. Staan op uit die groef voor jy in die graf val!

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button